Plaasaanvalle in Vrystaat styg skerp – VL

Syfers dui daarop dat gemiddeld vyf aanvalle per week in die Vrystaat plaasvind. (Argieffoto: Reint Dykema)

Vrystaat Landbou (VL) het Woensdag gesê dat hy bekommerd is oor die toename in plaasaanvalle en -moorde in dié provinsie. Byna 300 plaasaanvalle en -moorde is volgens VL sedert 2016 in die Vrystaat gepleeg.

In die lig hiervan het die organisasie aangekondig dat hy eersdaags met veiligheidsopleiding in landbougemeenskappe gaan begin.

ʼn Verslag wat deur dié organisasie saamgestel is, wys dat veral jong mense en bejaardes slagoffers van plaasmoorde is, en dat slagoffers in meeste van die aanvalle geskiet of ernstig beseer is.

Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by VL, het 298 plaasaanvalle, wat 37 moorde insluit, tussen 1 April 2016 en 31 Maart 2021 op landbougrond in die Vrystaat plaasgevind. Dit kom neer op ʼn gemiddeld van vyf aanvalle per week. Die meeste hiervan was in die 2020/2021 finansiële jaar.

“Wat kommerwekkend is, is dat die toename tydens die staat van inperking met Covid-19-maatreëls wat gegeld het – met meer sigbaarheid van die polisie en strenger wetstoepassing – voorgekom het.”

In ’n verslag wat deur Buys saamgestel is, lig sy uit dat vroue, kinders en bejaardes ’n groot gedeelte van die aantal slagoffers uitmaak.

“In 21 van die 73 plaasaanvalle en -moorde (ongeveer ʼn kwart) wat in die 2020/2021 finansiële jaar plaasgevind het, is tussen twee en vyf slagoffers aangeval of vermoor. Dié slagoffers het vroue en kinders ingesluit,” het Buys gesê.

“In die vyf jaar periode (tussen 2016 en 2021) was 18 slagoffers ouer as 80 jaar terwyl 19 slagoffers onder die ouderdom van 19 jaar was.”

Die verslag dui verder aan dat 143 kommersiële en opkomende boere in dié tydperk aangeval is, waarvan 16 vermoor is. Volgens haar statistieke is daar ook 126 werkers, wat voormanne, werkers en/of sekuriteitswagte insluit, aangeval. 14 van hulle is vermoor.

Buys sê voorts dat plaasaanvalle ook ernstige emosionele letsels vir dié wat dit oorleef agterlaat.

“In 52,46% van plaasaanvalle is slagoffers deur twee tot drie aanvallers geskiet of ernstig beseer. Dit dui op geweldige trauma wat families en hul gemeenskappe ervaar.”

Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL se veiligheidskomitee, vind baie van die aanvalle by landbougemeenskappe plaas wat naby die Lesotho-grens geleë is.

“Die situasie teen die grens bly kommerwekkend en is ʼn groot bydraende faktor tot onveilige landbougemeenskappe,” het Le Roux gesê.

Om aandag aan die voortslepende probleem te gee, het Le Roux gesê dat dié organisasie ’n ooreenkoms met ’n private sekuriteitsmaatskappy gesluit het om gestandaardiseerde en geakkrediteerde veiligheidsopleiding aan landbougemeenskappe te bied. Dít sal in samewerking met Vrystaat Landbou se plaaslike strukture geskied.

“Die fokus van die opleiding is hoofsaaklik om landbougemeenskappe te bemagtig om na hul eie veiligheid om te sien, binne ’n georganiseerde landboustruktuur,” het Le Roux gesê.

“Die daarstelling van ʼn proaktiewe misdaadomgewing waar vroue, jong boere en selfs plaaswerkers met opleiding bemagtig kan word om ’n bydra en rol te speel is noodsaaklik.”

Le Roux het ook gesê dat die opleiding teen ʼn bekostigbare tarief aangebied sal word.

Die toenemende voorkoms van plaasaanvalle wek egter nie net in die Vrystaat kommer nie, maar oor die hele Suid-Afrika. Volgens Guido Urlings, steundiensbestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is die meeste plaasaanvalle en -moorde die afgelope jaar in Gauteng aangeteken, gevolg deur die Noordwes en KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Esme

En so word die broodmandjies van die land aangeval – keer op keer en Boere word gearresteer maar plaasaanvallers loop skotvry rond

JohanR

ANC gee die geld, EFF doen die beplanning en taxi’s ry die aanvallers heen en weer. Prove me wrong! The arrogant and ignorant think food and drink originate from Spar, Shoprite, P&P, Checkers, Woolworths and the corner cafe! Continuing killing all the farmers and the bread basket drys up. Hoe gaan Floyd Shivambu van die EFF dan sy daaglike 24 hamburgers, tjips en 10L Coke lewe?

Mariana

En hulle mag niks doen om hulself of hul families te beskerm nie, anders word hulle in hegtenis geneem dn daarmee sê die regering maak soveel dood of martel soveel soos julle kan, julle sal niks oorkom nie. Maw hulle keur dit goed. Word weereens bewys met die 5 boere wat nou juis aangekla word van moord….

daniel

As diegene wat after die waarheid wil kom hulle meer toespits op die politiek geinspireerde oorsake deur uitgesproke politieke partye of militante groepe wat volksmoord op wittes begeer.

Sluier

Ek persoonlik, sien hierdie dinge nie eers meer raak nie. Ek lees dit belangstellingloos verby, want niemand luister in elkegeval na goeie voorstelle, goeie raad of goeie oplossings nie.