Plaasaanvalle: Regering stem in om statistieke te bespreek

Dr. Pieter Groenewald. Foto: Reint Dykema

Nadat die regering twee weke gelede, ná jarelange stilswye, besluit het om statistieke oor plaasmoorde uit te reik, het Bheki Cele, die minister van polisie, onderneem om met die VF Plus gesprek te voer oor die aangeleentheid in ʼn poging om oplossings vir die kwessie te vind.

Dit volg nadat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan die minister gesê het dit is belangrik om gesprek oor plaasaanvalle te voer in ʼn poging om die statistieke te verfyn en in besonder om presieser inligting te verkry oor die slagoffers van plaasaanvalle.

Groenewald het aan Cele gesê hy verwelkom sy besluit om syfers oor plaasmoorde wel beskikbaar te stel. Hy het gesê daar was die afgelope drie jaar ʼn toename in aanvalle en dat dié soort misdaad net effektief bestry kan word indien daar behoorlike statistieke beskikbaar is.

“Die regering het nou vir die eerste keer gedoen wat die VF Plus al vir byna twee dekades bepleit, en dit is om ʼn kundige polisiekommissaris uit polisie-geledere aan te stel. Net so het minister Cele polisie-ervaring na ʼn paar jaar diens as kommissaris. Daar is dus nie meer ʼn verskoning om misdaad nie effektief te bestry nie,” het Groenewald gesê.

Die VF Plus het al die lede van die polisiediens bedank vir die harde werk wat hulle verrig om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak.

“Hulle werk hard en is pligsgetrou in soms lewensgevaarlike omstandighede om die mense van Suid-Afrika te beveilig. Danksy hul toewyding is Suid-Afrika ʼn beter plek om in te woon. Daar moet ook spesiaal dankie gesê word aan die sowat 5 500 lede wat deel is van die polisie se openbare orde-eenheid. Hulle het volgens die polisie se parlementêre portefeuljekomitee opgetree by sowat 14 374 voorvalle van geweld en protesoptrede in die laaste jaar.”

Groenewald het gesê hy het tydens die onluste in Noordwes gesien hoe dié lede lang ure werk en moeg raak terwyl hulle as buffer moet dien tussen “ʼn onbevoegde regering” en sommige mense van die land in die proses om die inwoners te beskerm.

“Ek doen ʼn beroep op minister Cele om hard en duidelik met die regering te praat aangesien die openbare oproerigheid weens swak dienslewering voor die regering se deur gelê kan word. Nou moet die polisie die gevolge van ʼn swak regering hanteer,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

KP ·

So word daar gereeld besprekings geneem met geen aksie daarna.

Cherokee ·

Yip, soos jy sê, wat opnuut by die DA se tafel gaan stem vir regstellende aksie, vir grondhervorming en die aksie teen Afrikaans help versterk. Wat ‘n hernude aanval gaan loots op Afrikaanse skole….. by die DA se tafel. Lees die boek ‘Volksverraad’.

Aster ·

Nee wat, dis tyd vir ‘n “change”. Ek het nou al lank genoeg vir die DA gestem. As die ANC na hulle mense wil kyk en stem, so sal ek! Ek stem hierdie keer vir my eie mense, my kultuur, my taal VF!

snip ·

verwag jy regtig ons moet vir die GAAN OORSEE party stem? die da probeer ten minste rwgmaak waar goed verkeerd is. hulle gaan vra nie vir toeskouers oorsee nie.

Mrs H ·

Snip, VF het nog nooit nodig gehad om enigge “verkeerd” te gaan staan en PROBEER reg maak nie. Ook geen skandes… Dis nogals GROOT om so reputasie te he in n land soos die.

bollie se wollie ·

Apartheid was nie verkeerd nie? Regstellende aksie is nodig al moet mense (soos ek) nou boet vir my voorvaders se rassisme.

Theresa B ·

Ek stem KP. Hulle is baie goed om, om ‘n tafel te sit met koffie en snacks, maar geen haan kraai daarna nie. Hulle worry tog niks – minder tyd om hulle sakke vol te maak.

Nettie ·

@snip – snuif bietjie in die lug en ruik die koffie (en raak wakker).

Wáár probeer die DA ‘goed regmaak’ – gee my net een ou piepklein voorbeeldjie, toe? Oversetgesynde en desnieteenstaande, watter politieke party doen ook nou regtig iets vir die mense wat dit ondersteun? Alle politici is in dié beroep vir eie gewin – as dit nie aansien is nie, is dit vir eie, finansiële gewin.

