Plaasaanval-slagoffer vertel van angsnag

Nicci Simpson. Foto: Twitter via @IanCameron123

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die aanval op Nicci Simpson, die vrou wat 10 Maart 2017 op haar plaas in Westonaria op Kalbasfonteinweg naby Fochville in Gauteng aangeval en wreed gemartel is, nie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het aan Maroela Media gesê AfriForum het Simpson Maandag saam met Duitse verslaggewers van die ARD-uitsaaidiens besoek. Volgens hom het Simpson in fyn besonderhede oor die voorval gepraat.

Sy het vertel hoe sy een van die vier aanvallers in die oë gekyk het en vir hom gesê het hy moet mooi na haar oë kyk, want haar oë gaan by hom spook as hy haar vermoor.

“Sy sê sy het in ʼn stadium nadat hulle haar gedreig het dat hulle haar bene met ʼn hoeksnyer gaan afsny begin bid en gesê: ‘Father, I know I have to die sometime, but I didn’t know it would be like this. Please hold my hand.’”

Cameron het gesê Simpson het steeds die bebloede toue en stoel waaraan die aanvallers haar vasgebind en gemartel het in haar huis. Sy bly alleen op die plaas en dra volgens hom ʼn groot blik pepersproei om haar nek en permanent haar pistool in haar handsak.

“Dit is nie volhoubaar nie. Dit het ook nie opgehou nie. As sy in die aand in haar huis loop, dan tart iemand haar met daardie rooi laserliggies,” sê Cameron.

Volgens hom was AfriForum die afgelope ruk gereeld in kontak met oorsese media van onder meer Australië, Amerika, China en Duitsland spesifiek oor die kwessie van plaasmoorde en grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika.

AfriForum het ook vir die oorsese media ʼn grondgryp-toneel gewys en die organisasie het buitelandse verslaggewers saamgeneem op ʼn patrollie waartydens hulle afgekom het op grensdrade wat geknip is en daar slegs ure daarna ʼn plaasaanval plaasgevind het.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar dat die ondersoek nog voortduur.

Cameron sê die polisie het egter vir Simpson gesê die saak is gesluit.

Maroela Media het vroeër berig Simpson se geliefde hond is ook tydens die aanval doodgery. Cameron sê Simpson het Maandag verskriklik gehuil toe sy foto’s van die hond gesien het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het destyds aan Maroela Media gesê hulle het Simpson ná die aanval in ʼn klein plas bloed aangetref. “Die vrou het ernstige beserings aan haar kop opgedoen. Sy het ook ernstige wonde aan albei polse gehad,” het Meiring gesê.

“Daar was verskeie wonde aan haar voete. Ons het onmiddellik met behandeling begin en noodbehandeling toegepas.”

Simpson is daarna na die Mediclinic Vereeninging gehaas.

Die aanval het die middag al plaasgevind, maar Simpson is eers laatmiddag gevind. Sy is by die hek van die plaas aangeval deur twee verdagtes en toe in die huis geneem en gemartel met ʼn elektriese boor.

Die verdagtes het gevlug met die vrou se handwapen en voertuig. Die verlate voertuig is later, slegs een kilometer van die plaas se hek af, opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

GM ·

En dis nou sulke ‘mense’ wat deur die belastingbetaler aan die lewe gehou word in tronke die dag as hul wel gearresteer word. Die oog-vir-‘n-oog-prinsiep sou nogal handig te pas gekom het om misdaad te bekamp. Dis omdat kriminele niks oorkom nie, dat die aanvalle al hoe meer wreedaardig word. Dit terwyl die president en sy ministers lekker veilig slaap elke aand.

Belasting ·

Tog bly ons almal maar net belasting betaal…wie is die lafaards dan? Ek is n lafaard want ek kla netr en doen niks

Alida ·

Wys sommer vir die verslaggewers fotos van die grusame moorde op weerlose mense dat hulle dit oorsee gaan verkondig.

