Plaas tweede keer in een week geteiken

(Argieffoto)

ʼn Gesin is Dinsdag op ʼn plaas in die Franklin-omgewing in KwaZulu-Natal vir ʼn tweede keer binne die bestek van een week beroof. Die polisie kon die rowers egter tydens die tweede rooftog in hul spore stuit en in hegtenis neem.

Die rowers het verlede Woensdag die eerste keer op die plaas, Newlands, toegeslaan. Volgens Shaheen Suleiman, direkteur van die private veiligheidsmaatskappy Magma Security, het die rowers hulle as polisiebeamptes voorgedoen.

“Die rowers het voorgegee hulle is polisiebeamptes wat ʼn saak van geldwassery ondersoek,” sê Suleiman.

“Hulle (die verdagtes) het die gesin aangerand, geld geëis en twee vuurwapens gebuit, waarna hul gevlug het.”

Die rowers het Dinsdag omstreeks 18:30 teruggekeer na die plaas en die gesin weer probeer beroof. Volgens lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, is daar vasgestel dat die groep rowers dieselfde verdagtes is wat die vorige week ook op die plaas toegeslaan het.

“Die boer het hierdie keer daarin geslaag om betyds hulp te ontbied voordat die rowers iets kon buit,” sê Gwala.

By polisiebeamptes en lede van Magma Security se aankoms op die plaas het die rowers verskeie skote op hulle afgevuur en daarna in verskillende rigtings laat spat. Van die verdagtes het in die rigting van Kokstad gevlug en ander na Harding. Niemand is tydens die skietery beseer nie.

Paaie in die omgewing is afgesper, waarna die ses verdagtes vasgetrek is.

“’n Voertuig is deursoek en ’n polisie-reflektorbaadjie, 58 patrone en vier ongelisensieerde vuurwapens waaronder twee jaggewere en twee pistole, is gekonfiskeer. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in die pleeg van ʼn misdaad gebruik is.”

Die verdagtes, tussen 40 en 42 jaar oud, sal Donderdag in die landdroshof op Kokstad verskyn op aanklag van poging tot moord, poging tot roof en die nabootsing van ʼn polisiebeampte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Sekerlik is dit voordoen as ‘n polisie beampte want ek het al mense gesien wat polisie naboots maar hulle was gewoonlik onder die prop en baie snaaks maar ek glo nie dit is ‘n oortreding om dit te doen nie.

Piet ·

Laat ek die obvious antwoord. Dit IS ‘n oortreding om jouself as ‘n polisiebeampte voor te doen.

Aggie ·

Natuurlik is dit ‘n misdaad om polisie-uniforms te gebruik !

Di ·

Ja gedink hulle sal nooit gevang word nie – Mens se sondes haal jou een of ander tyd in. Hierdie SKUIM hoort agter tralies vir BAIE lank. Wel gedaan aan die mense wat hulle kon vang en verhoed dat nog ‘n voorval plaasvind

Dup ·

Misdaad het ñ nasionale sport in SA geword en dit terwyl ons armsalige regering dit steeds ontken.

Frank ·

Ek sien gereeld mense op straat wat hulle as polisiebeamptes voordoen. Nou die dag by ‘n polisiestasie in Potties net so ‘n klomp gesien. Selfde stasie het mos so tyd gelede tenders uitgestuur sodat privaat sekuriteit die stasie kan beskerm. Weet egter wat daarvan geword het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.