Pitbull herstel goed ná tieners ore afsny

Cooper (Foto: Verskaf)

Cooper, ʼn eenjarige pitbull-reun, sterk goed aan nadat twee tieners van Mitchells Plain digby Kaapstad sy ore wreedaardig met ʼn skêr afgesny het. Die tieners, onderskeidelik 19 en 17 jaar oud, het toe die wonde met vislyn toegewerk, sonder om enige verdowingsmiddels te gebruik.

Die 17-jarige tiener se niggie en ook Cooper se oorspronklike eienaar, het hom as jong hondjie vir haar neef gegee. Sy het gedink hy sal beter vir die hond kan sorg. Sy het Cooper egter einde Januarie in ʼn beroerde toestand na die Dierewelsynsvereniging se Philippi-tak in Kaapstad gebring nadat sy uitgevind het haar neef en sy vriend het haar vierpotige vriend se ore afgesny.

Mark Levendal, senior inspekteur by die Dierewelsynsvereniging, sê Cooper se kop en ore was met bloed bevlek toe hy by hulle aangekom het. “Dit was duidelik dat sy ore afgesny is,” sê Levendal.

Allan Perrins, woordvoerder van die Dierewelsynsvereniging, sê die tieners het vrywillig beëdigde verklarings afgelê waarin hulle hul misdaad erken. Perrins sê hulle wou Cooper “kwaaier” laat lyk.

Sivuyile Kilwa help Cooper met sy rehabilitasie (Foto: Verskaf)

“Omdat Cooper nie aggressief voorkom nie, wou hulle hom meer soos ʼn gangster laat lyk. Ons vermoed ook hulle wou hom vir hondegevegte gebruik,” sê Perrins.

Perrins sê die twee tieners se gebrek aan deernis is ontstellend.

Die Dierewelsynsvereniging het ʼn saak by die Mitchells Plain-polisiestasie aanhangig gemaak en die twee tieners is amptelik van dieremishandeling aangekla. Die Dierewelsynsvereniging gaan die hof versoek om die twee swaar te straf en ook te verbied om ooit weer enige troeteldiere aan te hou.

Intussen reageer Cooper goed op sy behandeling en word hy by die dag sterker. Ten spyte van die letsels is sy gehoor nie beskadig nie.

“Cooper is die liefdevolste en sagste dier en sal nooit ʼn kwaai hond wees nie. Dit is slegs ʼn wonderwerk dat hy hierdie gruwelike verminking oorleef het,” sê Perrins.

Cooper sal eersdaags aangeneem kan word. Indien enigiemand weet van ʼn liefdevolle huis vir Cooper, bel Christine Leonard by 021 692 2626.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marizka ·

Ek hoop regtig daai twee tieners kry wat hulle verdien! Dit is hartverskeurend!

madels ·

Ek hoop regtig dat hul swaar getraf sal word. Ek kan nie glo n 19 jarige word nog n tiener genoem nie. n 19 jarige in my oe is n volwasse persoon met n volwasse redenasie maar lyk my hierdie twee het heeltemal geen waarde sisteem of ordentlike redenasie of enige menslikheid nog in hulle nie…. Ek dink iemand wat so iets doen soos die twee moet eintlik dieselfde aan hulle gedoen word wat hulle aan hierdie arme dier gedoen het, dat hul lewenslank na hulself in die spieel moet kyk en herinner word aan hul gruwelike dade….

Oujongvrou ·

Kan geen empatie by sulke vieslike wreedaards verwag nie. Dit is nie meer tieners nie, lankal nie meer nie. Mens kry tieners van 25 en dan kry jy wrede grootmense van 10. Dis hoe dit is.

Miskruier ·

Deernis…..weet mense in dié land nog wat dit beteken?

Sarel ·

Nie met gebrek aan deernis nie maar gebrek aan enige verstand. Waar kry die mense sulke idees. Eers ‘n hond se bene wat geebreek word en nou hond se ore. Het hy hulle gebyt dan was dit weer die jondcse skuld. Mask van die twee ‘n OS.

Berna ·

Besef niemand dat reeksmoordenaars begin by dieremishandeling en verminking nie? Sien niemand dit raak nie? Is dit maar die norm om dit mis te kyk?

Antjiepat ·

Liewe genade… wat gaan met die tieners aan?? Of moet ek liewers vra hoe is hierdie kinders groot gemaak?? Eers breek 1 tienerseun ‘n hond se been af om te kyk hoe sterk hyself is nou sny hierdie 2 tieners ‘n hond se ore af… gee ons nie meer opvoeding vir ons kinders nie of wat?? Wat het van respek vir mens en dier geword?

Antjiepat ·

Nee asb hou hierdie “tieners” asb weg van enige diere in die toekoms. Die DBV kan gerus ‘n “oortreders” blad stig met al hierdie mishandelaars se foto’s op dan kan almal sommer hul afskuwelike gesiggies sien

VanAfrika ·

Hierdie keer moes die pittbull bloed in die hond uitgekom het en hulle gebyt het dat die bloed loop, almal maak pittbulle uit as wrede honde, hoekom nie die een ook nie. Dit sal hierdie wetters n les leer om n onskuldige weerlose dier so seer te maak en te vermink.

Van nou af sal ek nie enige een glo wat sê dat pittbulle gevaarlik is nie, as enige pittbull n problem het dan blameer ek die eienaar en mense wat die honde terg en mishandel as die problem.

Leana ·

Ek mag nie sê wat ek wil sê nie, maar gee hulle vir my dat ek hul ore afsny want die goed is in elk geval net ornamente.

Kim ·

N groot deel van die mensdom het geen respek vir God se handewerk nie. Diere wat hy geskape het vir ons om oor teheers , die verniel , mishandel en misbruik ons. Dan verstaan mens hoekom daar n ding soos Coronavirus is. God se manier om ons te wys hy heers nog steeds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.