Plaasaanvalle nie rassistiese misdade, sê komitee

(Foto: pixabay)

Die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het gesê hy neem met groot kommer kennis van die onlangse aanvalle op vier plase in die Hartbeespoort-gebied in Noordwes.

Zwelivelile “Mandla” Mandela, voorsitter van die komitee, het gesê aanvalle op plase bedreig voedselsekerheid, indiensnemingsgetalle en die ekonomie van die land. “Plaaswerkers en plaaseienaars is albei ewe belangrik in die landbouketting.”

Dit volg ná ʼn debat Dinsdag in die parlement waar al veertien politieke partye plaasmoorde en -aanvalle veroordeel het, hoewel die invalshoeke waaruit hulle dit gedoen het, drasties verskil het.

Mandela het gesê die Menseregtekommissie het, ná uitgerekte nasionale ondersoekende verhore oor veiligheid- en sekuriteitsuitdagings in plaasgemeenskappe in 2014, aanbeveel dat “plaasmoorde” en “plaasaanvalle” uit sy teks verwyder word, omdat dié terminologie “ʼn vooropgestelde hiërargie van misdade skep wat volgens ras gedefinieer word na aanleiding van wie die slagoffer is, terwyl die onderliggende oorsaak van plaasaanvalle hoofsaaklik ʼn kriminele motief het”. “Ons moet daarteen waak om plaasaanvalle rassistiese misdade te noem,” het hy gesê.

“Enige tipe geweld teen vroue en kinders is afskuwelik. In een van die aanvalle die afgelope week is ʼn vrou en haar kinders in hul huis aangehou en hul motor en besittings is gesteel. Ons moet seker ʼn vermindering in misdaad verseker teen kwesbare groepe.”

Mandela het gesê as ʼn komitee sal hulle ʼn toename in sigbare polisiëring in gemeenskappe versoek. “Gemeenskapspolisiëringsforums en gemeenskapsveiligheidforums moet versterk word en die komitee moedig alle gemeenskappe aan om hul bure te leer ken sodat ʼn nierassige samelewing in Suid-Afrika en sosiale samehorigheid geskep kan word.”

Mandela het gesê deur die regering se benadering tot ʼn maatskaplike verdrag moet almal ʼn bydrae lewer om vreedsame en veilige gemeenskappe te vestig.

“Ons moet al die belanghebbendes en sleutelrolspelers aan boord kry om teen gewelddadige misdade op te tree. Boere, plaaswerkers en plaasgemeenskappe is veral kwesbaar, omdat hulle geïsoleer is en ver is van noodsaaklike dienste soos nooddienste, die brandweer en polisiëringsdienste. Die stedelike/landelike skeiding wat aan ons oorgedra is deur die nalatenskap van kolonialisme en apartheid en verder vererger is deur die slakkepas van landelike transformasie en landelike ekonomiese ontwikkeling, is rede tot groot kommer en dit ondergrawe ons planne om doeltreffend misdaad te bekamp. Ons moet seker maak dat ons saam verantwoordelikheid aanvaar vir die veiligheid en ontwikkeling van landelike gemeenskappe.”

Mandela het gesê distriksrade in landelike gebiede moet ʼn rol speel om seker te maak dat persone, wat in die gebiede woon, deelneem aan besluite oor oplossings vir hul probleme. “Deur die nuwe distriksontwikkelingsmodelle moet ons verder seker maak dat die nasionale landelike veiligheidstrategie (NRSS) ingestel word.”

Hy het gesê die moord op boere en plaaswerkers duur al te lank voort. “Dit verwoes landelike woonbuurte, en laat ʼn spoor van verwoesting en vernietiging en het buitengewone verlammende gevolge. Een van die sleutelbevindings van Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies, oor navorsing in 2018 op ‘Gewelddadige Misdaad op Plase en Kleinhoewes’, is dat plaasaanvalle en -moorde toegeneem het tot dieselfde mate as die algemene toename in Suid-Afrika se ernstige en gewelddadige misdade en dié misdade deel ooreenkomste met die triomisdaad-kategorie van huisroof, sakeroof en motorkaping.

“Die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sal met die portefeuljekomitee oor polisie saamwerk om seker te maak dat landelike gemeenskappe, insluitend boeregemeenskappe, die nodige beskerming en dienste van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontvang,” het Mandela bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

63 Kommentare

jongste oudste gewildste
Corne123

Ok da was nou n debat en nou gaan daar weer niks gebeur nie kyk maar gaan niks gebeur nie.Boere moet hulle self beskerm regering sal niks doen nie die kos kom mos vanaf die winkel jong

Oomniklaassevriend

Nie rasisties nie! Hoeveel wit op swart plaasmoorde vind plaas? Is die graad van aanranding, verminking, verkragting, en marteling tydens hierdie aanvalle dalk die “nuwe normaal?”

Johan

Mandela het geen idee waar sy voor- of agterkant is nie. Die brutaliteit van die plaasmoorde dui daarop dat diefstal sekonder is en dat die marteling en intimidasie eintlik is waarom die inbraak gepleeg word. Hoeveel anderskleuriges word met strykysters gebrand of word met kokende water in hul kele afgegooi?

Persheks

En so beteken die MRK niks vir ons nie! Plaasmoorde word aangehits beslis. Groot hoed beteken ook net mooi niks nie en wil dan ons blankes ontwapen! Ons sal onsself beskerm teen die moorde en moet nie vrae vra as daar geskiet word nie. Ons is verby gatvol!

Andre

Mnr Mandela; jy sê dit en dat moet gedoen word terwyl jy weet dit sal nie gebeur nie. Wat egter wel gebeur is dat jy elke maand jou “swaar verdiende salaris ” kry en in ruil die pragtige politiek korekte woorde