Plaasaanval: Rowers eet aandete terwyl hulle slagoffers aanhou

Argieffoto

Argieffoto

Twee aanvallers het hulleself aan ʼn afgetrede egpaar se aandete gehelp, nadat hulle die egpaar Maandagaand in hul plaashuis naby Groot Marico in Noordwes aangehou en aangerand het.

Sarel Pretorius, die veiligheidsverteenwoordiger van Agri Noordwes, het Woensdag aan Maroela Media gesê Colin en Maggie Cooper, albei in hul 60’s, is Maandagaand tussen 18:00 en 19:00 op hul plaas Modderfontein oorval.

“Twee mans het Colin buite die huis ingewag. Hy moes besigheid in Johannesburg gaan doen en het pas by die huis aangekom toe hy oorval is,” het Pretorius gesê. Maggie was alleen in die huis. “Die mans was met messe gewapen. Hulle het Colin in die huis in gedwing, waarna hulle die egpaar vasgebind en aangerand het.”

Die verdagtes het onder andere rekenaars gesteel en in die egpaar se motor van die toneel gevlug. Hul voertuig is omstreeks 00:00 verlate naby Zeerust opgespoor.

Maggie kon eers Dinsdagoggend daarin slaag om haarself te bevry, waarna sy hulp ontbied het.

Albei is beseer en na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.

Die polisie ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Pretorius het die aanval streng veroordeel en gesê aanvallers raak al hoe meer arrogant. Hy het bygevoeg die polisie moet betredingsake met meer erns hanteer, aangesien betreding gewoonlik voor plaasaanvalle plaasvind. “Aanvallers betree plase om inligting te versamel en hul aanvalle te beplan. Betreders word gereeld in hegtenis geneem, maar dit word as ʼn geringe misdaad beskou en die skuldiges is gou weer vry. As die polisie strenger teen betreders optree, kan ons begin om die oorlog teen plaasaanvalle te wen,” het Pretorius gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stoere Boer ·

Is dit nie asof die aanvalle besig is om toe te neem nie? Daagliks is daar nou berigte van ‘n plaas aanval(e). Self in die dorpe word blankes nou aangeval. Ons sal moet wakker skrik want dit is aan die toeneem.

pop ·

Loop te alle tye met n wapen buite, en weet maar ons moet gewoond raak om in tronke te leef. Dis nou as jy wil bly leef. Vergeet van bediendes, as dit moet< daars baie wit kinders wat nie werk kan kry nie, en te dankbaar sal wees vir n werk, verblyf en kos.

jenny botha ·

Asb kry julle feite agtermekaar. Dit is my suster em haar man. Hulle le albei in die Milpark ICU.

Peter Says ·

Jenny, hoop jou familie herstel spoedig. Onthou…ons is omring deur sensasie. Sterkte daar.

Sune van Heerden ·

Dagsê Jenny

Een van ons joernaliste sal dringend met jou in verbinding tree.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.