Plaasaanvallers probeer kind in oond druk

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Hulle prys die Here vir sy genade nadat ʼn groep van agt aanvallers ʼn gesin van vyf Saterdag helder oordag in hul plaashuis in Mpumalanga oorrompel en aangehou het.

Niël Bierman (47), sy vrou, Sonja (43), en hul kinders, Daniel (13), Jacobus (10) en Gideon (6), het wonderbaarlik ongedeerd van die aanval afgekom, ten spyte daarvan dat een van die rowers ʼn skoot in die huis afgevuur het.

Die aanvallers het boonop probeer om die jong Gideon in die oond te druk in ʼn poging om die gesin te dwing om geld aan hulle te oorhandig.

Die gesin boer met kleinvee naby Ogies en bedryf ook ʼn gastehuis vir kontrakteurs wat in die omgewing oornag.

Onder dekmantel die huis binne

Sonja sê sy was om 09:45 op pad om Gideon dokter toe te neem, toe ʼn vrou en twee mans by die huis opgedaag het om navraag oor verblyf te doen.

“Daar was niks snaaks daaraan nie, mense loer gereeld in en vra oor die gastehuis,” sê Sonja.

“Ons almal, insluitend my man, het by die kombuistafel gesit toe ek besef dat die vrou al vantevore by ons kom aanklop het.”

Die vrou het dit egter afgemaak toe Sonja haar daarna vra.

“Ek het een oog op my skootrekenaar gehad toe ek sien dat die twee mans uit die huis gaan. Toe ek weer opkyk, het ʼn klomp gewapende mans skielik voor ons gestaan.”

Daar was byna geen tyd om te reageer nie en binne ʼn oogwenk het sewe mans, gewapen met ʼn haelgeweer en vyf pistole, Niël vasgebind en in die kombuis aangehou. Sonja is deur die huis geneem terwyl die rowers na die kluis gesoek het.

“Daar was niks wat ek kon doen nie, so ek het dadelik hardop begin bid en die Here om hulp gevra.”

Verskeie van die mans is saam met Sonja na haar oudste seun se kamer waar die kluise is. Op pad na dié kamer toe het hulle vir Jacobus, wat in die badkamer geskuil het, asook vir Gideon gegryp.

Die mans het etlike kere die wapens op Sonja en die kinders gerig voor die kluise oopgesluit is.

“Al wat ons in die kluis gehou het, was ʼn haelgeweer, ʼn pistool en ʼn antieke vuurwapen wat gerestoureer is. Hulle het dit gevat, maar herhaaldelik gevra vir geld, al het ek vir hulle gesê ons hou nie geld in die huis nie,” sê Sonja.

Deurlopend gedreig

Die Biermans. (Foto: Verskaf)

Terwyl Sonja die kinders kalm probeer hou het, is ʼn skoot elders in die huis afgevuur.

“Ek het nie geweet of my man nog lewe nie.”

Die mans het daarna vir Gideon gegryp en kombuis toe geneem waar hulle bakke uit die oond begin haal het.

“My man het in vrees toegekyk hoe hulle probeer om vir Gideon in die oond in te druk, maar hy het hard gestoei en daarteen baklei.”

Die mans het eindelik opgegee, maar steeds op geld aangedring.

“Ek het vir hulle ʼn spaarblikkie gegee en die R200 wat in my beursie was, maar steeds het hulle op meer aangedring. My oudste seun het naderhand sy beursie met ʼn paar sente in vir hulle gegee en die mans gevra om ons asseblief nie te skiet nie,” sê Sonja.

Die mans het Sonja deur die huis geneem op soek na nog geld. “In elke kamer het ek gewonder wat met my gaan gebeur …”

Die vrou, wat deur alles buite gewag het, het later Sonja en Niël se bankkaarte en die PIN-kodes daarvoor geëis, waarna Sonja en die kinders in ʼn leefvertrek vasgebind is.

“Ek het nie geweet wat volgende gaan gebeur nie. Sit ons in ʼn ry om tereggestel te word? Ek het net gebid dat my kinders nie moet sien hoe ek doodgeskiet word nie,” sê sy.

Veewagter verwilder aanvallers

Skielik het die mans en die vrou ʼn paar selfone, die vuurwapens en een van die Isuzu-bakkies se sleutel gegryp en verdwyn. ʼn Doodse stilte het oor die huis neergedaal.

“Ons het later gehoor dat ons veewagter Naweza Mtheake (29) na die huis toe gekom het omdat die hoenderkos op was. Die vrou wat buite gestaan het, het hom nadergeroep, maar hy het onraad vermoed en ʼn verskoning uitgedink oor waarom hy nie kan naderkom nie.

“Toe hy ʼn ent weg was, het hy begin hardloop op soek na hulp.

“Ons glo dat die Here op daardie dag die veewagter gestuur het sodat die aanvallers spore moes maak.”

Nadat die gesin aanvanklik roerloos gesit het, het Niël eindelik van die kombuis af geroep.

“My kinders het eenkeer ʼn YouTube-video gekyk oor hoe ʼn mens jou hande moet hou wanneer jy vasgebind word sodat jy kan ontsnap, so hulle het dit reggekry om hulleself en my te bevry voor hulle die huis se deur gesluit het.

“Ons was amper te bang om verlig te wees dat hulle weg is.”

Sonja sê die gesin ontvang berading, maar die kinders is steeds uiters getraumatiseer.

“My oudste is kwaad oor wat gebeur het, Jacobus is steeds bang en Gideon is onseker oor alles en wil heeltyd vasgehou word.

