Plaasaanvallers jare later gestraf

Die egpaar was destyds in hul bakkie op die plaas toe hulle deur die aanvallers gekonfronteer is. Foto: Verskaf

Byna vier jaar nadat Hercu en Lesley van Niekerk op hul plaas buite Modimolle in Limpopo aangeval en Lesley in die maag geskiet is, is hul aanvallers 20 jaar lank tronk toe gestuur.

Die Zimbabwiërs John Deba en Dumisani Manziyo is Dinsdag in die streekhof op Modimolle tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis op een aanklag van huisroof en ’n verdere vyf jaar vir elk van twee aanklagte van poging tot moord.

Sakkie Louwrens, verbonde aan Bosveld-misdaadondersoeke wat die voorval destyds aanvanklik ondersoek het, sê die vonnis vir poging tot moord sal gelyklopend met dié vir moord uitgedien word.

Die Van Niekerks is op die oggend van 15 Junie 2018 op hul plaas aangeval. Lesley is gedurende die aanval in die maag geskiet terwyl Hercu aangerand is. Een van die egpaar se honde is ook gedurende die voorval geskiet.

Maroela Media het destyds berig die egpaar was omstreeks 08:00 op pad na die beeskamp om vee te voer toe vier aanvallers hulle oorval het. Die Van Niekerks was in hul voertuig toe die verdagtes uit die bosse te voorskyn gekom het. Hulle het geld geëis en in die proses vir Lesley deur die ruit van die bakkie geskiet. Die aanvallers het ook op Hercu losgebrand, maar hy is nie gewond nie. Hy is wel uit die bakkie geboender en aangerand.

Die aanvallers het daarna met die egpaar in hul bakkie na die huis op die plaas gery. Een van die egpaar se honde is daar geskiet terwyl ’n bloeiende Lesley aan ’n bed vasgebind is.

Hercu is gedwing om die kluis vir die aanvallers oop te sluit voor hy ook vasgebind is.

Die aanvallers het daarna met geld, vuurwapens en die bakkie van die toneel gevlug.

Die bakkie is in die Crecy-omgewing langs die pad gelos en die aanvallers het van daar te voet gevlug. Van die gesteelde vuurwapens is in die bakkie agtergelaat.

Lesley is ná die aanval in ʼn kritieke toestand met ʼn helikopter na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem vir mediese behandeling.

Sy is ná die aanval byna ’n maand lank in die hospitaal behandel, maar het sedertdien herstel.

“Dit is lekker om deel van die aanvanklike ondersoekspan te kon wees en inligting te kon help inwin wat gelei het tot die inhegtenisneming ná die wrede sinnelose aanval,” sê Louwrens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Die regstelsel is op sy knieë. Die klomp boewe moet aangewend word om net vir kos slaggate in paaie reg te maak. MRK moet geen sê hê!

Herman L ·

Hoekom word vonnise gelyklopend uitgedien? As jy 10 jaar in die tronk was vir misdaad A en jy word na vrylating vir misdryf B aangekla, gaan die regter jou dan vryspreek omdat jy al reeds ‘n lang straf uitgedien het vir A? Of kry jy afslag omdat jy meer as een misdaad gelyktydig gepleeg het?

Manie ·

Belaglike vonnis, 15 jaar vir huisroof en net 5 jaar vir poging tot moord?

Swerwer ·

Daar is nie woorde nie. Maar ja, nooi die buitelanders in dat hul help moor om die lig so effens van die ANC te lig. Onbeskryflik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.