Dafer ·

Gaan ons aanmekaar net berigte van die plaasmoorde ontvang? Hoe kan ons georganiseerd begin om dit hok te slaan?

Vegter ·

Ja wanneer wil ons bymekaar begin staan?
Tot ons niks meer besit nie?

Kaspaas vannie Kaap ·

Ek dink daar is ‘n wanopvatting dat Afrikaners nie wil “saamstaan” nie en daarom sal die probleem van plaasaanvalle nie aangespreek kan word nie. Ek dink egter daar is ‘n sterk gevoel van laertrek onder ons, maar die enigste praktiese oplossing teen die probleem van maklike teikens wees is om geografies by mekaar te woon en basies beurte maak om dag-en-nag wag te staan. En boere kan mos nou nie hul plase net verplaas na Orania of waarookal nie. So ek sien geen oplossing vir die probleem nie. My hart bloei vir boere, maar hoe moet ‘n dorpenaar in die Kaap nou gaan uithelp met ‘n boer in die Noordwes om bietjie wag te staan vir ‘n paar uur per week. Dis wat ek, en ek vermoed baie ander, sou wou doen, maar dis net nie prakties nie weens die groot afstande. Ons woon te ver uitmekaar.

Het iemand anders ‘n oplossing?

Ac ·

Ek hoop die oorsese verslaggewers sien ñ uittreksel van die sogenaamde majoor Mohlala se uitlatings. Dit is SA se weermag wat alle burgers moet beskerm.

theo ·

Ek stem saam, my hart is seer as ek hoor van die wreedaardige aanvalle, ek bly in centurion en werk hier om my familie te onderhou, hoe kan ek help, ek ondersteun afriforum en hoop hulle kan die gevalle aan die klok hang sodat die buiteland kan sien hoe swak die anc n land regeer. Gelukkig my familie wat oorsee bly doen hulle deel om die anc sleg te maak oor hulle diefstal, polisieering , self veryking, omkoop geld ens.

PJC ·

Wat ek nie verstaan nie is dat die vrou sê sy word nog steeds geteister met laser liggies ens. Indien dit die geval is behoort dit mon maklik vir die polisie te wees om sodaniges te vind en te arresteer. Iets klop nie hier nie. As die polisie haar nie kan of wil beskerm nie moet daar tog sekerlik ń familielid of vriend wees wat bereid sal wees om haar te help beskerm.

Keelvol ·

Die doodstraf moet eenvoudig terug gebring word en npaar van di goed moet in di openbaar tereg gestel word net dan miskien sal hierdie dinge afneem.

Ai ·

Hulle sal die doodstraf teen die blankes gebruik. Plaas-aanvalle en moorde word deur die regering goedgekeur.

Andre ·

Dinge is lankal buite beheer en raak by die dag erger. Ek vind die stilswye van die liberaliste baie vreemd, noudat plase, huise en alle ander bates van blankes ook in die gedrang kom. Waar is julle kommentaar/raad/oplossings? Ons wag. Julle het ons in hierdie fiasko laat beland, kry ons nou daaruit.

Abrie Barnard ·

Kan iemand van Maroela Media of Afriforum miskien met my in verbinding tree oor die berig?

Wonder ·

Dit is goed en wel dat Afriforum die lande betrek, gaan hulle van hul weermag manne stuur om ons boere te beskerm? Dit sal baie “nice” wees, aangesien ons land nie ‘n weermag of polisie het nie. – Die polisielede wat nog respek het en trots op hul werk is, is feitlik almal by sielkundiges. (Is daar al berig oor die feite)

bgj van der westhuizen ·

ja die wat haar aan geval het word n mens genoem as jy dit nou eits anders noem dan verskyn jy gou in die hof maar hulle kan maar mense dod maak en aan val en die sapd , weermag en anc regering sal niks doen om trent dit nie hulle weet wie sit agter alles dit is nie misdaat nie dit is beplande oorlog op ander manner teen oor blankes en as jy mooi kyk s alle blankes n tieken alles word gese is misdaat wat gepleeg word

Loffie ·

Dafer.
Dit is nooit te laat nie.
Die vertrouelinge is net YL gesaai.
Baie sterkte aan al die Slagoffers.

