Plaasaanval in Vrystaat afgeweer

Argieffoto

ʼn Plaasaanval is na bewering Sondagaand naby Marquard in die Vrystaat afgeweer toe ʼn vrou ʼn skoot op ʼn verdagte afgevuur het wat deur ʼn venster toegang tot die huis wou verkry.

Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus in die Vrystaat, het gesê die voorval het net na 22:00 op die plaas Wildebeeslaagte gebeur.

Volgens Van Niekerk het die Pilcher-egpaar wakker geword van geluide buite die slaapkamervenster. “ʼn Venster is gebreek en mev. Pilcher het ʼn skoot in die rigting van hul slaapkamervenster afgevuur toe hulle merk dat iemand besig was om daar in te klim. Die aanvallers het gevlug,” het hy gesê.

“Danksy die Pilchers se paraatheid en vinnige optrede kon hulle die aanval afweer. Dit is uiters belangrik vir alle Suid-Afrikaners en veral die boeregemeenskap om hulself weerbaar te maak teen sulke aanvalle.”

Van Niekerk het gesê hy is dankbaar dat die Pilchers ongedeerd is, maar betreur die feit dat hulle deur booswigte geteiken is.

Dié voorval is een van minstens drie voorvalle van misdaad wat sedert gisteraand in landelike gebiede plaasgevind het. ʼn Bejaarde man is dood nadat hy Maandagoggend in die Vryheid-omgewing in KwaZulu-Natal verskeie kere met ʼn mes gesteek is.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is nog ʼn persoon in die hospitaal opgeneem nadat hy Sondagnag op ʼn plaas in die Klapmuts-omgewing aangeval en met ʼn voorwerp oor die kop geslaan is.

Die Vrystaatse polisie het Maandag aan Maroela Media bevestig inligting wat op sosiale media versprei word dat ʼn boer in die Deneysville-omgewing in die Vrystaat tydens ʼn plaasaanval doodgeskiet is, is onwaar. ʼn Man het wel gesterf nadat hy tydens ʼn huisbraak op die dorp verskeie kere geskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elsa ·

die aanvallers luister nie en verstaan nie, hul sal almal vasgetrek word want hul dade sal boemerang…ons sal aanhou bid vir Suid Afrika totdat booswigte self uitgeroei word …dankbaar gesin kon optree

Kobus Swanepoel ·

Ons moet net aanhou bid by God is niks onmoontlik nie !! Amen en Amen !!!

O aarde ·

Daar is toe wel laasnag ‘n boer by Ficksburg vermoor. Kan julle bietjie opvolg op die berig? Dankie.

Leahim ·

Dit is hoe plaasaanvalle gestop gaan word deur paraat te wees en terug te baklei hierdie aanvallers moet weet dat hulle gaan pak kry hulle is in elkgeval n klomp lafaards wat ou mense aanval en ook net as dit donker is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.