‘Plaas Eskom ook in sakeredding’

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Die vakverbond Fedusa sê hy verwerp die voorstel om miljarde rande van Eskom se skuld aan die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) oor te dra en vra nou dat die sukkelde kragvoorsiener eerder in sakeredding geplaas moet word.

Dít volg nadat Cosatu onlangs ʼn plan voorgestel het om Eskom uit sy finansiële verknorsing te help. Dié plan behels dat die OBK R245 miljard van Eskom se skuld moet oorneem. Dit beteken dat werkers in die staatsdiens se pensioen as reddingsboei vir Eskom aangebied moet word.

Fedusa het Maandag gesê sy leierskap het vergader oor die huidige krisis waarin Eskom en ander ondernemings in staatsbesit tans verkeer. Daar is op dié vergadering ooreengekom dat voorstelle om Eskom uit sy verknorsing te probeer red nie “ten koste van die werkers” kan wees nie.

“Fedusa kan nie die idee ondersteun dat daar voortdurend geld in ʼn swart gat gegooi word nie aangesien die onvolhoubare skuldvlakke by Eskom die entiteit tegnies insolvent gemaak het. Fedusa verwerp die voorstel,” sê die vakverbond.

Volgens Fedusa het die pensioenfonds vir staatsamptenare, wie se geld deur die OBK bestuur word, reeds ongeveer R85 miljard in Eskom ingestoot.

Fedusa stel voor dat die regering effekte uitreik om geld in te samel om Eskom se skuldlas te verlig.

“ʼn Voorvereiste vir dié aanbeveling is egter die fundamentele herstrukturering van die kragvoorsiener se sakemodel insluitend sakeredding om dit volhoubaar te maak. Fedusa herhaal voorts sy beroep dat Eskom in sakeredding geplaas word om te verseker dat daar behoorlik omgeswaai kan word, soos die proses wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens tans ondergaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Sakeredding is die enigste uitweg aangesien die staat nie van die 16000 oortollige werkers wil ontslae raak nie. Ek wonder ook hoeveel werkers is bevoeg om hulle werk te doen.

Strandloper

Sakeredding mag werk omrede die swart gat waar die geld heen verdwyn.

Gato

Hoe lekker lag ek nou in my mou vir die “swart gat” aanhaling.
Nogal ironies.

Pampoen

Die oplossing is nie meer geld nie, maar minder mors, kleiner salarisse, minder bonusse, minder tenderpreneurs, minder sous op die soustrein, minder politiek, minder gratis elektrisiteit, minder parasiete minder Guptas, meer vaardigheid, meer kennis, meer ervaring. Dis so maklik – wat sukkel julle so?

Leon

laat die unies hulle biljoene rande ‘n bietjie in ESKOM instort aangesien hulle so agter hulle werkers kyk.
As die pensoenfonds se geld ingaan sal dit soos Tranet wees en die staatsamptenare sal op die ou einde r20 per maand pensioen kry.
Kom Cosato wys wat in jou steek en skenk van jou biljoene.