Elsabe ·

My man is 3 jaar terug aangeval met ‘n mes gesteek sy goed en bakkie is gevat en vir die dood agter gelaat. tot nou toe is daar NIKS gedoen nie net stil stil doodgeloop. Waar is ons SAP en gereg

Sarel Pretorius ·

Asb mense, wat gebeur met Boere is verskriklik, vir jare reeds word gepleit dat ons georganiseerde landbou organisasies ondersteun om n hegte eenheid te vorm, tog word ondervind dat die versoek om een of ander rede n weerstand ervaar. Besoek u organisasie binne u gebied en sal u verbaas staan dat veiligheid hoog op die agenda is en reeds ver gevorder is. Elkeen van ons kan n positiewe bydrae lewer. Natuurlik bring dit teweeg dat ons n geweldige finansieele uitgawe aangaan bo en behalwe die belasting wat betaal word wat veronderstel is om ons veilig te hou. Die misdadigers vrees nie meer die polisie nie(baie van hulle is self van die misdadigers)daar om moet ons sorg dat hulle die slagoffers begin vrees. Plaasaanvalle is nie die enigste bedreiging vir ons Boere se voort bestaan nie wat ook hanteer moet word. Ons het nie meer die luukse om op ons eie hopie te kraai nie, ONS HET MEKAAR NODIG!!! (Het u al gedink wat die staat se inkomste is uit misdaad om nie eers te praat van werkskepping nie.) Die misdadiger se menseregte en onkoste na arestasie word deur belasting geld gewaarborg terwyl die slagoffer op hom/haar self aangewese is . Om Zuma se woorde aan te haal, HeHeHe , this is a funny country .

Wessie ·

Daar is nie ‘n oplossing vir hierdie wreedaardige aanvalle nie.
Plase is afgeleë en misdadigers word aangehits om enige eiendom te betree.
Plaasbewoners moet hulself maksimaal beveilig…hul werknemers verál en naaste bure moet hul skans en beste vertrouelinge wees.
Méér as dit het ek nie antwoorde nie.

Theresa ·

Liewe hemel, mense! Kyk wat word gedoen – nie die eerste keer nie en dit neem toe! Dit slaan mens se asem weg en laat mens ween. Hoe kan ons ‘hierdie mense help wat die reg het om in hul eiendom te woon maar getreiter word??? Wat kan gedoen word om die moordende martelaars makliker vas te trek???? Privaatheid is een van die aspekte. Moet nie mense maklik vertrou met wat jy het en waar jy dit bêre nie. Mak honde byt bitter seer. Maar wat daarna??? Het al lank terug gevra, is daar nie ‘n strateeg in ons midde wat met ‘n goeie plan vir beveiliging en rampplan navore kan kom nie? Is oortuig daarvan dat ons nog sulke mense het. Help! Ons mense word uitgemoor in ‘n andersoortige oorlog sonder naam.

Meraai ·

Se die K woord en jy sit vir 3jr!!! maar moor die Witboer dan is dit okey!!!!!!!!!!!

Davida Barnard ·

DIE SKRIF IS AAN DIE MUUR. Die wit mense is geteiken en die wat dit nie sien nie, is blind. Die regstelsel gebruik dubbele standaarde wanneer dit by vonnisoplegging kom. Moordenaars kom letterlik met moord weg maar lasteraars word gevonnis. Afhangende van velkleur. Al die onregverdighede maak mens siek en bekommerd. Wie sal vir ons intree ? Net Jesus as ons Hom in opregtheid nader en vra. Hy wag vir ons. ?

Cilla ·

Waarom noem julle waar die plaas is….en dat sy alleen woon? Duidelik sal sy nou nie meer alleen daar kan woon nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.