Plaasaanvalle: Bejaarde oorleef vier dag lange nagmerrie

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Prominente hartchirurg van Johannesburg is verstom dat sy bejaarde swaer ʼn wrede aanval op ʼn Noordwes-plaas oorleef het.

Richard Stofberg (74) woon al geruime tyd alleen op die plaas in die Syferbult-omgewing tussen Magaliesburg en Koster in dié provinsie.

“Die plaas het voorheen aan my behoort, maar toe ek dit verkoop het, het die nuwe eienaar ingestem dat Richard daar kan aanbly. Hy is afgetree en hou hom maar besig met instandhoudingwerk,” het Stofberg se swaer, prof. Rob Kinsley, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Kinsley is ’n hartchirurg by die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg en woon in Sandton saam met sy vrou, Thea, Stofberg se suster.

“Ek was Vrydag besig met opehartchirurgie toe ek die nuus kry dat Richard aangeval is.”

Kinsley het gesê Stofberg kom kuier gereeld oor naweke by hulle in Johannesburg en is Maandag 27 Maart terug na die plaas ná so ʼn kuier.

“Hy is daar deur twee mans ingewag en oorval toe hy by die huis aankom en besig was om inkopies in te dra. Die mans het hul gesigte met klapmusse bedek. Een het ʼn vuurwapen gehad en een ʼn piksteel waarmee hulle Richard in die gesig geslaan het.”

Die aanvallers het Stofberg se arms met draad en sy voete met toue vasgebind waarna hulle hom na sy slaapkamer gesleep het. Hulle het ʼn tou oor ʼn dakbalk gegooi, ʼn (galg)tou om sy nek gesit en hom gemaak staan.

Die aanvallers het die kontant wat hy aan hom gehad het en sy bankkaarte gevat en die kruideniersware in Stofberg se Nissan-bakkie gelaai.

“Hy was vreesbevange. Hy het die heeltyd vir homself gesê om te bly staan want as hy val, sou hy hang. Gelukkig het die aanvallers ʼn halfuur later teruggekeer en die tou om sy nek afgehaal. Hulle het hom gestamp dat hy op sy bed val en met sy bakkie weggery.”

Stofberg het vir vier dae en nagte beseer op sy sy in sy urine op die bed gelê voordat ʼn plaaswerker uiteindelik Vrydagoggend tot sy redding gekom het.

“Hy kon net nie los kom nie. Hy het vir vier dae om hulp geroep, maar die huis is afgeleë en niemand het hom gehoor nie. Gelukkig het die plaaswerker Vrydag daar naby verbygeloop. Richard het met die laaste krag wat hy gehad het om hulp geroep.”

Die werker moes die venster breek om by Stofberg uit te kom aangesien die aanvallers die deure gesluit het. Hy was erg ontwater en vol kneusplekke toe hy gevind is.

Die werker het hulp ontbied en Kinsley van Stofberg se selfoon gebel en van die aanval ingelig.

ʼn Buurman het intussen ʼn ambulans gebel wat Stofberg na ʼn hospitaal in Carletonville aan die Wes-Rand geneem het.

Kinsley het sy swaer die Saterdag na die hospitaal laat oorplaas waar hy praktiseer. Hy het sy wonde behandel en na sy huis in Sandton geneem vir verdere versorging en traumabehandeling.

Stofberg het ʼn groot letsel aan sy gesig en het ʼn skedelfraktuur en snymerke aan sy arms en bene opgedoen.

“Hy sterk goed aan en word deur vriende en familie bygestaan. Dinge gaan beter met hom, maar hy moet nog geestelik herstel. Ons het saam besluit dat hy nie terug gaan plaas toe nie. Hy sal vir ʼn ruk lank hier aanbly waarna ons vir hom ʼn woonstel in die omgewing gaan soek.”

Volgens Kinsley weet hy as mediese dokter nie hoe Stofberg die aanval oorleef het nie. “Maar op ʼn manier het hy oorleef. Ek kan myself nie indink watter marteling dit moet wees om vir vier dae en nagte net daar te lê en wag om dood te gaan nie … wat hy deurgegaan het was suiwer marteling.”

Twee broers van wie die oudste op ʼn aangrensende plaas werk, is reeds in verband met die aanval in hegtenis geneem.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg, het aan Maroela Media gesê Daniël (19) en Thabang Mthembu (18) is Sondagaand by ’n huis van ’n familielid vasgetrek.

“Die polisie het op ’n wenk gereageer nadat iemand Stofberg se bakkie in die Frischgewaagd-township naby Delareyville opgemerk het. Die bakkie en ʼn vuurwapen is tydens hul inhegtenisneming op die perseel gevind,” het Augoustides gesê.

Die twee broers het Maandag in die Atamelang-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en diefstal van ʼn motorvoertuig.

Die saak is uitgestel sodat die verdagtes om borgtog kan aansoek doen. Hulle bly in aanhouding.

  • Stofberg was nie Donderdag beskikbaar om oor sy vier dag lange nagmerrie te praat nie, aangesien hy uitstedig is. Hy is saam met ʼn vriend na Delareyville om sy bakkie te gaan haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Skim ·

O dis weer TIENERS< hulle gaan niks oorkom nie. Loop more op R10 borg uit die hof uit en soek hulle volgende slagoffer. Die kriminele raak al hoe jonger. JAMMER vir die arme man wat so gely het, net bly hy het dit gemaak. BAIE sterkte vorentoe met die fisiese en emosionele herstel.

