Plaasaanvalsyfers skok: Donker begin vir 2018

Johannes Cornelius Meyer is in Februarie 2018 tydens ʼn plaasaanval in die Charl Cilliers-omgewing in Mpumalanga vermoor. Foto: Verskaf

Indien die huidige tempo van plaasaanvalle vir die res van die jaar voortduur, sal die getal plaasaanvalle vir 2018 meer as 100 aanvalle méér wees as in verlede jaar.

Só sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum. Volgens AfriForum se syfers was daar tot dusver in Februarie reeds meer as dubbel soveel plaasaanvalle as in Februarie 2017.

“Daar was tot dusver vandeesmaand reeds 44 plaasaanvalle en vyf plaasmoorde en daar is nou eers drie weke van die maand verby. In Februarie 2017 was daar net meer as 20 plaasaanvalle,” sê hy.

Volgens AfriForum het daar tot dusver vanjaar reeds 85 plaasaanvalle plaasgevind. Dit is dus 85 plaasaanvalle in net sewe weke – gemiddeld 12 aanvalle per week. Daarby het AfriForum ook reeds nege plaasmoorde vir die jaar aangeteken.

TLU SA se amptelike syfers verskil van AfriForum sʼn, maar is ewe kommerwekkend. Volgens Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, was daar vanjaar reeds altesaam 72 plaasaanvalle en agt plaasmoorde.

Geldenhuys sê volgens hul syfers het die grootste getal plaasaanvalle oudergewoonte in Gauteng voorgekom – 16 aanvalle en twee moorde tot dusver vir 2018. Dit word gevolg deur Mpumalanga waar daar 15 aanvalle en drie moorde voorgekom het, Noordwes met tien aanvalle en Limpopo met sewe aanvalle.

Berdus Henrico en sy verloofde is op 6 Februarie 2018 deur drie gewapende mans op ʼn plaas buite Vaalwater in Limpopo aangeval. Foto: Verskaf

Sowel Cameron as Geldenhuys noem dat daar beslis ʼn toename in plaasaanvalle in die Wes-Kaap en Noord-Kaap opgemerk kan word. Geldenhuys sê dit is moeilik om te bepaal waaraan hierdie toename toegeskryf kan word, maar meen dit is moontlik dat veiligheidstrukture in ander provinsies sterker en meer georganiseerd raak en dat dit tot die verskuiwing in aanvalle lei.

Cameron sê dat daar in die afgelope week ʼn opmerklike konsentrasie van aanvalle voorgekom het, wat die kollig opnuut op die krisis plaas. “ʼn Tendens wat ons wel by vanjaar se aanvalle op plase en kleinhoewes waarneem, is hoeveel van die slagoffers teruggeskiet het. Ons weet van minstens drie plaasaanvalle waar aanvallers gewond of doodgeskiet is toe slagoffers hulself verdedig het. Dit is aanduidend daarvan dat daar ʼn verbetering in mense se paraatheid is.”

Cameron meen mense wat op plase woon, sien hoe baie plaasaanvalle plaasvind en hoe groot die probleem is en besef hulle het geen ander keuse as om hulself te verdedig nie.

Geldenhuys wys daarop dat talle aanvalle op plase en kleinhoewes betyds afgeweer word en dat dit dus nie deel vorm van die amptelike statistieke nie. “Dit is wel ʼn positiewe tendens dat mense daarin slaag om aanvalle af te weer. Mense raak toenemend meer georganiseerd. Indien hierdie aanvalle nie afgeweer is nie, sou die syfers nog hoër gewees het.”

Hy meen dit is egter kommerwekkend dat daar meer gereeld plaasaanvalle voorkom waar slagoffers ernstig beseer of vermoor word sonder dat iets tydens die aanvalle gesteel word.

Charles Back, eienaar van die wyn-en-kaasplaas Fairview in die Paarl, is in Februarie 2018 in sy huis op die plaas aangeval en aangerand. Foto: Facebook via Fairview Wine and Cheese.