“Ek en my man is nog in verwondering dat die Here ons beskerm het en dat daar glad nie vrees in ons harte heers nie.”

Aanvallers nog soek

Nadat die Biermans se buurman by die huis opgedaag het, het sowat 20 polisiebeamptes sowat ʼn uur later ook daar aangekom.

“Die polisie sê sulke voorvalle is nie algemeen in die gebied nie, so almal het groot geskrik,” sê Sonja.

Die polisie en plaaslike buurtwag se aanvanklike ondersoek het intussen aan die lig gebring dat die verdagtes ʼn voertuig in die omgewing gekaap het, nadat iemand vir hulle ʼn saamrygeleentheid aangebied het.

Die groep is daarna met die gekaapte motor – en die eienaar daarvan – na die Biermans se plaas waar die gesin aangehou is.

Die kapingslagoffer is ná die aanval met die voertuig langs ʼn pad gelaat.

“Die polisie kon nog nie ons bakkie wat gesteel is of die verdagtes opspoor nie, maar al die polisiestasies en beamptes by grensposte is op die uitkyk daarvoor.”

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn jong gesin Maandag in die Vrystaat oorval en beroof is nadat die vermeende aanvallers ook ʼn saamrygeleentheid na hul plaas gekry het. Daar het hulle ook op geld aangedring en later met die gesin se Isuzu-bakkie op die vlug geslaan. Dié aanval is een van drie wat op dieselfde dag in die Vrystaat plaasgevind het.

“Ons het elke aand ʼn nagwag en is so paraat deur die aand dat ons nie besef het dat hierdie soort aanvalle ook op ʼn doodgewone Saterdagoggend kan gebeur nie,” sê Sonja.

“Dit is te danke aan ons Hemelse Vader dat ons vandag die storie kan vertel. Hopelik sal dit help om die vrou en mans wat dit gedoen het, op te spoor voor hulle dit weer probeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

AmY ·

Dis bitter erg.
Ek is net dankbaar hulle is ongedeerd. Dit kon soveel erger gewees het.
Klein Gideon: sterk staan. Jy is dapper, hoor.
Ek dink ons almal moet daai YouTube-video gaan kyk.

Harley Davidson ·

Ek dink hulle weet hoe pateties die polisie is en die media is te bang om beskrywing van hulle te gee,Malema is die enigste leier wat iets beteken in Suid Afrika as die aanvallers wit was en die seun swart sou daar oorlog wees ,geen woord van Groenewalt ,Steenhuizen,Ramaposa,de lily of Mashaba oor die voorval nie.

Misky ·

Dankbaar saam met julle dat dit nie erger uitgedraai het nie. Ek sal bid vir klein gideon, dit moet ‘n angsbevange paar oomblikke gewees het

madels ·

Terwyl ek hierdie berig gelees het, was dit asof ek die hele trauma beleef wat hierdie gesin deurgegaan het. Ek is die Here ewig dankbaar dat niemand iets oorgekom het nie.

Perdeby ·

Hierdie mense moet net dood eenvoudig die doodstraf kry, geen ander straf is goed genoeg nie, dan sal al die oor grens sluipers 2 keer dink. Hierdie is lankal onaanvaarbaar.

Mariaan ·

So dankbaar julle is ok…MAAR ongelukkig kan mens nie vandag met n oop deur sit dat die gemors net kan instap nie…ons bly in n kompleks..en selfs hier hou ons deure/ hekke toe. Ek verstaan vir boere is dit moeilik…maar asb…hou veiligheidshekke toe…wees gewapen TEN AllE tye…daar is nie genade vir ons nie…doen dit vir jul kinders….sterkte vir julle

Corne123 ·

Die wetters moet in n oond geruk word maar nee hier in SA het krimenele meer regte as die mense

Di ·

Hoop KARMA kry hierdie spul beet! Jy saai wat jy maai – glo dat hulle dag sal kom. Dalk gaan hulle nie so lig daarvan af kom nie, daai blinde sambok slaan hard! Sterkte aan die familie, so bly julle is almal ongedeerd.

Jerome ·

Die liefde vir geld maak dat jy nie oomgee vir die volgende persoon.

Chantel ·

Hierdie storie het my erg ontstel gisteraand, ek het in my gebed gevra hoekom die “mense” dan ‘n kind so wil mishandel en die trauma waardeer daai lyfie moes gaan. Hierdie gesin se trauma raak aan my hart en ek as ‘n mamma is bitter hartseer vir dit wat daai mooi seuns nou moet deurgaan.
Hierdie is definitief ‘n “hate crime”. Geen MENS sal so iets doen aan ‘n ander nie. Dis net eenvoudig vir my duiwels. Hierdie is net my opinie.
Ek bid vir julle gesin.

Schalk ·

En dan bestaan daar nog ‘n regsstelsel wat op “tegniese redes” die misdadigers laat wegkom. ‘n Regstelsel wat die onskuldige in ‘n staat van beskuldiging plaas sou hy weerstand bied en per ongeluk ‘n gewetenlose misdadiger beseer of dood. Die wet beskerm die gemors meer as die sout van die aarde.

Elmarie ·

Ek is ook saam met julle dankbaar dat julle fisies ongedeerd daarvan af gekom het. Maar dit maak my bitter vies dat ‘n mens moet dankbaar wees jy kom lewend van so iets af. Dit is NIE veronderstel om te gebeur nie. Jou huis is jou veilige hawe en na so geval is dit nie meer nie. Emosionele trauma vat soveel langer om te genees.

Baie sterkte aan die gesin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.