Plaasaanval in Ugie: Geen antwoord by polisie ná aanval

telefoonKort nadat ʼn boervrou aanvallers met haar man se vuurwapen verjaag het ná ʼn plaasaanval in Ugie naby Maclear in die Oos-Kaap, moes sy sukkel om die polisie in die hande te kry en boonop daarna stry om nie in hegtenis geneem te word nie.

Sherwin Ewers, die vrou se dogter, het Vrydag aan Maroela Media verduidelik wat Woensdagaand by haar ouers se huis gebeur het. Haar pa Kenny, en sussie Chenelle, is tydens die aanval geskiet en gewond.

“My ma Felicity, pa en suster was Woensdagaand omstreeks 19:45 in my ma-hulle se slaapkamer, besig om televisie te kyk,” het Ewers gesê. “Drie mans het eers die veiligheidshek se slot oopgeskiet en daarna die deur oopgeskop. My pa het die lawaai gehoor en sy vuurwapen gegryp. My sussie het die kamer se deur toe gemaak en daarteen gestaan sodat hulle nie toegang tot die kamer kon kry nie.”

Terwyl die drie aanvallers in die huis was, het hulle op die gesin geskree en geld geëis. Een van die mans het lukraak deur die toe deur geskiet en Chenelle in haar bors gewond. Kenny is ook in die proses in die been getref. “My pa het toe vir my ma gesê: ‘Fili, vat die geweer en skiet hulle’.” Felicity het vier skote gevuur waarvan een koeël een van die verdagtes getref het. Die verdagtes het Chenelle se selfoon gegryp en van die toneel gevlug.

“My ma het daarna die Maclear-polisiestasie gebel, maar niemand het die foon beantwoord nie,” het Ewers gesê. “Sy het my ook gebel, en ek het van Ugie na hul plaas gejaag. Toe ek daar aankom was die polisie nog steeds nie daar nie. Ek het ook die stasie probeer bel, maar kon ook nie antwoord kry nie. Gelukkig het ek ʼn familielid wat ʼn beampte by die stasie is, en deur hom kon ons uiteindelik daarin slaag om die polisie te ontbied.”

Ewers het gesê die polisie het later beswaar aangeteken omdat Felicity haar man se vuurwapen hanteer het, en dit het vir haar geklink asof hulle haar ma in hegtenis wou neem. “Ek het die beampte gevra wat die probleem is, my pa het my ma toestemming gegee om sy vuurwapen te gebruik en sy het dit uit selfverdediging gedoen.”  Sy is glo eers gelos nadat daar met regstappe gedreig is. Die beampte het daarna op Kenny se vuurwapen aangedring sodat dit in hul ondersoek gebruik kan word.

Kenny en Chenelle sterk in die hospitaal in Maclear aan. Felicity bly saam met Ewers in die dorp, aangesien hulle voel die plaas is nie veilig vir haar nie. “Ons vermoed een van die aanvallers is ʼn werker op die plaas, want net een van die drie het ʼn klapmus aangehad. My sussie sê ook sy het sy stem herken.”

Ao. Vuyani Mapolisa het Donderdag aan Sapa gesê niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie. Hy het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en poging tot moord.

Maroela Media het navraag by die Oos-Kaapse polisie gedoen oor die beweringe teen die Maclear-polisiestasie. Kol. Sibongile Soci het aan Maroela Media gesê hulle sal die voorval ondersoek waarna hulle sal kommentaar lewer.

Lees ook:
Plaasaanval in Ugie: Polisie wou ma glo arresteer
Plaasaanval in Ugie: Pa en dogter geskiet; ma verjaag rowers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veronica Deacon ·

Mens wil skaam voel om ‘n burger van hierdie land te wees. Die regering faal sy landsburgers in elke opsig. Ek is dankbaar dit is nie meer as saak van huisbraak nie, maar van die begin af poging tot moord, oftewel, moord, sou die boervrou nie geslaag het daarin om hulle te beskerm met daardie skote nie. My hart gaan uit na die 3 gesinslede en mag pa en dogter spoedig herstel.

Lanie ·

Die sinnelose kommentaar is ‘n mors van tyd want nooit lewer hulle weer “kommentaar” om te se wat die uitslag v d ondersoek was nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.