Geldenhuys verwag nie dat die onlangse politieke verwikkelinge en Ramaphosa se inswering as president van Suid-Afrika enige beduidende invloed op die regering se hantering van plaasaanvalle sal hê nie. “Ramaphosa was nog altyd in die politiek betrokke en deel van die regering – hoekom sal hy nou skielik sy siening en benadering ten opsigte van plaasaanvalle verander? Inteendeel, die uitlatings wat hy oor grondgryping sonder vergoeding maak, is eintlik kommerwekkend,” sê hy.

Cameron is ook nie hoopvol dat ʼn regering met Ramaphosa aan die stuur die probleem van plaasaanvalle met meer erns sal takel nie. “Ek dink nie met Ramaphosa se aanstelling sal daar veel verander nie, tensy daar ʼn verandering aan die minister van polisie gemaak word. Daarom moet mense op hulself en hul eie strukture staatmaak om hulself te beveilig,” sê hy.

“Die algemene politieke retoriek is steeds dat boere oor die algemeen mense is wat slegte dinge doen. Hoe meer hierdie retoriek herhaal word, hoe meer word hierdie opvatting onder dele van ons bevolking versterk. Daarom is ek nie hoopvol dat Ramaphosa enige beduidende verandering in hierdie opsig sal bring nie.”

Hy sê AfriForum wag steeds op ʼn antwoord van die nasionale polisiekommissaris oor ʼn versoek om oor die kwessie van plaasaanvalle en -moorde te vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Al ·

Kan daar nie ñ kollektiewe regsaksie teen die Staat ingestel word deur slagoffers van plaasaanvalle en moorde nie?
Die politieke uitsprake wat die Staat nie teen optree nie en versuim om hul plig na te kom?
Ons burgeregte word tog mos in die Grondwet beskerm.
Wat van die Regering by Internasionale Strafhof te verkla?
Ek kan nie glo dat ons regte so vertrap word en NIKS word daaromtrent gedoen nie.

Johan de Beer ·

Elke bietjie help, lees asseblief my opebrief hier…
www opebrief com

Johanné steyn ·

Al, ek stem saam. Volgens doe Grondwet het ons gronde om die staat te dagvaar

Irene ·

Baie seer saak tyd om die wortel van die kwaad te kry die persone wat se kill de boer moet nou ook dronk toe gaan hul is die opstokers

Lolla ·

Moet nie vergeet van die nuutste uitlating gedurende die optog onlangs voor Hoerskool Overvaal, waarvan die DA deel was, om die boer se kind ook dood te maak?!

Hennie ·

Soek geen verder as die ANC nie! Dis wat Cyril bedoel het met sy grondhervormings planne!

Heinnas ·

@hennie, ek’s bly hier’s iemand wat ook sien CR is nie die alfa en omega soos wat die Saffas dink nie, hy soek grond en grond sonder vergoeding. Hy’s nogsteeds ANC en staan saam waarvoor die ANC staan en doen.

Karel ·

Dink Zumu en kie le agter die plaasaanvalle. Hy wil die land onregeerbaar maak en terselfde tyd die fokus van hom af kry om sy vervolging so Lank as moontlik uittestel en om tyd te wen Vir nog skelm planne.

Al ·

Plaasmoorde en aanvalle word ‘gedownplay’ deur die staat en mediahuise. Ek glo dit gons behoorlik waar geheime gesprekke plaasvind. Dis jammer dat ons burgers nie ñ misdaadintelligensie netwerk het nie, net die staat wat oopoë sal jok wanneer inligting bekend gemaak moet word. Wat die werklike motief is.
Daar word al jare deur sommige politieke partye dreigemente gemaak, die moorde gaan nie stop nie.

Hendrik ·

Ek weet per 100 duisend is die boer se aanval en moord syfer te hoogste. Ek hoor van boere wat aangeval word maar die media publiseer nie ‘n daaglikse syfer van mense wat in dorpe/stede aangeval word nie.

