Plaasaanvalle styg steeds drasties

Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadanalis. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

“Dit is tans gevaarliker om ’n boer in Suid-Afrika te wees as ’n polisiebeampte.”

Só sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), in reaksie op AfriForum se 2019-statistiek oor plaasaanvalle en plaasmoorde in Suid-Afrika wat Woensdag in Pretoria bekendgemaak is.

Die statistiek toon dat plaasaanvalle sedert 2011 jaarliks toeneem. Altesaam 552 plaasaanvalle is in 2019 by AfriForum aangemeld. Dít is ’n 27%‑toename vergeleke met die 433 plaasaanvalle wat in 2018 aangemeld is. Altesaam 57 plaasmoorde is verlede jaar gepleeg vergeleke met 54 plaasmoorde in 2018.

Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadanalis, sê die meeste van dié moorde is in die Vrystaat gepleeg (11). Die aantal plaasmoorde in dié provinsie het ook die afgelope drie jaar aansienlik toegeneem.

Altesaam 30% van plaasaanvalle het in Gauteng plaasgevind. Claasen verduidelik dat gebiede soos Erasmia en Muldersdrift waar ’n groot aantal kleinhoewes teen mekaar geleë is, verdagtes in staat stel om verskeie eiendomme in een aand te teiken.

Altesaam 59% van plaasaanvalle verlede jaar het op plase gebeur, terwyl 37% op kleinhoewes aangemeld is. Volgens Claasen is 905 slagoffers verlede jaar deur plaasaanvalle geraak. In 26% van gevalle het verdagtes probeer om die slagoffer of slagoffers te vermoor. “Dié syfer is kommerwekkend,” meen Claasen.

Daar is gedurende verlede jaar in 9% van die gevalle ’n moord gepleeg en in 3% van die gevalle ’n slagoffer verkrag.

Die statistiek toon verder dat ’n gemiddeld van 1,1 plaasmoorde per week in 2019 gepleeg is, met ’n gemiddeld van 1,5 plaasaanvalle per dag in Suid-Afrika. Die gemiddelde aantal aanvallers per voorval was drie.

Só wys die 2019-statistiek. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

Die meeste plaasaanvalle (61) is in Mei verlede jaar aangemeld gevolg deur Januarie, toe daar 54 aanvalle aangemeld is.

Luidens statistiek is 22% van 2019 se plaasaanvalle tussen 18:00 en 21:00 aangemeld, gevolg deur 20% van aanvalle in die vroeë oggendure tussen 00:00 en 03:00. Omtrent ewe veel aanvalle is op elke dag van die week aangemeld is, maar Donderdae het effens meer aanvalle gehad (16%). Op Vrydae, Saterdae en Dinsdae is 15% van aanvalle aangemeld.

Volgens Claasen is die meeste slagoffers verlede jaar in hul huise oorval nadat verdagtes gedwonge toegang tot die huis verkry het deur sekerheidshekke of vensters oop te breek. Verdagtes het ook in verskeie gevalle ’n wegkommotor gebruik wat gedurende die aanval buite die plaashuis gewag het.

De Jager het vanoggend benadruk dat plaasmoorde en plaasaanvalle nié rasgebaseer is of slegs die eienaar van plase teiken nie. “Dit is nie net wit boere wat aangeval of vermoor word nie. Ons het ’n soortgelyke probleem by al die ander rasgroepe.”

De Jager sê aanvalle op plaaswerkers is ook ’n bekommernis aangesien sowat ʼn kwart (26%) van aanvalle gedurende 2019 op plaaswerkers gemik was.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum (Foto: Reint Dykema/AfriForum)

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum , sê dit is duidelik dat landelike gemeenskappe nie op die regering kan staatmaak om maatreëls in te stel om hulle te beveilig nie. Daarom is dit so belangrik dat mense weet hoe om hulself te beskerm.

“Die reusestyging in plaasaanvalle in 2019 wys dat die polisie nie die vermoë óf kapasiteit het om geweldsmisdaad op plase te keer nie. Dít beteken dat jy in ’n gewelddadige plaasaanval heel moontlik op jouself aangewese gaan wees,” sê Cameron.

Met die mees onlangse plaasmoord wat vroeër die week in die Oos-Kaap gepleeg is, sê Cameron die landbougemeenskap moet weerbaar wees en hulself verdedig.

Maroela Media het vroeër vandag berig drie verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die verminkte liggame van twee mans op ’n kleinhoewe buite Maclear in die Oos-Kaap aangetref is.

“Slagoffers en hul families word agtergelaat met erge trauma asook emosionele en sielkundige skade. Die gruwelikste besonderhede van hierdie misdade is ook dikwels dié wat nie aangemeld word nie,” sluit die verslag af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Suid-Afrika het tot ‘n misdaad-hool verval.

netekalleen

En nogsteeds al is daar soveel berigte in SA oor dit kom dit nie in die buitewereld uit nie

Genis

En so word die Nar in rooi wat die aanhits, in die Parlement soos n Koning behandel…

Werner

Dit is rasgedrewe want witmense val nie Swart boere aan nie maar Swartmense val wit boere aan tog so bang die waarheid kom uit

Cherokee

Soos Werner ook uitwys, dit mag blyk dat slagoffers nie rasgedrewe is, maar aanvalllers is sonder twyfel rasgedrewe.