Plaasaanval naby Nelspruit: Aanvaller doodgeskiet

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

ʼn Bejaarde paar en hul seun is Sondagoggend vroeg op hul plaas naby Witrivier buite Nelspruit, Mpumalanga, met pangas en ʼn byl aangeval.

Albert Gryvenstein van die organisasie Bossies Community Justice het aan Maroela Media gesê vier verdagtes het na bewering Sondag 02:00 toegang tot hul huis deur ʼn venster verkry. Die verdagtes het die egpaar vermoedelik met ʼn pyl en panga begin kap.

“Die oom het baie seergekry. Ons vermoed hy is met ʼn byl in die gesig gekap. Hy word in die hospitaal behandel,” sê Gryvenstein. Gryvenstein is nie seker hoe oud die paar is nie, maar sê hulle is beslis ouers as 70 jaar.

Die paar se seun het wakker geword terwyl die rowers sy ouers aanval en met een van die aanvallers begin stoei. Hy is in die proses in die been geskiet en die aanvaller is ook raakgeskiet. Gryvenstein sê die polisie het die gewonde aanvaller se liggaam so 300 meter van die toneel gevind.

Waterbergberg Veiligheid het op Facebook gesê dat een van die aanvallers die gewonde aanvaller gesleep het toe hulle ontsnap het.

Die ander verdagtes is nog op vrye voet. Brig. Leonard Hlathi het bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof, poging tot moord en besit van ʼn onwettige vuurwapen.

In nog ʼn voorval het rowers Vrydagoggend by ʼn bejaarde egpaar en hul kleinkinders in Broederstroom, Noordwes, ingebreek. “Rowers het die egpaar en hul kleinkinders met vuurwapens in die slaapkamer aangehou en ʼn televisiestel, drie selfone en klere geroof,” het Romano van der Spuy van die Hartbeespoort-gemeenskapspolisiëringsforum aan die Kormorant gesê.

Niemand is in die proses beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JP ·

Goeie vraag. En die fout in die tweede paragraaf is nog nie reggemaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.