Pitbull-aanval: ‘Dis nie die eerste keer’

*Waarskuwing: Hierdie berig bevat ontstellende besonderhede en grafiese inhoud wat nie geskik is vir sensitiewe lesers of kinders nie. 

Dupuo Kokolosi (links) by haar dogter, Patricia Modise. (Foto: Verskaf)

Dit is glo nie die eerste keer wat ʼn huishulp van Potchefstroom deur haar werkgewer se drie pitbulls aangeval is nie.

Volgens Dupuo Kokolosi (47) se dogter het Chandré van der Linde se drie honde haar ma verlede jaar aan die arm gebyt en ook al aan haar voete. Sy het nou nog die merk aan haar arm.

“My ma was bang vir daai honde. Ek het baie keer vir haar gesê sy moet bedank en na die kinders kyk, dan sal ek werk soek, maar sy wou op haar eie voete staan. Dis wie my ma is,” vertel Patricia Modise (31).

Sy is verlede week wéér deur die einste honde aangeval en erg vermink.

Dupuo Kokolosi (47) is erg vermink nadat sy deur drie pitbulls verskeur is. (Foto: Verskaf)

Kokolosi se bolip en groot dele van haar neus en ore is tydens die voorval by haar werkgewer se huis in Potchefstroom afgeskeur en haar linkeroog is ernstig beseer. Daar is ook stukke vleis uit haar been geruk. ʼn Buurman wat Kokolosi te hulp gesnel het, het die honde op die toneel doodgeskiet.

Sy word tans in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg behandel.

“Ek dink nie my kinders gaan my ma herken wanneer hulle haar weer sien nie,” sê Modise.

“Dis verskriklik om my ma so te sien. Ons was albei baie hartseer en het gehuil. Sy het my getroos en gesê sy gaan oukei wees. My ma is ‘n baie sterk vrou.”

Modise het haar ma Saterdag in dié hospitaal besoek, maar kon nie Maandag terugkeer nie aangesien sy nie geld het om van Potchefstroom na Johannesburg te reis nie.

Sy woon in Bloemhof in Noordwes waar sy somtyds as ʼn groenteplukker op plase werk, maar het sedert die aanval na Potchefstroom teruggekeer om na haar kinders, Bokamoso (13) en Rebaone (11) Modise, om te sien. Dié kinders woon voltyds by Kokolosi, hul ouma, in Ikageng aangesien sy die enigste broodwinner in die gesin is.

Die drie pitbulls wat Dupuo Kokolosi verlede week verskeur het. Die honde is deur ’n buurman op die toneel doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

“Ons is al drie van my ma afhanklik. Ek weet nie wat ons nou gaan doen nie.”

Modise sê haar ma sal verskeie operasies moet ondergaan, maar dat sy dink sy selfs daarna steeds onherkenbaar sal wees.

“Ek is kwaad oor wat gebeur het. Baie kwaad. My ma het dit nie verdien nie.”

Modise sê sy kan nie in dié stadium ʼn prokureur bekostig nie, maar is besig om te kyk of iemand haar met regstappe kan help.

“My eerste prioriteit is egter om vir my ma die mediese hulp te kry wat sy nodig het.”

Maroela Media het Van der Linde se prokureur gekontak en wag nog op terugvoer. Die terugvoer sal gepubliseer word sodra Maroela Media dit ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

45 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Hoe verskriklik moes dit nie gewees het nie. My hart gaan uit na die vrou en haar pad na herstel. Alle sterkte en hoop julle kry die nodige hulp.

Marcello

Sy het nie geld nodig om ‘n Prok. te sien nie, sy kwalifiseer vir Regshulp by “Legal Aid”.

Grens

Dit is amper elke keer die pitbul honde, maar nou gaan almal weer vir my se, nie hulle sin, en dis hoe jy hom grootmaak. Daai honde is gevaarlik met mense, en jy moet maar jou versekering in orde kry as jy van hulle het, want dit gaan jou baie kos as hulle iemand beseer.

Maritza

Laat die eienaar opdok. As die honde vroeer agresief was moes sy hulle toe gesluit hou as die huishulp kom werk het. Dit was baie onverantwoordelik van hulle. As sy ‘n gewete het sal sy self hulp aanbied. Gebede gaan uit na die vrou se spoedige herstel. Ongelukkig sal haar lewe nooit weer normaal wees nie

Swerwer

Sterkte Dupuo Kokolosi met jou pad na herstel, ook vir jou kinders vir hul ondersteuning en liefde.