Plaasaanval: Verdagtes kilometers van plaas vasgetrek

(Argieffoto: Maroela Media)

Twee verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Zeerust-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met ʼn plaasaanval die naweek buite dié dorp.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het Sondagaand toegang tot ʼn egpaar se plaas verkry waarna hulle na bewering die man (66) en vrou (65) oorval en aangerand het.

Die verdagtes het daarna met ʼn skootrekenaar, drie selfone en ander huishoudelike items op die vlug geslaan.

Volgens Mokgwabone is die man gedurende die voorval ernstig beseer. Hy kon egter daarin slaag om alarm te maak by die bure wat die polisie verwittig het. Dié het op hul beurt in samewerking met plaaspatrollies die verdagtes sowat twee kilometer van die plaas in hegtenis geneem.

Die verdagtes was in dié stadium in besit van die slagoffers se selfone. ʼn Voorlopige ondersoek het die polisie na ʼn verlate huis in die omgewing gelei waar hulle die skootrekenaar en ander huishoudelike items, wat gedurende die aanval gebuit is, gevind het.

Die verdagtes, onderskeidelik 44 en 48 jaar oud, sal op aanklagte van poging tot moord en gewapende rooftog in die hof verskyn. Een van die verdagtes was vantevore op ʼn buurplaas werksaam.

Lt.genl. Baile Motswenyane, polisiehoof in Noordwes, het die Zeerust-speurders, die polisie se honde-eenheid asook diegene betrokke by die plaaspatrollies geloof vir die inhegtenisnemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sê-maar-net ·

Veel geluk aan die bure, die plaaspatrollies en die polisie! Elke krimineel wat gevang word, is ‘n krimineel minder in ons strate. Só jammer dat die president nou weer derduisende op ons gaan loslaat. Glo in die gees van versoening!!! OMW!

Mariaan ·

En so gaan dit net aan en aan! N Seisoen v liefde verander in donker Afrika tragedies! Sterkte aan hierdie mense..dit moet angswekkend wees om so aangeval te word…

Stan ·

‘N goeie joernalis sou gesê het of die aanvallers wettige burgers van ons land is of onwetting. 80 % van plaas aanvalle word deur onwettige immigrante gepleeg.

Karin ·

@Stan, het jy vir my n link na jou “feite” toe asseblief? 87% van persentasies word uit die duimgesuig.

Chris ·

More in hof word vrygelaat want dit is soesiale amnestie en ol navraag “ O ons het verkeerd verstaan “ Hier by ons is n senior burger vroeer fie jaar vermoor , die twee is gevang een vrygelaat onder ouers se toesig. Die meeloper se pa is n polisieman en die kry borg en saak word uitgegooi weens sogenaamde swak ondersoek werk .

Chris Ws ·

GEEN melding in die berig dat die vrou in ‘n rolstoel is en telkemale opgetel was en en doelbewus op die vloer laat val was?Ek is verheug hulle is gevang maar spyt hulle is lewendig gevang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.