GEEN politieke party het al ooit iets vir my gedoen nie, behalwe om goed te doen wat hulle MOET doen, as deel van hul mandaat, nl, staatsinstellings instel en onderhou, onderwys, hospitale, polisie, Weermag/Vloot daar te stel, paaie te bou en dorpe/stede te ontwikkel ens. ens. ens.

Wat ek het, het ek voor gewerk. Hard gewerk. Ek kon nie op my alie gaan sit en bakhand uithou en vra vir ‘n huis, werk, kos, elektrisiteit, lopende water ens. nie. Ek moes maar self daarvoor werk.

My punt is: geen politieke party of partylid/politikus gee wérklik vir die mens op voetsoolvlak om nie. Waarom dan stem vir hulle?

Mrs H ·

Dat hulle nou eers so heuning om die bek gesmeer moet word, voor hulle gevlei genoeg voel om na twee dekades se gesoebat en gesmeek uiteindelik te maak of hulle iets hoor….

Jane ·

Dis reg, ons MOET nie stilbly nie, as ons nie gesprekke wil voer nie, gaan die ANC net se ons distansieer ons van hulle en wil nie ‘n oplossing kry nie .. al drink hulle net tee .. dit moet gedoen word .. ons MAG nie stilbly hieroor nie .. Apartheid word nogsteeds betreur, wanneer treur ons oor onskuldige boere en hulle gesinne wat wreedaardiglik gemartel en doodgemaak is? A crime against humanity indeed!

Statistikus Erdvark van Statistiek-sonder-Politiek ·

Ek het geen vertroue in “statistieke” indien die wyse van opnames, die verwerking van die data en die interpretasies nie voldoen aan internasionaal erkende wetenskaplike beginsels van die vakgebied wiskundige statistiek nie. En die wyse van opnames, dataverwerking en interpretasies moes gedoen gewees het onder die toesig van ‘n onafhanklike internasionale organisasie beman deur ervare bekwame en internasionaal erkende statistici. Politiek en wiskundige statistiek meng soos water en olie en lewer valse persepsies.

Leeu ·

Om te praat gaan niks verander nie, dis soos rugby om die braaier te praat, dit gaan niks doen nie.

Eish ·

Afriforum moet die buitelandse veldtog ry tot sy tong sleep. Dit is al wat ons bedingingsmag gaan gee by die groot gesels, sanksieswaard!

Therese van Schalkwyk ·

Die goeie verhouding tussen dr. Pieter Groenewald en minister Cele is bemoedigend.

Hoewel statistiese gegewens van belang is vir verskeie redes het dit, wat plaasmoorde en ander swart-op-wit geweld betref, ‘n politieke speelbal geraak. Verskeie joernaliste, politieke kommentators en ander skeptici is gewikkel in ‘n gevoellose hareklowery oor ‘n syfer meer of minder. Die dekades-lange tragedie is daagliks duidelik op nuusblaaie vir elkeen wat wíl sien, met slagoffers van vlees en bloed, nie blote syfers nie.

Die ANC en sy ondersteuners het as gevolg hiervan lankal die morele hoë grond verloor wat hulle tydens en kort na Apartheid beklee het. Dit behoort nie ‘n voorvereiste vir ‘n suksesvolle reënboognasie te wees dat duisende weerlose mense deur die geweldskultuur van sommige van hul mede-Suid-Afrikaners afgemaai moet word nie.
Dat sovéél dit apaties aanvaar en dié wat daadwerklik daarteen optree verguis, vind ek verwerplik.

Eish ·

Ag toggle suster, jou Afrikaans is werklik pragtig en sinvol. Goed gedoen!

Nettie ·

@Eish – is daar iets fout met iemand wat mooi, korrek-gespelde, suiwer Afrikaans praat, lees en skryf, in jou opinie? Ek neem aan jou kommentaar aan Therese van Schalkwyk was …..e….. tong-in-die-kies gemaak?

Aan Therese van Schalkwyk – ek wens meer mense wil so intelligent soos jy wees en korrek spel en skryf in Afrikaans. En dan nog boonop sin maak met hul kommentare (dít sal ‘n bonus wees!).

Heinrich ·

Sterkte VF+, as ek kyk na hoe die regering hulle munisipaliteite bestuur dink ek nie hulle statistieke gaan die papier werd wees waarop dit gedruk is nie.