Boerseun ·

Nou weet jy hoekom hulle minderjariges stuur. Julle al iets weer van Eugene so moordenaars gehoor?

Aria ·

Baie Sterkte!!! Herstel is n lang pad Geestelik maar dit sal alles gou Genees..

Arno ·

Die mense wat mense aanval en doodmaak moet hul toesluit en die sleutel weggooi want as hul uitkom gaan hul dit weer doen sterkte met die oom se gesondheid

Bekommerd ·

Dis baie sad… net baie dankbaar dat die oom niks oorgekom het nie. Die Here is al wat ons uit hierdie gemors kan help…

AL ·

Dankie Christus dat U beskermengele oor hom gewaak het. Dis inderdaad ñ wonderwerk.
Sterkte oom, die bose kan ons liggaam verniel, maar kan en mag nie die oorhand oor ons siel kry nie.

Pop ·

Dankie tog hy het ‘n swaer met ‘n mooi hart. As mens familie het wat omgee sal jy gou herstel. Sterkte julle almal.

apie ·

dis so traumaties dat mense skaars kan herstel en nooit weer dieselfde is nie. sterkte aan die oom, dankbaar sy familie is wonderlike mense

Jolene ·

Ek wens ek kom verstaan? Verduidelik vir my hoe siek, vrot, mens moet wees om dit aan ‘n mens te doen? Veral ‘n bejaarde?
Watse verskoning het hulle??? Kan nie dit op apartheid sit nie! Want hulle was noe eens hier nie!! Hulle, dit maak my mal!!! Kan iand hulle vra wat de hel aan gaan in hulle flippen kop??
Ek is jamner, maar ek wil net vloek!!!

Marisa ·

Dis vreemd om te sê, maar daar is tóg ‘n mate van medemenslikheid betoon toe die wreedaards die tou van die bejaarde se nek afgehaal het en hom op sy bed omgestamp het. As dit nie daarvoor was nie, was hy vandag dood. Mense vra so graag ‘waar was God’ maar in dié geval was Hy vir seker daar. Ek hoop hy kan vir die res van sy lewe in vrede lewe.

Cherokee ·

Miskien nie so vreemd om te sê nie. ‘n Verhoorbeampte sal dit waarskynlik laat geld as versagtemd.

Marga ·

Stem 100 persent saam met jou Marisa…daar was defnitief ‘n groter teenwoordigheid..

CHRISTA ·

Wat my baie bekommer is: As ‘n bejaarde op so ‘n ouderdom iets breek, gaan hulle liggaam ook in skok en baie keer ontwikkel hulle dementia!!! Ek bid dat ons Liewe HERE hom daarteen sal beskerm en hom volkome sal genees – fisies sowel as geestelik!!!

ellen nel ·

Dit is met afgryse wanneer mens hoor dié bejaarde 4dae en nagte daar gelê het!elEk is 72jr en ñ oud verpleegkundige maar ek dank die Vader dat ek nie meer werk nie!! Ek het gehoor daar gaan van pensionarisse gebruik maak om aanslae tehelp stuit….sal waardeer om inligting te bekom daar omtrent?
Mnr Stofberg u is in ons gebede en spoedige beterskap! Baiecsterkte vir jou en die familie
ELLEN NEL(MEV)

Frieda ·

Sterkte aan die oom en sy familie!! Ek wil niks sê van sy aanvallers want dan gaan ek tronk toe!!!

Petrus Botha ·

Nog ń lafhartige aanval op ń weerlose bejaarde. Mag hy volkome herstel.
Marisa, jou kommentaar is onvanpas. Wat van die arme mense regoor die wêreld wat nie so gelukkig was dat god hul uitgehelp het in hul uur van nood nie?

Marga ·

Petrus Botha,,,in die Bybel staan tog “work out your own salvation”

Irene Myburgh ·

Ek wil net weet hoe dit gebeur dat hy vier dae daar le en niemand kom vind uit wat is fout nie. Moes hy nie sy mense bel en net laat weet dat hy veilig aan gekom het nie, net daar sou hul uitvind dat daar fout is.

Goeie werk ·

Goeie werk plaaswerker, almal wat gehelp het en uitstekende werk deur die Polisie, tree vir tree is jul besig om beheer oor te neem. Mag die Vader gee dat hul nie borg kry nie en baie hard gestraf word, geen mens het die reg om oor ‘n ander se lewe en dood te beslis nie. Liewe Oom dit is tyd, tyd vir Ouetehuis, Ouetehuise het woonstelletjies, jy kan nog steeds jou onafhanklike self wees, maar met meer sorg. Vat jou herstel stap vir stap, jy is reeds goed op pad, die feit dat jy kon kalm bly en 4 dae oorleef (geen ander manier kon jy dit doen)sit weer “mind over matter” en gryp die res van jou lewe aan. Ek sien jy is positief – ek like dit – sommer alklaar my eie bakkie gaan haal, beseer of gedhidreer, ek gaan haal my eie bakkie, bravo Oom!

tamboti ·

En se nou die rowers het na ‘n half uur die oom reeds dood aan die tou gevind?
Ek se geen versagting, dit wat hulle gedoen het was erger as die doodskis geval want daar is die man nie beroof nie, of begrawe of alleen en gekis gelos nie, hy is ook nie so erg aangerand nie, en hy was onwettig op die grond waar hierdie oom in sy eie wettige blyplek was. Die doodskis geval moet parrallel vergelyk word met hierdie geval maar met die belangrike verskille soos ek nou genoem het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.