Plaasaanval: Onbekende mans in bakkie laat boere onraad vermoed

Argieffoto: Lorraine Claasen

Toe inwoners van die Burgersdorp-distrik in die Oos-Kaap Maandagmiddag opmerk hoe drie onbekende mans met ʼn plaaslike boer se bakkie in die omgewing rondry, het hulle dadelik onraad vermoed – en hul vermoedens was reg.

Jannie Terburgh (81) is kort daarna aangerand in sy huis op die plaas Alfalfa aangetref. Sy huishulp en drie werkers was in die badkamer van die huis vasgebind.

Kapt. Ursula Roelofse, woordvoerder van die polisie, sê minstens drie aanvallers het omstreeks 11:00 op die plaas toegeslaan en die huishulp en twee tuiniers in die badkamer van die plaashuis vasgebind. Die aanvallers het daarna vir Terburgh ingewag en toe hy saam met nog ʼn werker by die huis aankom, het hulle die twee mans oorval.

“[Terburgh] is aangerand en in die gang vasgebind, terwyl die plaaswerker ook na die badkamer toe geneem is,” sê Roelofse. Die aanvallers het die huis geplunder en verskeie items, insluitend ʼn vuurwapen en ammunisie, geroof. Hulle het daarna in Terburgh se wit Isuzu-bakkie op die vlug geslaan.

Volgens Roelofse het boere van die distrik omstreeks 14:00 opgemerk hoe ʼn onbekende man met twee onbekende passasiers in Terburgh se bakkie rondry. Hulle het dadelik onraad vermoed, die polisie in kennis gestel en die bakkie nagespoor.

“’n Jaagtog het ontstaan en polisiebeamptes kon daarin slaag om die bakkie by die Tembisa-nedersetting voor te keer. Skote is tydens die jaagtog afgevuur. Die polisie kon daarin slaag om een van die verdagtes hier in hegtenis te neem,” sê Roelofse.

ʼn Pistool, ammunisie en ʼn sak met ander gesteelde items is in die bakkie gevind. Intussen het die twee ander verdagtes laat spaander.

Later die middag is die polisie egter deur lede van die gemeenskap in kennis gestel dat ʼn verdagte man met ʼn skietwond vir mense in Tembisa vra vir hulp. Die polisie het hulle vinnig na die toneel gehaas en ʼn tweede verdagte in hegtenis geneem.

Nadat Terburgh se bakkie met die onbekende insittendes opgemerk is, is lede van die gemeenskap na Terburgh se huis waar hulle hom en die werkers vasgebind aangetref het. Terburgh is later na ʼn hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Johandre van Zyl, AfriForum se streekhoof van gemeenskapsveiligheid in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, het aan Maroela Media gesê Terburgh het veral beserings aan sy gesig en arm opgedoen. Na wat verneem word, is sy toestand bestendig.

Roelofse sê die saak is ook by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld vir verdere ondersoek aangesien ʼn verdagte tydens die inhegtenisneming gewond is.

Die verdagtes sal na verwagting vandeesweek in die plaaslike landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marita ·

Die werk van lafaards – hy is 81! Dankie vir die wakker optrede van boere in omgewing

Nita ·

MM en Afriforum. Is dit moontlik om die volgende syfers bymekaar te kry vir die jaar en dit die wye wereld in te stuur. Getal aanvalle op plotte en plase. Aantal persone wat direk en later indirek in hospitale gesterf het weens die aanvalle. Dis seker te veel gevra om die syfer te kry van die honderde mense wat weens beserings tydens aanvalle, in die hospitaal behandeling moes ontvang. Asseblief die wereld moet die kennis kry.

Piet ·

MM plaas dit gereeld Nita. Afriforum en TLU gee stats wat mens kan gebruik.

RG ·

Dis hoe ‘n gemeenskap mekaar ondersteun en saamstaan. Wakker akkers.

Lindtjies ·

Mens kan nie help om te wonder of die huishulp en tuiniers dalk ‘n rol gespeel het nie. Hulle word net vasgebind met geen tekens van aanranding nie maar die 81jarige oom wat weerloos is word aangerand.

Yorinda ·

Dit is presies hoekom ons as mens nie net aan ons eie lewe aandag moet gee nie maar wel aan ons medemens ook. Almal moet mekaar ken en ons moet by mekaar staan, so sal ons hulle almal vastrek. Genoeg is genoeg , Ons is mos nie dom nie man…

Yorinda ·

Ek myself dink daar is iets… hulle wou hom nie dood maak nie, maar wel hom beroof en seermaak so dit eg lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.