Plaasaanval in Vryheid: Een dood, vyf vas

boeie 5Een man is dood, en vyf is in hegtenis geneem ná ʼn plaasaanval Dinsdag naby Vryheid in KwaZulu-Natal.

Kol. Jay Naicker, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ses verdagtes het vermoedelik Maandagaand die 29-jarige boer op sy plaas ingewag. Die boer het nie die aand by sy plaashuis oorgeslaap nie, en die aanvallers het sy werkers aangehou.

“Een van die werkers kon daarin slaag om te ontsnap en het hulp ontbied,” het Naicker gesê. “Die Vryheid-polisie en plaaslike buurtwag het reageer en die mans op die plaas in die Calvertz-omgewing, oorweldig.”

Naicker sê een van die verdagtes is dood tydens ‘n oor-en-weer-skietery en een van die verdagtes is beseer. “Die ander vier verdagtes het probeer vlug, maar is met behulp van die Vryheid-polisie se honde-eenheid aangekeer en in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Die gewonde man is onder polisie-bewaking na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

Die polisie het beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens. “Die vuurwapens sal vir ballistiese toeste gestuur word om te bepaal of dit tydens ander misdade gebruik is,” het Naicker bygevoeg.

Eugene van Aswegen, ʼn veiligheidsverteenwoordiger van AfriForum in KwaZulu-Natal, het aan Maroela Media gesê die voorval was moontlik ʼn wraakaanval. “Daar was verlede week veediefstal op die boer se plaas,” het Van Aswegen gesê. “Die boer het ʼn ondersoek van stapel gestuur en een van die verdagtes het daarna vermoedelik dié wraakaanval gereël. As die boer nie Maandagaand in die dorp oornag het nie, was hy moontlik in sy huis oorval.”

Die verdagtes is tussen 20 en 45 jaar oud. Hulle moet binnekort in die Vryheid-landdroshof verskyn.
Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof, poging tot moord en doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kay-Lee ·

Moontlik in sy huis oorval en vermoor. Welgedaan aan die Vryheid SAPD manne.

Theresa ·

Net so jammer dat almal nie doodgeskiet is nie. In polisiebewaking (dalk ontsnap hulle nog), hofverskyning, gaan gou-gou tronk te vir ‘n lekker rustyd. Kom uit en doen dieselfde. HUH !!

Babs ·

Hulle wou nie koffie drink saam met die boer. Doen aan hulle wat hulle aan hom wou doen. Niemand hoef daarvan te weet.

Frik ·

Goeie werk deur die polisie. Kom ons hoop die regstelsel doen hulle deel

Lood ·

Ek wonder maar net of die deursnee blanke in hierdie land besef wat aan die gang is. Ons wat boere is wat die menigte van voedsel voorsien word afgemaai en van ons grond verdryf teen die spoed van lig. Die soetsappige vrywillige verkoper snert skep n wanindruk. Boere verkoop hulle grond omdat misdaad en moord dit onmoontlik maak om voort te gaan. N boer se grond is sy als hoekom sal mens die werk en lewe wat jou liefde en passie is verriul vir geld. Verkoop of sterf n grusame dood!!!!! Dit is die realiteit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.