Ada ·

Ek weet nie waarom die media huise nie elke keer wil berig sodra daar ‘n plaasaanval was nie.
Net Maroela doen dit.
Word hulle verbied om dit te doen of stel die verslaggewers net doodeenvoudig nie belang dat daar ‘n genocide aan die gang is nie.
Ek stem saam dat dit by die Internasionale Strafhof aangegee moet word.
Ook die uitsprake van Kill the Farmer Kill the Boer moet ook daar aangegee word saam met die persone wat dit graag sing……..
Indien dit wereldnuus kan word sal Ramaposa iets daaraan doen want dit sal sy beeld skaad en afgradeerings sal dalk weer voorkom – want indien die wereld besef dit is genocide – met ‘n nuwe president (alhoewel oorge-erf) – sal dit opslae maak en die wereld se oe op ons gerig kry en die afgradeerings agentskappe sal nie huiwer om S A dan af te gradeer nie. ‘n Land met genocide sal nie beleggings kan lok nie.
Die geld praat harder vir die regering van die dag as ‘n lewe – en so kan ons die regering dwing om iets aan die plaasmoorde te doen.
Wys die foto’s van die plaasmoorde en videos van wat hulle sing vir die strafhof.
Ek hou duimvas dat die instansies wat ons ondersteun dalk so ‘n stap sal oorweeg.

Anti Moorde ·

Die strafhof kan ook van al die verkragtings en moorde op die gewone publiek hoor en ook die moorde op polisie.
Die wereld moet bewus word van hierdie brutale moordagtige land en sal dan nie investeer nie – en dit sal die regering dwing om tot aksie oor te gaan.
Ja die geld is vir hulle belangriker as lewens – maar ons kan dit verander – dan kan lewens gespaar word en later as die moorde stop kan investeering plaasvind.

REG ·

Ja kyk die HOOFSTROOM media kan mos nou nie hierdie UTOPIESE DEMOKRATIESE SA en Reenboognasie waar almal in vrede en liefde saamwerk en almal equal is nou staan en sleg maak deur die REGTE syfers vir moorde deur te gee nie. Sjoe, hulle soek eerder fout by die VERMOORDE persoon (boer) as wat hulle die wrede toneel waar die boer aangerand en verbrand of opgekap is sal AFNEEM en die wereld instuur. VREEMD hoe die fotos van slawe en ou fotos van die apartheidsera nou oral weer opduik maar nie EEN foto van ‘n BEBLOEDE plaastoneel of ‘n tannie wat in ‘n rolstoel sit wat doodgeslaan is met ‘n graaf word vertoon nie. . maar o wee . Hector Peterson se foto en die doodskis video word die wereld ingestuur en ELKE DAG op gehamer deur die hoofstroom media .. NEE jong . dit is POLITIEK .. dit is daai donker onderrokkie van die mense wat uithang . TOT iets soos die polisiekantoorskietery gebeur . DAN WORD DAAR JAGGEMAAK op moordenaars. .. die plaasmoordenaars loop rustig in die strate rond.

Ben ·

Ek sê maar weer, die misdaad in die land het baie toegeneem van dat oud-pres Zuma gesing het “Kill the Boer kill the Farmer!

Handleiding ·

Is dit dalk tyd vir ‘n handleiding aangaande plaasaanvalle en aanvalle oor die algemeen, iets soortgelyks aan die skrywes van dr. Kriek vd Merwe (Sakgids vir Beveiliging van Individu, Woning, Hoewe en Plaas) en maj. WM Leonard (Plaasbeveiliging-‘n handleiding vir die boer). Sou dit dalk nodig geag word om hierdie reeds waardevolle inligting op te dateer?

Anoniem ·

Ons betaal belasting , ons betaal basies die regering om ons taal ,geloof en volk uit te roei .Dit kan nie werk nie !!!!

Tersius ·

Alles wat Trump se word wereldwyd uitgesaai.Die moorde in SA moet by Trump uitkom sodat hy die hele wereld kan inlig
Geen investeering sal dan gebeur nie.

Hendrik ·

Trump gee nie ‘n snars om vir boere in Suid-Afrika nie. Dit hou vir hom geen voordeel in om vir ons boere op te kom nie en hy tree net in eie belang op.

Tersius ·

Hendrik – jy is seker reg, dan moet ons iemand anders probeer wat dit vir die wereld sal uitblaker.

Helene Smuts ·

Hoe kan ons dit deur stuur na Cyril Ramphosa of Afri Forum Ek kan nie glo daar word niks gese of gedoen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.