Plaasaanval in Vrystaat: ‘Hy het soos besetene baklei’

Pieter de Klerk en Marlene Smit (Foto verskaf)

ʼn Vrystaatse paartjie wat op hulle plaas naby Vredefort in die Vrystaat aangeval is, het onophoudelik baklei toe ses aanvallers hulle Vrydagaand tuis oorrompel het.

Marlene Smit (60) en haar lewensmaat, Pieter de Klerk (62), het kort ná 20:00 op die plaas Van der Waltsrus tuisgekom nadat hulle hul werkers afgelaai het, toe ʼn groep van ses mans hulle by die voertuig bestorm het.

Drie van die mans, almal gewapen, het hulle vuurwapens op De Klerk gerig, het Smit gesê. ʼn Vierde een, óók gewapen, het na Smit se kant van die voertuig beweeg. Sy het haar arm opgetel en haar kop probeer wegruk, waarna die aanvaller op haar losgebrand het. Sy is deur haar regtergewrig geskiet.

“Ek is op my knieë by die kar uit en het my vuurwapen in die hande gekry. Ek het ʼn skoot afgetrek en op die grond neergeval waar ek in ʼn plas bloed gelê en gemaak het of ek dood is,” het sy bygevoeg.

Van die aanvallers het Smit se wapen en handsak gegryp en is vermoedelik saam met hulle makkers agter De Klerk in die huis in.

De Klerk het van die motorhuis tot by die kombuisdeur met van die aanvallers gestoei en kon minstens kort-kort ʼn ent wegkom. “Hy het soos ʼn besetene baklei,” het Smit vertel.

De Klerk is uiteindelik tot in die slaapkamer waar hy sy eie vuurwapen in die hande gekry het, maar nie voordat die aanvallers ook op hóm losgebrand het en hom skrams aan die linkerkant van die slaap gewond het nie.

Die aanvallers het in dié stadium klaarblyklik besluit om die aftog te blaas en te vlug. Hulle het uiteindelik nét Smit se handsak en wapen gebuit.

“Ek het hom (De Klerk) op die trappie gesien staan en ek was so bitter dankbaar dat hy leef. Dit was ʼn wonderwerk. Hy het soos ʼn held geveg. Hy het nie omgegee wat met hom gebeur nie, hy het net baklei. Hy was ongewapen teen drie gewapende mans,” het Smit uit die Mediclinic in Potchefstroom, waar sy steeds behandel word, gesê.

Sy moes onder meer ʼn operasie aan haar gewrig ondergaan nadat die skoot van haar senuwees en tendons beskadig het.

De Klerk is gister ontslaan.

Bure en familielede het hulle blitsig na die toneel gehaas nadat ʼn noodboodskap oor die voorval uitgestuur is. “Ek wil bitter graag baie dankie sê vir al die bure almal wat bereid was om ons te kom help,” het Smit bygevoeg.

Talle mense het hulle ook sedert die aanval in die hospitaal kom ondersteun.

Die paartjie maak beeste groot op die plaas vir ʼn voerkraal.

“Jy glo niks gaan gebeur nie, tot dit gebeur. ʼn Mens is baie banger nou as wat jy voorheen sou gewees het, maar ons gaan aan met ons lewens. Ons gaan nie van die plaas af nie. Ons gaan versigtiger wees, maar die emosionele trauma waardeur jy gaan, kan jy nie aan iemand beskryf nie,” het Smit verduidelik.

“Ek glo die Here het Sy hand oor ons gehou. Dit was net Sy genade dat ons oorleef het.

“Ons moet teruggaan na die plek waar dit gebeur het en ek klink dalk nou sterk, maar jy sal nie weet wat gebeur of hoe jy voel wanneer jy terugkeer nie.”

Const. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie volg alle leidrade op, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Dapper, dit is in ons bloed!

Michael P

Dapper my maat .Wag tot die boer regtig begin terug slaan dan sien jy hoe spat daai lafaards.

Hennie

Groot respek vir jou! Ons moet fisies terugbaklei!

Rene Hanekom

Pieter en Marlene, ons is so dankbaar, so bitter dankbaar dat julle terug baklei het en lewe. Ons hoop dat julle herstel volledig sal wees, alle sterkte.

Mariaan

Wapen moet by jou wees!! Boere asb word wakker!