Plaasaanvallers teister Elgin-vallei

Elgin in die Wes-Kaap. (Foto: Wikipedia)

“Jy hoor ʼn geluid in die nag en wonder dadelik ‘is ons vanaand volgende?’”

Só het ʼn inwoner van die poskaartmooi Elgin-vallei in die Overberg-distrik in die Wes-Kaap gesê ná verskeie aanvalle op plase die afgelope maand. Maroela Media het verneem van minstens vier voorvalle waartydens inwoners van die distrik op plase oorrompel of besteel is.

In die jongste voorval is gaste by South Hill Vineyards in die gebied Maandagaand oorval terwyl hulle in ʼn huis op die plaas tuisgegaan het. Volgens die polisie het vyf verdagtes met huishoudelike items gevlug. Hulle is steeds op vrye voet.

Nog voorvalle is die afgelope weke by Rockhaven Farm, ʼn bekende en gewilde troubestemming in die streek, asook by die Oneiric-wynlandgoed aangemeld.

Vroeër vandeesmaand is ʼn vrou ook op ʼn appelplaas in die vallei oorrompel. Die vrou het na haar slaapkamer gevlug en kon die paniekknoppie druk om hulp te ontbied. Sy is van persoonlike besittings beroof, maar is nie beseer nie. Maroela Media verneem die boosdoeners het talle van die huis se ruite met bakstene uitgeslaan voordat hulle gevlug het.

“ʼn Mens is te bang huis toe te gaan. Mense sê altyd ná sulke voorvalle ‘gelukkig het niemand seergekry nie’, maar dit is verskriklik en moet glad nie gebeur nie,” het ʼn inwoner op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê.

Die polisie het glo ʼn spesiale taakspan op die been gebring om die voorvalle die afgelope ruk te ondersoek. Die polisie wou dit egter nie bevestig nie. Kol. André Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het wel gesê die Grabouw-polisie ondersoek die voorvalle wat die afgelope maand in die Elgin-gebied aangemeld is.

Die vallei is ʼn gewilde toerismebestemming. Die afsonderingsregulasies het egter nie net die toerismebedryf hier ʼn hewige knou gegee nie; die voortgesette verbod op die verkoop van alkohol – wat wyn insluit – dreig om gemeenskappe soos dié op hul knieë te dwing. Die vlaag aanvalle word beskryf as is iets wat die gebied doodeenvoudig nie kan bekostig nie.

Thomas van Dalen, hoof van gemeenskapsveiligheid vir AfriForum se Suidstreek, het gesê daar was sedert die verslapping van vlak 5-afsonderingsregulasies beslis ʼn toename in voorvalle – en ook nie net in die Elgin-gebied nie.

“Daar was ʼn duidelike eskalasie, maar dit is ʼn onmoontlike taak om ʼn landelike gebied heeltemal te patrolleer of te polisieer. Mense stap van plaas tot plaas en jy kan dit nie keer nie. Dit lyk ook nie of die huidige aandklokreël enige verskil maak nie,” het Van Dalen gesê.

Hy sê dit lyk of die boosdoeners se werkswyse grootliks ooreenstem. Die rowers dra gewoonlik klapmusse, is met vuurwapens gewapen en praat vermoedelik nie ʼn plaaslike taal nie. Verskeie van die mans dra dieselfde soort tekkies.

Van Dalen het mense aangemoedig om by plaas- en buurtwagte betrokke te raak. “Mense moet self ook begin verantwoordelikheid aanvaar. Hulle moet byvoorbeeld ʼn veilige sel in die huis skep en gebruik maak van elektroniese veiligheidsmaatreëls.

“Betrokkenheid is deurslaggewend,” het hy gesê.

Die landbouorganisasie TLU SA stem saam en sê uit sy terugvoer ná onsuksesvolle aanvalle is dit duidelik dat slagoffers wat baie paraat is – met ʼn vuurwapen byderhand – ʼn aanval doeltreffend kan afweer.

“In dieselfde trant is die reaksie van ʼn goed georganiseerde plaaswag wat bestaan uit lede wat die omgewing en inwoners goed ken, van onskatbare waarde wanneer die reaksietyd en doeltreffende optrede van die plaaslike polisie beperk is,” het Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee en adjunkpresident van die organisasie, gesê.

“Veiligheid begin by die individuele boer, daarna die gesin en werkers en vloei oor na die bure, plaaswag en polisie.”

TLU SA het ook weereens sy kommer oor die styging in plaasaanvalle die afgelope ruk te kenne gegee. Die organisasie het gesê afgesien van stygende misdaad, het die afsonderingstydperk ook gelei tot komplikasies wanneer polisiestasies weens Covid-19-besmettings tydelik moet sluit. Die publiek is dikwels nie bewus van alternatiewe kontaknommers vir polisielede by hierdie stasies nie en is dan aan hulself oorgelaat tydens aanvalle.

“TLU SA het lankal reeds besef dat landbouers nie op die regering kan staatmaak vir beveiliging nie. Plaasbewoners moet toenemend hulle eie vermoëns en kapasiteit inspan om veiligheid te verseker. Die oplossing lê in persoonlike paraatheid,” het Geldenhuys gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oujongvrou ·

En nou moet almal glo dis maar oor die covert. Hierdie mense word ingevoer om skrikbewind te voer. Duister agendas word hier gevolg. Mense bewapen julself.

JohanR ·

Praat vermoedelik nie ʼn plaaslike taal nie. Verskeie van die mans dra dieselfde soort tekkies. Is die taal Mandarin, en die tekkies Nikes! Hoe weet ons die Kubane dokters was regtig dokters, en nie Che Guevara en sy trawante nie? Met die ANC weet jy nooit nie! Daai geweer in jou hand is nou die beste medisyne in Suid Afrika!

Trevor ·

as jy nog nie opgelei is vir self beskerming, kry wagte of maak seker jou hele familie kan skiet en het n geweer

Mariana ·

En so sal dit voortgaan. Maak nie saak wie jy is of waar jy bly, teiken sal jy wees. Waar is ons pragtige land heen, dit is oortrek met kriminele van alle ouderdomme, gewapen. En ons het geen verweer. Nee staan op en baklei vir jouself en jou familie. Besittings kan vervang word maar nie lewens nie en nee miskien het niemand seergekry in dié voorvalle nie, maar sielkundig is die letsels wel daar. Bly paraat al is jy in jou eie huis.

JohanR ·

Skiet eerste, en as hy nog lewe vra hom wat soek hy in jou huis, in jou tuin of op jou erf. As hy dood is….just to bad! Wens mens kan ‘n positiewe leidraad volg van minibus TAXI- BLF-EFF-ANC toe. Maar wag maar, een van die dae gaan iemand praat na ‘n plaas aanval, en dan sal die paaitjie gevolg word.

Kanjynoumeer ·

Dra jou gelisensieerde wapen op jou 24/7.
Gebruik dit binne die raamwerk van die wet.
Dit is of jou lewe, familie en ander of die kriminele sin.

Adeline ·

Georganiseerde misdaad gehuur deur die voos vrot korrupte anc regering as huursoldate wat genoem word “Black Panters” google dit maar!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.