Plaasaanvalle styg afgelope dekade met 60%

tlusa-mediakonferensie-2019-07

V.l.n.r. is dr. Llewellyn Curlewis, genl.maj. Chris van Zyl, Henry Geldenhuys, Louis Meintjes en dr. Johan Burger.

TLU SA is uiters bekommerd oor die toename in en wreedheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika, met ʼn toename van 60% net oor die afgelope dekade.

Dié statistiek is vandag tydens die organisasie se aankondiging van syfers oor plaasaanvalle en -moorde bekendgemaak.

Volgens die TLU SA se amptelike insidentregister wat sedert 1990 bygehou word, was daar vir 2019 tot dusver 60 plaasmoorde en 217 plaasaanvalle aangemeld. Die register toon ook dat die vyf noordelike provinsies die primêre teikens van dié misdaad is.

Sedert die ontstaan van die register is 1 125 plaasaanvalle tussen 1990 en 1999 aangemeld. Tussen 2000 en 2009 is 1 407 gevalle – ʼn styging van 22% – aangemeld en in die afgelope nege jaar van 2010 tot 2019 is 2 616 plaasaanvalle landwyd – ʼn toename van 60% – aangeteken.

In die ooreenstemmende tye het plaasmoorde van 637 (1990 tot 1999) met 22% (799 moorde) toegeneem tussen 2000 en 2009. In die volgende nege jaar tot in 2019 het 586 plaasmoorde plaasgevind.

“Hierdie syfers is skokkend, maar vir TLU SA gaan nie net oor die syfers nie. Dit is 2 022 lede van ons boeregemeenskap wat sedert 1990 uitgemoor is. Dit is 5 148 kere wat gesinne en plaaswerkers vir hulle lewens gevrees het in ʼn plaasaanval,” het afgetrede genl.maj. Chris van Zyl, die adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, gesê.

“Tog is dit steeds nie belangrik genoeg vir die regering en pres. Cyril Ramaphosa om hierdie aanslag teen boere te veroordeel nie. Daar was net vanjaar reeds verskeie geleenthede vir die president om plaasaanvalle en -moorde die nodige erkenning te gee. Die redelike mens kan dus aanvaar dat hy en uiteraard die ANC-regering, hierdie misdaad as minderwaardig ag en dit goedkeur.”

TLU SA het ook erken dat die organisasie daarvan bewus is dat misdaad landwyd buite beheer is met 56 moorde wat daagliks gepleeg word. Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê die vlakke van misdaad, geweld en skade wat dikwels tydens iets soos ʼn protesaksie voorkom, is gelykstaande aan ekonomiese terrorisme teen Suid-Afrika.

Volgens dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies was daar die afgelope ses jaar ʼn styging van 17% in moorde en meer as 20 000 mense wat in 2017/’18 vermoor is.

Burger het Donderdag tydens die bekendstelling van die plaasaanval-tendense meer lig gewerp op die omvang van misdaad in Suid-Afrika met die fokus op die wreedheid van die misdaad.

Hy meen daar is ʼn direkte korrelasie tussen staatskaping, die verval van die plaaslike regstelsel en ʼn toename in geweldmisdade. Hy het ook in sy voorlegging gesê ʼn mens kan nie die unieke aard van plaasaanvalle ontken nie.

“Die hoë vlakke van geweld en doelgerigte marteling in plaasaanvalle en -moorde is egter wat dié misdade van ander geweldsmisdade onderskei.

“Daar is ʼn duidelike koppeling wat aan die grondvraagstuk gemaak kan word. Die landbousektor behoort veiligheid as die belangrikste mededeler te sien,” het Van Zyl gesê.

In hierdie lig is dit ook belangrik vir die boeregemeenskap om te weet wanneer en hoe om op te tree en wat die gevolge van die optrede in ʼn plaasaanval is. Dr Llewellyn Curlewis, prokureur en dosent aan die Universiteit van Pretoria, het die gehoor toegelig oor die redelike mens se optrede gegewe die toepassing van die gemenereg.

Volgens Curlewis kan dit aangevoer word dat ʼn persoon uit noodweer opgetree het om hom- of haarself, waardevolle eiendom of ʼn ander persoon te beskerm, tydens ʼn plaasaanval, mits daar aan sekere vereistes voldoen word.

Dié vereistes sluit in dat ʼn aanval wederregtelik en gerig teen beskermingswaardige belang, asook ʼn werklike, onmiddellike dreigende gevaar moet wees. Dis is ook belangrik om te noem dat die minimum geweld in so ʼn situasie gebruik moet word.

“As iemand hom voorstel as ʼn spesialis, word die persoon se dade beoordeel aan dié van die redelike spesialis en daar word ʼn hoër mate van aanspreeklikheid en nalatigheid aan so ʼn persoon toegeskryf.”

Curlewis meen boere word deesdae as spesialiste beskou en uit onlangse hofuitsprake is dit duidelik dat hulle op ʼn hoër vlak beoordeel word. Hy het ook bygevoeg dat hy baie kritiek kan uitspreek oor die vonnisse wat boere in onlangse hofsake opgelê is en dat hy veral bekommerd is oor konsekwentheid in die aspek.

TLU SA beveel, in die lig van hierdie syfers, aan dat daar tydens die volgende gesprek met die nasionale kommissaris van die polisie in Augustus aandag geskenk sal word aan die volgende sake:

  • ʼn Landbouvriendelike reservistestelsel;
  • Die plaaslike integrasie van beskikbare bronne;
  • Die herbevestiging van plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade;
  • Landbouveiligheid in plaas van plaasaanvalle.

Verder moet die landbougemeenskap fokus op die benutting van tegnologie, kommunikasie en inligting; en die opstel en implementering van gebeurlikheidsplanne soos wat TLU SA reeds doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
James

Maar Ramaphosa ontken dit. Seker plan.. stadig ontslae raak van ons. Soos om n padda stadig dood te kook.. klink bekend…

Ines

Dis baie hartseer, en so onnodig. Wat gaan hulle maak sonder boere.

Johan

En die President gee nie n moer om nie dis mos nie sy family nie

hendrik

Hoe lank terug is dit dat ramaphosa onder-president geword het?

Pieter

Ek stem ons praat te veel die blankes moet op hou belating betaal as dit by die blankes kom dan is hulle blind maar ons belasting geld is goed genoeg die anc weet wie sit agter die plaas moorde dit is hoekom hulle hulle doof en blind hou