Casper Labuschagne ·

Dit is werklik vordering dat die regering bereid is om ‘n krisis te bespreek. Aan die ander kant weer word daardie krisis steeds net so heftig deur ander ministers in die regering ontken. En dit bring my by die probleem wat ek het met ‘n meerderheidsparty wat regeer as ‘n effektiewe eenpartystaat. Hulle is in totale ontkenning van alles behalwe hul eie propaganda en as daar uiteindelik op grond van druk ‘n gesprek plaasvind, dan is dit ‘n reeds voldane feit wat bespreek word – iets in die lyn van die rooijakkals wat ‘n koppie tee saam met die lammers drink en die spyskaart vir middagete bespreek.

En laastens, die regering kan nou bekostig om ‘n gesprek te voer oor plaasaanvalle. Die ANC se beleid van onteiening sonder vergoeding is op hul partykongres in Desember 2917 aanvaar en is in Februarie 2018 met die benodigde meerderheid in die parlement in werking gestel het sodat die klousule wat eiendom beskerm, nog gedurende 2018 uit die grondwet verwyder sal word. Dit sal grootliks die gevolg hê dat wit plaasboere in 2019 en daarna nie meer op plase aangeval en vermoor sal word nie omdat daar waarskynlik geen wit plaasboere meer sal bestaan nie. Maar wat die geskiedenis betref sal die rekord wys dat toe die wyser op ‘n minuut voor middernag gestaan het, het die ANC iets gedoen aan plaasaanvalle en gevolglik sal hulle nooit van die stelselmatige uitwissing van wit plaasboere beskuldig kan word nie.

Sarel ·

Ons het n groot probleem, ons is so besig met mekaar dat ons die probleem mis. Statistiek behoort aan die gemeenskap wie statistiek daar stel . Cele doen ons geen guns om dit beskikbaar te maak nie. Probleem is dat die regering nie funksioneel is nie . Ons is al so af gestomp dat ons maar net te bly is dat iemand nie dood is of ernstig beseer is nie terwyl die voorval nooit moes plaas gevind het nie. Die regering moet ten alle tye verantwoordbaar gehou word om te doen wat hulle in n posisie voor aangestel is. Die publiek kan alles doen wat nie deur die wette verbied word nie en die amptenare wat die wette hulle voorskryf om te doen . Vir hulle om hul doeltreffendheid aan die bestaande statistiek te bepaal as n toelaatbare persentasie is siek om die minste te se. Een misdaad is een teveel.

Pietman ·

Klip innie bos. Miskien moet die boere ook begin staak. Lee kosrakke praat dalk harder.

Sarel ·

Pietman, dit is n goeie idee, boere is egter reeds so verarm en die uitgawes soveel dat hulle dit nie kan bekostig nie.
Dan vat die finansieele instellings hul grond en hoef daar nie gewag te word vir onteining nie.

Rynhardt ·

Jy gaan praat nooit oor statistieke wanneer dit kom by plaasmoorde nie,Groenewald!Anc sal nooit werklike statistieke vrystel nie,want dit is buite beheer!Enige regering se plig is om sy burgers van n betrokke land te beskerm ongeag of hy daarvan hou of nie.As hy nie die taak wil verrig nie,moet hy waai en as hy weier om dit te doen,moet mense met mening begin in opstand kom!Ek wil dit weer duidelik maak vir daardie Afrikanerstjies wat glo in stem,politiek is lankal vir jou dood,maar jy leef in permanente ontkenning oor alles.Anc en SAKP het julle in n dodelike wurggreep!

Oom Kalahari ·

@ Casper Labuschagne, stem heelhartig en jou skrywe is pragtig uiteengesit. Met (smell the coffee) se uitlatings sal daar beslis nie heelwat blanke boere meer plase besit nie, maar bydraende opleiding en ondervinding aan anderskleurige ( mag mos nie meer verwys na swart nie) boere moet deurgee.
Hierdie strategiese beskermings onderhandelinge wat Min Bheki Cele wil aangaan is net togespits om die nodige inligting te kan bekom hoe daar dan as beskermings faktote vir die anderskleurige boere toegepas kan word. So ook deur die proses kan hy ‘n geskrewe samestelling weergee wat hom as Minister op die hoe troontjie kan plaas, maar die erkenning sal nie deurgegee word aan Dr Groenewald van VF+ nie. Ons as volkie is maar geneig om soos gehoorsame lammers na die slagpale gelei te word. By my sal die Piet Retief en Dingaan sage altyd bybly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.