Plaasaanvalle, droogte en grondhervorming oorheers landboudebat

(Foto: Yolandi Kruger)

Die minister van landbou, Thoko Didiza, het Dinsdag in die parlement onomwonde te velde getrek teen plaasaanvalle asook die mishandeling van plaaswerkers.

Didiza het in die Nasionale Raad van Provinsies eindelik terugvoer gegee oor die impak van die koronavirus-grendelstaat op die landbousektor, maar in vraetyd was dit plaasaanvalle, die werk- en lewensomstandighede van plaaswerkers, droogtehulp en grondhervorming wat die gesprek oorheers het.

Didiza het gesê die impak van die grendelstaat op die landbou was kleiner as wat dit kon gewees het, enersyds omdat die meeste landbousektore van die begin af as noodsaaklike dienste verklaar is, en tweedens weens ʼn uitstekende oes in graanproduserende gebiede.

Teen vlak 3 van die grendelstaat was die meeste sektore, behalwe die blom-, katoen- en tabakboerdery en alkoholverwante bedrywe soos die wynbedryf voluit aan die gang, en met die aankondiging van vlak 2 was alle landbousektore voluit aan’t produseer.

Volgens haar is voedselsekerheid is deurgaans gehandhaaf, en so gou moontlik het die regering oorgegaan daarna om handelsbetrekkinge met internasionale vennote weer oop te stel.

Dit het veral beter verloop nadat daarop gefokus is om die land se hawens optimaal te laat funksioneer, wat uitvoer van hoë-inkomsteprodukte soos sitrus net betyds moontlik gemaak het.

Rekords van alle koronavirus-verwante aankope deur die departement van landbou is reeds oorhandig aan die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, en word tans geoudit.

Almal wat voordeel getrek het uit die departementele hulpskemas, asook die besonderhede daarvan, is reeds deur die departement van landbou oorhandig aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, Mandla Mandela.

Die regering het 400 000 gesigsmaskers, 400 000 koekies sanitêre seep en 200 000 materiaalmaskers aangekoop teen ʼn totale koste van R19,879 miljoen, en koepons aan boere versprei om dit vir hulle en hul werkers te bekom.

Van die boere, asook sommige staatsamptenare, het egter die koepons wederregtelik vir kontant verkoop en sal nou strafregtelik vervolg word.

Wat grondhervorming betref het Didiza gesê dit is taamlik opgehou deur die grendelstaat, maar dat grootskaalse oorhandiging van titelaktes vir staatsgrond eersdaags hervat sal word, met goeie vordering wat teen die einde van aanstaande maand meetbaar sal wees.

In vraetyd het Armand Cloete van die VF Plus en Beyers Smit van die DA die minister gepeper met vrae oor plaasaanvalle, terwyl Andrew Arnolds van die EFF wou weet oor die mishandeling en uitsetting van plaaswerkers.

Didiza het gesê die bekamping van plaasaanvalle is vir die regering prioriteit, en dat die voorkoms daarvan hoogs kommerwekkend is. Sy meen dat die landelike veiligheidsplan, wat gedryf word deur haar departement in samewerking met die polisie, landbou-unies en landelike gemeenskappe, ʼn groot verskil aan landelike sekerheid sal maak – vir boere en plaaswerkers.

Wat landelike afsettings betref het Didiza gesê die wette hieroor is gevestig en welbekend, en moet nagekom word.

Die minister het ook haar kommer laat blyk oor die huidige toename in veediefstal.

Willie Aucamp van die DA en Fanie du Toit van die VF Plus het die minister uitgevra oor droogtehulp, veral met dié dat die droogte in dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap en Vrystaat nog nie gebreek is nie.

Didiza sê die grootste probleem met droogtehulp is dat verskeie provinsies nie in staat is om die droogtehulp suksesvol te administreer nie, maar haar departement sal hulle bystaan.

Cloete het die minister ook gevra oor die siening dat 93% van die bevoordeeldes van grondeise geld bo grond verkies. Didiza het gesê dit is veral mense wat in stedelike en dorpsgebiede hul eiendom verloor het wat die geld verkies.

In plekke soos Amalinda (Oos-Londen) en Distrik Ses (Kaapstad) wil sommiges grond hê en ander geldelike vergoeding – elke voorbeeld verskil, het Didiza gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jannie van Niekerk

Dit bly net by praat. Niks word aan plaasaanvalle en plaasmoorde gedoen nie.Plaasaanvalle en moorde word nie GENOEG gekritiseer deur die regering nie. Ek sal hulle eers glo waaneer President Ramaphosa SELF plaasaanvalle veroordeeel. Spesifiek plaasaanvalle en moorde. Nie met die flou verskoning hy veroordeel ALLE moorde nie, hy moet SPESIFIEK sê : Ek , Pres Cyril Ramaphosa, veroordeel en keur PLAASAANVALLE en PLAASMOORDE ten sterkste af. Indien hy slegs sê hy keur Alle moorde af, bewys dit dat hy nie Plaasmoorde wil veroordeel nie.