Plaasaanval: Boer kyk in eie haelgeweer se loop vas, veiligheidsknip red sy lewe

Jan en Elize Bonnema ná hul aanval. Foto: Verskaf

Jan en Elize Bonnema. Foto: Verskaf

Jan (62) en Elize (61) Bonnema van die Levubu-omgewing, naby Louis Trichardt in Limpopo, is Maandagaand deur twee mans met klapmusse in hul huis oorval en onder meer met ʼn panga aangeval.

Jan het Woensdag aan Maroela Media gesê sy broer wat op ʼn aangrensende plaas bly, het by hulle kom eet en is omstreeks 20:30 huis toe.

“Ek het saam met hom uitgestap om hom af te sien. Toe hy ry, is ek terug na die huis. Ek was skaars binne en wou die veiligheidshek agter my sluit, toe die twee mans skielik by die veiligheidshek gestaan het,” het Jan gesê.

Jan het probeer om die hek toe te ruk. ʼn Man, wat met ʼn panga gewapen was, het Jan op sy linkerhand gekap en dit oopgekloof. Die verdagtes het die hek oopgepluk en toegang tot die huis gekry.

“Ek haal elke aand my haelgeweer uit die kluis uit en hou dit naby waar ons TV kyk. Toe die twee mans in die huis inkom, het ek dadelik probeer om my haelgeweer in die hande te kry.”

Die ander verdagte was met ʼn pyp gewapen en het Jan oor sy kop geslaan dat hy “sterretjies sien”.

“Ek het begin duiselig word, maar net vir myself gesê ek mag nie nou flou word nie.”

Jan het met een van die aanvallers in ʼn stoeiery betrokke geraak en is in die proses drie keer met die panga oor sy kop gekap. Elize het intussen die haelgeweer gegryp waarna die verdagte met die pyp haar aangerand en die vuurwapen afgeneem het.

“Terwyl ek en die man met die panga op die grond gestoei het, het die ander man my haelgeweer op my gerig. Hy het gelukkig nie geweet hoe om die veiligheidsknip af te haal nie. Elize het intussen ons rewolwer in die hande gekry. Ek haal dit ook in die aande uit en Elize hou dit by haar.”

Die verdagte met die pyp het Elize weer aangerand en die rewolwer ook afgeneem.

Jan het gesê iets het gebeur wat die verdagtes afgeskrik het, want kort daarna het hulle met die egpaar se twee vuurwapens weggehardloop, sonder om iets anders te buit.

“Ons het in daardie stadium Super Rugby op televisie gekyk en ek neem aan hulle het skielik mansstemme gehoor en gedink hier is nog mense,” het hy bygevoeg.

Volgens Jan was die aanval binne twee minute verby. “Dit het alles so vinnig gebeur. Ek het dadelik die deur gaan sluit toe hulle uit is en my jaggeweer in die kluis gaan haal. Ek het twee waarskuwingskote in die lug gevuur, sodat hulle weet ek is gewapen en dat hulle nie moet terugkom nie.”

Die egpaar het hulp ontbied en die gebied se plaaswag, polisie en ʼn veiligheidsmaatskappy was kort daarna op die toneel.

Die egpaar is met verskeie beserings na ʼn hospitaal op Louis Trichard gehaas waar hul wonde versorg is en albei steke moes kry. Hulle is Dinsdag ontslaan.

“Ons is darem nou op-gestich en dit gaan bo verwagting goed. Ons dank die Vader dat ons dit oorleef het,” het Jan gesê.

Jan woon sedert sy geboorte in die gebied en het in 2005 by die huis ingetrek waar hy en sy vrou aangeval is. Dit is die eerste keer wat hy aangeval is. Hy is vol lof vir die polisie, die plotwag en die gemeenskap wat hulle sedert die aanval ondersteun. Die egpaar is terug by hul huis en word deur omliggende familie bygestaan.

