Pitbull met pepersproei gespuit, toegesluit tydens huisbraak

Lilly is met pepersproei gespuit en in ‘n kamer toegemaak, terwyl boewe die huis geplunder het. (Foto: verskaf)

ʼn Pitbull wat in Desember haar vir altyd-huis gekry het, het die naweek nóg ʼn beproewing oorleef toe boosdoeners haar tydens ʼn huisbraak in Port Elizabeth met pepersproei getakel het – vermoedelik om haar buite aksie te stel.

Riaan Visser sê Lilly is verwese in ʼn kamer aangetref, nadat die gesin Sondagaand van die kerk teruggekeer het. Die glasvoordeur het oopgestaan en was stukkend.

Visser is in die huis in en het besef bykans elke vertrek is geplunder en deursoek.

Die gesin het na Lilly begin roep en haar uiteindelik saggies hoor tjank. Sy was toegemaak in die kamer vol pepersproei, maar minstens nie andersins beseer nie, het Visser gesê.

“Dit lyk of hulle haar letterlik in haar gesig en op haar pels met die pepersproei gespuit het,” het Visser gesê.

Die booswigte het klaarblyklik ʼn gat in die dak gemaak om só in die huis te kom. Die alarm was volgens die veiligheidsmaatskappy op hulle stelsel steeds geaktiveer, hoewel al die drade uit die beheerpaneel geruk is, het Visser gesê.

“Ek dank die Here, dit kon so anders gewees het. Ek sien God se hand hierin. Alles [wat gesteel is] was verseker, dis nie ʼn groot verlies nie, dis net ongerieflik.

“Ons is net dankbaar almal – en ons hond – is veilig,” het Visser gesê.

Die gesin se twee kinders, ʼn 17-jarige meisie en ʼn 11-jarige seun, is erg getraumatiseer en is onder meer bang die diewe kom terug. Hulle wil nie in dié stadium in hulle eie kamers slaap nie en voel dat hulle privaatheid deur die inbraak geskend is.

Visser het gesê sy dogter het vroeër die week boonop gesê sy hoor stemme, asof daar iemand op die dak is. Hy en Lilly het buite gaan ondersoek instel, maar kon niks vind nie.

Die liefdevolle Lilly is intussen ondersoek en het ʼn deeglike was gekry. “Ek sien ʼn verandering in haar gedrag, sy is meer aggressief met mense wat sy nie ken nie en dis nie gewoonlik haar aard nie,” het Visser gesê.

“Sy is nie gewoonlik kwaai nie, maar sy is baie wakker met mense wat sy nie ken nie.”

“Sy is nou 100%. Ek dank die Here hulle het haar nie seerder gemaak nie,” het Visser gesê.

Lilly. (Foto: verskaf)

Hy het gesê mense wat dink pitbull-honde is monsters, is gewoonlik oningelig. Lilly bly boonop binne-in die huis wanneer die gesin nie tuis is nie, juis weens vrese dat sy dalk gesteel kan word en by hondegevegte kan beland.

Lilly kry hopelik ook binnekort ʼn nuwe pitbull-maat by. Die gesin sou vandag nóg ʼn aanneemhond gaan ontmoet en as Lilly die nuwe toevoeging tot die gesin aanvaar, gaan hulle nog ʼn pitbull ryker wees.

Die inbrekers is weg met verskeie elektroniese toebehore, asook die vleis in die yskas. ʼn Motor wat op die perseel gestaan het – en waarvan die sleutel in die huis gehang het – was onaangeraak.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ʼn huisbraaksaak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Diertjie ·

So bly julle en Lilly is ok. Ons het ook n pittie dis waar mense het regtig n wanpresepsie oor pitties hulle het sulke mooi persoonlikheid????

Gert ·

Ek sal dit geniet om enige persoon wat n dier mishandel, self beet te kry. Vir my sal dit aangenaam wees maar nie vir hom/haar nie!!

Jimbo ·

Ek stem Gert ek stem.
Ek sal ‘n hele paar goed spuit wat nie hier genoem kan word nie.

Miekie ·

wanneer die booswigte gevang word moet hulle heel eerste vir dieremishandeling gevonnis word, vir baaaaaaaaaaaiiiiiiiiiiieeeeeeeeee lank , dan kan die ander aanklagte kom

Ed ·

Die hond is Baie meer werd en kosbaar as enige van die bekende inbrekers

Pittie liefhebber ·

So bly Lilly is ongedeerd en die gesin. Dankie dat julle nie alle Pittbull honde as monsters sien nie. So bly Lilly gaan ñ maaitjie kry. Pittbull honde is eintlik vreeslik liefdevol en sag van geaardheid.

Nig 'n Pittie liefhebber ·

Ons het ook 2 Pitties en het presies dieselfde ondervinding in terme van hulle saggeaarheid en liefdevolheid en is 100 % absoluut deel van ons gesin en nes kinders in die huis! Regte huishonde!

Saint ·

Maroela, Dit was uiters onverantwoordelik om te rapporteer oor die gebruik van peper sproei.
Julle het so een van die vernaamste meganisme om die publiek te beskerm teen boosdoeners onherstelbaar beskadig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.