Plaasaanvalslagoffers deel hul nagmerrie-ervarings

Bernadette Hall, David Baché van RFI en Ian Cameron van Afriforum in gesprek. (Foto: Verskaf)

“Ons kan eenvoudig net bid dat God ons sal beskerm en dat soortgelyke voorvalle nie weer in ons omgewing sal plaasvind nie. Ons het darem die aanval oorleef – baie ander boere is nie so gelukkig nie en word wreed vermoor.”

Só het Jan Scheepers (79) van Koster, Noordwes, aan die internasionale media-agentskap Reuters vertel nadat hy en sy vrou, Suzie (78), verlede maand wreed op hul plaas buite dié dorp aangerand is. Die egpaar is op 4 Oktober vanjaar in die vroeë oggendure in hul bed oorval nadat aanvallers hul sitkamervenster se diefwering oopgebreek het.

“Ons is doof, so ons het hulle nie gehoor inkom nie. Toe ons wakker skrik, het hulle reeds langs my gestaan. Ek is met ’n yster oor die kop geslaan. Verder kan ek niks onthou nie,” het Scheepers vertel.

Die egpaar is met ernstige beserings na die hospitaal geneem. Die huis is ook geplunder en die kluis oopgedwing.

Jan en Suzie Scheepers staan reg vir ‘n foto saam Hillel Coetzer van Afriforum en Llewellynn Hemmens van Reuters. (Foto: Verskaf)

AfriForum het vandeesmaand verskeie internasionale media-instansies, onder andere Reuters, in kontak gebring met slagoffers van plaasaanvalle sodat verslaggewers dié ervarings eerstehands kan hoor.

Ook Radio France Internationale (RFI), ’n Franse radiostasie, het op sy beurt Bernadette Hall besoek. Hall se man, David, is op 20 Februarie 2012 op hul melkplaas buite Fochville, Gauteng, doodgeskiet. Bernadette is tydens dié plaasaanval met ’n panga aangerand.

Paulos Moloi en Amos Nyangiwe is destyds van die moord op David aangekla, maar is in 2013 vrygespreek op alle aanklagte in verband met dié plaasaanval. Die staat kon nie bo redelike twyfel hul skuld bewys nie.

Volgens Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die Noordstreek, het dié burgerregte-organisasie se gemeenskapsveiligheidspan saam met die internasionale media-instansies op afsonderlike afsprake slagoffers van plaasaanvalle besoek aangesien “hierdie mense sterk mense is met sterk woorde”.

“Ons kan nie toelaat dat hulle eenvoudig deel van die statistieke word nie. Dit is belangrik dat slagoffers hul stories oor plaasaanvalle vertel en die wreedheid daarvan beklemtoon. Ons moet internasionale dekking kry sodat bewustheid rakende die erns van die saak én die werklikheid van plaasaanvalle by mense sal insink,” verduidelik Coetzer.

Scheepers is tydens Reuters se besoek gevra of hy ’n boodskap vir pres. Cyril Ramaphosa het. Hy het hierop geantwoord: “Wie is ek om vir die president voor te sê? Ek kan hom net vra om na ons almal om te sien – wit mense ook.”

Volgens Coetzer is 366 plaasaanvalle en 49 plaasmoorde reeds vanjaar in Suid-Afrika aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gene Claassen ·

Kan julle asb. op n manier skakels plaas na die betrokke nuusberigte van die plekke wanneer dit gepubliseer word?

Al ·

Mooi so Afriforum! Gee die regering gas.
Ons sal nie stilbly nie. Ons hoort in SA, dis ons geboorteland en niemand gaan ons wegdryf nie.

Manie ·

En as jy nie n hoe profiel persoon is doen SAPS net mooi niks, die docket raak verlore en vergaar net stof

Ronel ·

Net jammer die oorledens kan nie ook hul ervarings deel nie. Fotos vertel nie die hele verhaal nie. Dankie Afriforum vir die moeite wat julle doen om die aanvalle die wêreld in te stuur en almal te wys all is not well.

IK ·

Verlede week Don.-/Vrydag se nag is by 4 plekke geroof in ons stil ou dorpie. Mense ook vasgebind en seergemaak.

Hendrik ·

Baie goeie werk, Afriforum. MM, plaas asseblief skakels na die mediaberigte sodat ons dit aan ons buitelandse virende kan stuur. Dis baie goed om nie net klem op plaasmoorde te lê nie, maar ook op plaasaanvalle. Die feit dat boere meer paraat is beteken dat heelwat moorde afgeweer word ten spyte van die hoë moordsyfer. Sal interessant wees om plaasaanval statistieke saam met plaasmoord statistieke oor tyd te sien. Ek is 100% oortuig dit selfs ‘n sterker boodskap oor die aanslag op boere toon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.