Na verneem word, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jan Stapskoen ·

Ek is regtig bly die mense is het die aanval oorleef, dit moes baie traumaties gewees het. Ek wonder wel oor die omstandighede dat die dame nie die haelgeweer of die rewolwer kon skiet nie. Was sy bang om haar man te tref , was sy onvertroud met die wapens, was die aanvallers te vinnig? Sonder om die slagoffers enigsins te kritiseer, ek dink die voorval beklemtoon dat om bloot ‘n vuurwapen te hê nie genoeg is nie – ‘n mens moet gereeld oefen en realisties oefen om jouself ‘n beter kans te gee.

Madeleen van den Berg ·

Ek wil net graag lig werp op die vuurwapen-kwessie. Die dame wat aangeval is, het intense weermagopleiding gehad in vuurwapenhantering. Sy is glad nie skrikkerig om ‘n vuurwapen te hanteer as sy moet nie. Sy is eenvoudig oorrompel en oor die kop gekap voor sy die wapen kon gebruik. Die hele insident het in ‘n kwessie van net meer as ‘n minuut gebeur. In so ‘n kort oomblik kan mens net soveel doen. In jou kop kan jy allerhande planne en strategieë bedink oor hoe jy so ‘n situasie sal hanteer, maar as die werklikheid jou tref is dit nie meer so maklik of eenvoudig nie.

Illa ·

Die Amerikaners het ‘n groot heldeverering vir hul soldate en ek het erkentelik al gewonder hoekom. As hul ‘n familielid het in die weermag, word vlae uitgehang om te wys dat hul ‘n geliefde in die oorlog het en word selfs die familie van soldate met eer en respek behandel.

Mense wat nog in Suid-Afrika bereid is om ‘n boerdery te bedryf en op ‘n plaas te bly, stel daagliks hul lewens in gevaar en ontvang weinig tot geen erkenning of bewys van dank van hul mede landsburgers (wie die vrugte pluk van hul arbeid en risiko) nie. Inteendeel, hul word dikwels op sosiale platforms soos hierdie gekritisseer oor die wyse waarop hul ‘n aanval hanteer het!

Ons as Suid-Afrikaners skuld hul egter in my beskeie opinie respek, dank en soveel meer as wat ons hul tans gee. Ek wil dus hiermee sê dat ek elke boer/boerin in die spervuur respekteer en wil hul graag bedank daarvoor dat hul hul veiligheid op die spel plaas om my gesin se voedselsekuriteit te verseker (te probeer in elkgeval). Hul betaal ‘n duur prys vir my gesin se voortbestaan.

Hannelie ·

Illa! Ek stem 100% saam! Die minste wat ons kan doen is om waardering te toon teenoor boere en hulle gesinne wat op plase bly!

iemand ·

So bly oom Jan en juffrou Bonnema is okay. Die aanval het almal weer op hol hier, veral die slagoffers van vorige aanvalle…

fanus ·

Baie dankie llla. Sterkte vir die familie wat aangerand is.

Winston ·

Sterkte. Julle het die aanval oorleef. Wees paraat. Hulle hou ons doen en late vir lang periodes dop en slaan dan toe. Dankie vir jou kommentaar Illa!

Slagoffer ·

Ek wil net vandag vir mense se wat nog nie in so situasie was nie, weet julle watse vrees daar deur mens gaan as jy’n deur oopmaak en skielik vaskyk teen jou aanvallers wat gewapen is? En as daar op jou familie geskiet word en jy word aangehou met ‘n vuurwapen? Geen mens kan ooit daai magtelose gevoel van vrees aan iemand anders verduidelik nie. Geen opleiding kan mens dan help nie. Aan die egpaar wat daardeur is sterkte vir julle. Ons dank die Vader dat julle die aanval oorleef het.

Jan Stapskoen ·

Illa, ek verstaan hoe jy voel, maar my perspektief is meer proaktief – Hierdie mense het baie dinge reg gedoen en tog is hulle gelukkig om te oorleef het. Niks wat ek of jy hier sê kan dit ongedaan maak nie, maar as daar lesse te leer is moet on sensistief dog krities daarna kyk sodat ons beter kan voorberei vir die volgende aanval.

Baie Suid Afrikaners spandeer hope geld en tyd aan vuurwapens vir selfvedediging, as daar iets kort in ons voorbereidings sal ek eder hier gevoelens seermaak as om nie van iets te weet wat dalk in die toekoms ‘n lewe kan red nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.