Plaasaanvallers skiet deur kamerdeur waar paartjie skuil

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

’n Paartjie het Vrydagaand ’n noue ontkoming gehad toe minstens drie aanvallers op hul plaas tussen Hammanskraal en Rust de Winter toegeslaan het.

Die plaas is in die Pienaarsrivier-polisiedistrik in Limpopo geleë.

Die twee het in hul slaapkamer weggekruip en die skote wat deur die houtdeur op hulle gevuur is, het die paartjie wonderbaarlik gemis.

Dit lyk of die aanvallers toegang tot die huis verkry het deur die diefwering van ʼn badkamer in die huis oop te breek.

Die pa van die man wat in die aanval betrokke was, het op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat. Hy sê die twee is nie fisiek beseer nie, maar wel uiters getraumatiseerd.

“Emosioneel is hulle glad nie lekker nie. Hulle sien vandag [Maandag] ʼn berader.”

Volgens hom het die vrou (40) omstreeks 23:15 wakkergeskrik toe sy ’n kraakgeluid op die houtvloer in die eetkamer gehoor het.

Sy het ondersoek ingestel en in een van die aanvallers met ’n pistool in sy hand vasgeloop.

“Sy het geskree en na die slaapkamer teruggehardloop – die aanvaller kort op haar hakke. Dit was net sowat vier meter van die eetkamer weg.

“My seun (27) het besef daar is fout en na die deur gestorm.”

Die man kon die slaapkamerdeur in die aanvaller se gesig toeklap en dié het deur die deur op die paartjie gevuur.

“Die deur het gelukkig nie ʼn handvatsel aan die buitekant gehad nie.

“Die splinters van die houtdeur het aan my seun se klere vasgesit. Gelukkig is niemand raakgeskiet nie en kon hulle hulp van kollegas op naburige plase ontbied.”

Dit aanvallers het oënskynlik met leë hande gevlug, maar het ook die bande van die paartjie se voertuig stukkend geskiet.

Volgens die pa het snuffelhonde van die polisie ʼn dag ná die voorval die spore van drie aanvallers gevind.

“Die spoor het by ʼn grensdraad op die plaas doodgeloop.”

ʼn Saak van huisbraak en poging tot moord is intussen by die polisie op Pienaarsrivier aanhangig gemaak.

Maroela Media het ʼn navraag oor die aanval aan die polisie gerig, maar nog nie terugvoer ontvang nie. Dit is onduidelik of enigiemand al in verband met die voorval in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

Bly die twee mense is veilig en is nie raak geskiet nie. Maar ek wil vra…..het iemand ‘n geweer in die hand gehad om terug te vuur. Selfs slaap jy kaal, moet daai geweer aan jou heup hang dag en nag!

Kokerboom ·

Hoekom is hul nie gewapen as hul op plaas/kleinhoewe bly?Ondersoek instel???

Frank ·

Dit gaan my verstand te bowe. Die artikel sê tog dis HULLE plaas. Daar is seker maar ‘n baie goeie rede voor

miavos ·

Die feit dat daar deur die kamerdeur op die paartjie geskiet is, is ‘n bewys daarvan dat hierdie rooftogte nie bloot net kriminaliteit is soos deur Cele en kie beweer word nie, maar wél beplande MOORDaanvalle.

Samuel ·

Weer ‘n bewys van hoe gewelddadig mense in Suid-Afrika is. Booswigte is ook nie bang vir die polisie nie.

SlinkseKoljander ·

Dit is nie roof nie, hulle is uit om te moor. Beskerm jouself, skiet eers vra vrae later.

Gert ·

Jy moet net kwes sodat jy nie in die moeilikheid kan kom nie

E ·

Dead men tell no lies, en wat soek jy in die nag in iemand se huis as jy nie ‘n genooide gas is nie? dan moet jy maar gevolge dra.

Frank ·

Destyds gelees van ‘n voorval waar die inbreker verlam is nadat hy geskiet is. Die eienaar/verdediger/skut moes toe maandeliks die man en sy gesin voorsien. Kan nie onthou of daar apelle was en of dit steeds so aangaan nie.

commontar ·

Is dit ‘n sarkastiese opmerking? Anders is dit die swakste raand wat jy iemand kan gee.

Swerwer ·

Bly julle is veilig. Die lamsakke/papbroeke kom altyd meer as 1 met ongelensieerde wapens. Sodra jy terugvuur of jou verset hardloop die spul gewoonlik weg. Dit dryf mens teen die mure uit dat die ANC/Hoed niks omtrent die saak doen nie.

Baardman ·

Ons moet onsself beter beveilig. Dit mag nie gebeur dat die moordenaars/inbrekers toegang verkry sonder dat daar een of ander alarm afgaan VOORDAT hulle in die huis is nie. Beams rondom die huis dalk. Dit gee net n bietjie eksta tyd om n teenaanval te loods of om hulp van bure te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.