Plaasaanvalle moet saam beveg word

Argieffoto (Foto: unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: unsplash, Pixabay)

Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye en ʼn afvaardiging van AfriForum het Donderdag in Pretoria vergader om plaasmoorde, sowel as ander landelike geweld en gemeenskapsverhoudinge in landelike gebiede te bespreek.

Tydens die vergadering het die minister en AfriForum ooreengekom die minister sal deur sy departement ʼn inisiatief van stapel stuur om rolspelers oor ʼn wye spektrum byeen te bring om ʼn gesamentlike front teen plaasaanvalle en ander landelike geweld te vorm. Die doel van die inisiatief is ook om samewerking op plaaslike vlak tussen die onderskeie rolspelers in plaaslike gemeenskappe te verbeter.

Die partye het saamgestem lt.genl. Kgomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, se verklaring dat plaasmoorde en veediefstal as prioriteitsmisdade hanteer sal word, is ʼn stap in die regte rigting. Die partye het verder saamgestem dit is ook nodig dat ander rolspelers oor ʼn wye spektrum heen se steun en samewerking bekom moet word sodat die gemeenskappe brandende kwessies in landelike gebiede gesamentlik kan hanteer, benewens die polisie se beloofde aksies. Van die rolspelers wat die minister wil betrek, sluit landbou-unies, plaaslike regerings, gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe en ander gemeenskapsorganisasies in.

“Dit is belangrik dat ons dié probleem gesamentlik beveg, omdat dié onnodige moorde slegs beëindig kan word as ons saamwerk. Ons sal hierdie forum so spoedig moontlik byeen roep om ʼn weg vorentoe te bewerkstellig om dié geveg te wen,” het die minister gesê.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die gesprek met minister Zokwana as konstruktief beskryf. “AfriForum se landwye gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe werk hard om veiliger gemeenskappe te help vestig en sal in belang van almal in Suid-Afrika saamwerk om beter samewerking tussen gemeenskappe te bewerkstellig en gemeenskapsverhoudinge te verbeter,” het Kriel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bets ·

Uiteindelik! Hoo net dat daar daadwerklik hieraan dringende aandag gegee sal word.

Uys ·

Nou praat, praat hul. Hoekom, dis verkiessing tyd. Hulle sing wat die wêreld wil hoor

FM ·

Ek hoop nie dis nou net weer n verkiesingsfoefie nie. Soos ons al baiekeer gehoor het is dit mooi woorde, maar dit moet oorgaan in dade. Eers DAN sal ek glo dat hulle woorde tot dade oorgegaan het. So kom ons vertrou, wag en kyk. Dalk is hulle die keer ernstig??????????? Ek hoop nie die president fire nou weer die minister en waarnemende polisiekommissaris oor sulke positiewe opbouende uitlatings nie. Hy kan die snaaksste goed aanvang. Ek hoop nie die president giggel hieroor nie. Shame.

Berhalet Beukes ·

Lt. Genl wie? Van waar? Wat hoe sy titel gewerf het? Vir AfriForum haal ek my hoed af… Die res moet maar eers WYS en ophou mooi praat voor verkiesingstyd! Ek ondersteun nie ANC nie dankie!

Jan ·

Ai…. en hulle blaf nou die regte rigting,…… afriforum stertjie in die lig, kef kef agterlangs saam, ….maak dan die hek oop dan storm hulle uit …. dan weet hulle nie wat om met die gedoente waar voor hulle blaf het \, moet doen nie.
let wel: “WAARNEEMENDE” poliesiekommessaris Lt genl.Kgomotso Phalane, blaf … blaf… blaf, agter die hek, die hek sal nie deur zuma en anc oop gemaak word nie…. want dan moet hulle gaan opruim en betaal vir skade wat blaf blaf blaf aan gedoen het, so sal hek maar toe bly en WAARNEEMEDE …… wat net tydelik is……. word verplaas of afgedank , en “walla” probleem het verdwyn

Peet J ·

Dit wil vir my voorkom asof die plaasmoorde en veediefstal wat moontlik as ‘n prioriteit geklassifiseer gaan word op die onderskeie rolspelers soos genoem afgeskuif gaan word. Indien die regering enigsins ‘n poging wil aanwend om die aangeleentheid te bekamp sal hy eers ‘n voorkomingstelsel op die been moet bring wat in elkgeval al jare terug gedoen moes gewees het. Hoop maar van die beste.

HEVW ·

Was al die tyd onder die indruk dat daar alreeds samewerking tussen die verskillende rolspelers bestaan. As dit nou nog nie bestaan nie dan is dit n skreinende versuim teenoor die totale gemeenskap. Hierdie hantering van so n belangrike saak gaan stadiger as die testydse spoorwee van Ben Schoeman.

m ·

Nou weer oor nuus gehoor van boer in Rouxville wat vanoggend vermoor is. Hierdie strooi gaan net nooit stop nie want hierdie mense is nie ernstig daaroor nie.

HEVW ·

Iemand moet beslis vuur onder die regte plek kry om gemeenskapstrukture en die verskillende rolspelers te verenig tot n liggaam wat effektief kan handel. Hierdie veld van misdaadbekamping is baie groot met verskillende fasette wat kundigheid vereis. Alles sal nie onmiddelik in plek wees nie. Na ondervinding wat opgedoen word sal daar n stadige toename tot n meer volmaakte stelsel wees. So begin!!!!!!1

Johannes Meintjes ·

Verkiesingsfoefie en “probeer-die-internasionale-ekonomiese-traktering-verbeter-poging” verseker – maar dit gee ‘n aanknoping, openbare voorneme en fondasie om voorts op te bou. Dat die SA regering en ander nie die omvang en ekonomiese effek van plaasmoorde wil insien nie gaan die verstand te bowe. Elke boer en sy werkers, die werkers se sosio-ekonomiese omgewing, sy ooreenkomste en kontrakte, werkwyses en netwerke, krediteure en debiteure, maak alles ‘n belangrike fraksie van die groter ekonomiese en voedsel-sekerheid geheel uit. Plaasmoorde is ‘n dwase ideologies-gedrewe wandaad met groot inspraak vanuit Zimbabwe, met baie kort en langtermyn nagevolge vir almal, ook in die SAOG streek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.