ʼn Dag ná ʼn verwoestende brand in die Kammanassie-berge in die George-omgewing uitgebreek het, is dit grootliks in bedwang gebring.
Volgens die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het brandbestryders van die munisipaliteit, Working on Fire (WoF) en Cape Nature teen Donderdag 18:45 die oostelike en suidelike dele van die veldbrand in bedwang gebring. Dít ten spyte van ʼn suidwestelike wind wat opgesteek het.
Die brandbestrydingspan kon ook verhoed dat die brand na ʼn plaas in die berge versprei. Die span het Woensdag alles in sy vermoë gedoen om die verspreiding van die brand na dié private eiendom te verhoed.
Die munisipaliteit het in ʼn verklaring gesê die span sal tot Vrydagoggend opruimingswerk rondom die plaas doen.
“Die westelike deel van die veldbrand word nie as ʼn bedreiging beskou nie, want dit is in ʼn bergagtige gebied ver van infrastruktuur af. Monitering van hierdie deel van die veldbrand sal voortgaan,” lui die verklaring.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Geen beserings of skade aan infrastruktuur is tot dusver aangemeld nie.