Plaasaanvallers wat geld soek, wil ook baba gryp

(Argieffoto: Maroela Media)

Tien swaar gewapende mans het Maandagoggend ʼn gesin op hul plaas naby Bothaville in die Vrystaat oorval en beroof. Twee van die aanvallers is kort ná die aanval vasgetrek, maar die ander is steeds op vrye voet.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het die aanvallers omstreeks 09:30 die Yukon-plaas in Bothaville met vier vuurwapens en ʼn AK47-geweer betree.

“Die verdagtes het met ʼn betaalde rygeleentheid na die plaas gegaan. Die bestuurder van die bakkie het egter agtergekom iets is nie pluis nie en weggejaag. Hy het langs die pad ʼn boer gewaarsku en na bewering later ook die polisie ingelig,” sê Thakeng.

Die aanvallers is die plaashuis binne waar hulle Willie Coetzer (29), sy vrou, Elé (29), sy skoonpa, Gottlieb Venter (59), en ʼn huiswerker oorval het. Die egpaar se babadogtertjie was ook in die huis.

“Die verdagtes het die vuurwapens en AK47 op die gesin gerig en geld geëis. Die gesin het vir hulle geld gegee, maar volgens die aanvallers was dit nie genoeg nie. Die aanvallers het toe gedreig dat hulle die babadogtertjie gaan vat indien hulle nie meer geld kry nie.”

Volgens Thakeng het die aanvallers Venter met die agterkant van die vuurwapen op sy kop geslaan.

“Hulle het hom ook vasgemaak en geskop terwyl hulle geld geëis het.”

Die verdagtes het in die gesin se Isuzu-bakkie gevlug en die polisie, buurtwag en ʼn veiligheidsmaatskappy is ingelig om op die uitkyk vir die bakkie te wees.

“Die plaaslike buurtwag het die bakkie agternagesit. Die verdagtes het iewers langs die pad die bakkie verlate agtergelaat en te voet in die Kgotsong- informele nedersetting gevlug.”

Volgens Thakeng het die polisie etlike ure ná die aanval twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 40 jaar, opgespoor en vasgetrek. Hulle is oorspronklik van die Tembisa-nedersetting in Gauteng.

“Vier selfone wat aan die verdagtes behoort het, is agterop die bakkie gevind en die polisie het daarop beslag gelê. Nog geen vuurwapen wat tydens die aanval gebruik is, is gevind nie.

“ʼn Grootskaalse soektog na die oorblywende verdagtes is van stapel gestuur.”

Volgens Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek, is die gesin almal vir mediese behandeling gestuur en het hulle reeds traumabehandeling ontvang.

Na verneem word, het Elé en haar babadogter ongedeerd van die voorval afgekom. Venter het mediese behandeling ontvang en herstel tans tuis.

Die polisie waarsku inwoners om nie self die verdagtes te probeer vastrek nie, maar eerder die polisie te ontbied.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die ander verdagtes kan lei, kan kol. Ben Bolsick by 082 466 8530 bel of die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Di ·

Begin eerder soek wie agter al die plaasaanvalle sit – kry die spul gemors om te begin praat sodat DIE wat hieragter sit vasgetrek kan word. Hierdie is geokestreerde aanvalle, punt!

Shakespeare ·

Jy hoef nie verder te soek as Mal emma en Zuma se telge nie.

Wonder ·

Bel eerder die polisie dit gee die rowers kans om te kan vlug en weg te kom met alls…

Surfer ·

“Die polisie waarsku inwoners om nie self die verdagtes te probeer vastrek nie, maar eerder die polisie te ontbied.” Wat n grap!!!!!

Misky ·

Waar was julle wapens en hoe kry hulle net toegang tot die huis? Die skurke is uitgeslape en kom nie meer een of twee nie. Nee sommer tien op ‘n slag!!!!

Harley Davidson ·

Mense op plase moet hulself bewapen en beveilig hoe kom tien terroriste een met ‘n ak in jou huis sonder dat enige alarm,hondjie,ganse dit sien of hoor.

Toy ·

Skuim van die aarde. Hierdie aanvalle is opdragte wat aan hulle gegee word om dit te doen.

ES ·

Mense, julle moet meer paraat wees. Selfs in my huis in die stad in ‘n stil buurt is ek elke sekond van die dag paraat en veiligheidsbewus, my vuurwapen aan my of binne onmiddelike bereik. Mens kan nie anders nie. Baie bly julle het redelik ongedeerd hiervan afgekom.

Elke keer as ek hoor kinders was ook slagoffers van misdaad dan dink en aan ou Willemientjie… Hierdie misdadigers het geen respek vir jou lewe nie.

Rooikopheks ·

Die 2 wat gevang is kom van Tembisa af?? Dis nogal ver van Bothaville af, en is met betaalde vervoer afgelaai by die plaas. Dit klink of hulle ń spesifieke plaas geteiken het. Baie onrusbarend.

Genis ·

Die ongelukkigheid is, jy sien enige iemand as n skurk…. die samelewing is siek…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.