Plaasbestuurder aangehou, skape gesteel

Foto ter illustrasie. (Foto: Jens Meyer, AP)

Francois Malan is 14 dormerskape kwyt nadat sy plaasbestuurder Vrydag op pad na ʼn voerkraal op Leandra in Mpumalanga deur rowers oorval en aangehou is. Afgesien van die finansiële skade wat Malan gely het, is sy bestuurder erg getraumatiseer nadat die boewe ʼn geweer teen sy kop gehou en herhaaldelik gedreig het om hom dood te skiet, terwyl hulle die skape gebuit het.

Die skape is reeds aan die voerkraal verkoop en Jean Bruwer was op pad om die skape af te laai, toe twee bakkies hom buite Hendrina van die pad af gedwing het.

“Die een bakkie het voor hom ingery en hom gedwing om stadiger te ry, terwyl die ander bakkie van die kant af gekom en hom van die pad af gedwing het,” vertel Malan, wat in Pretoria woon. Sy plaas is buite Carolina en word voltyds deur Bruwer bestuur.

“Soos blits was een van die voornemende kapers by sy venster en het ʼn vuurwapen teen sy kop gedruk. Die ander diewe het die skape, wat agter op die bakkie was, na hul bakkies oorgetel. Hulle het heeltyd vir Jean gesê as hy na hulle kyk, of net sy oë beweeg, gaan hulle hom skiet. Dit was baie traumaties vir hom gewees.”

Volgens Malan sal hy nou die R25 000 wat vir die skape betaal is, moet terugbetaal.

Malan sê hoewel dit die eerste keer is dat een van sy werkers gedreig en voorgelê is, is tientalle van sy diere sedert die begin van die jaar van sy plaas af gesteel.

“Hulle het ʼn paar maande gelede 70 beeste gesteel en kort voor dit 20 skape, waarvan ons ses teruggekry het. Dis nie net ek nie, dis al die boere in die omgewing. Ons kry bitter min samewerking van die polisie en moet maar self patrollie ry en veiligheidswagte aanstel om ʼn oog oor ons vee te hou.”

Malan het self veiligheidswagte wat die diere 24 uur ʼn dag dophou, maar moet steeds patrollie ry en seker maak die wagte doen hul werk. “Dis tyd, geld en energie wat jy nie terugkry nie.

“Dis baie frustrerend. Ons werk hard om ʼn produk op die mark te kry en dit word net so van jou weggevat deur mense wat nie daarvoor gewerk het nie of wil werk nie. Almal ly daaronder en daar word bitter min aan die situasie gedoen.”

Malan sê die polisie het hom wel die naweek genader en uitgery na die plaas toe, nadat hulle die voorval en diefstal van die skape aangemeld het. “Dit lyk of hulle die saak ernstig opneem en ondersoek instel.”

Die polisie het ook reeds al die veilingskrale in die omgewing oor die diefstal in kennis gestel en gesê om op die uitkyk te wees vir Malan se vee. “Die diere is gemerk en van hulle is onlangs gedoseer en het nog ʼn geel streep op die rug.”

Enigiemand wat die lammers of bakkies met die lammers opmerk, kan Malan by 082 877 8056 of Bruwer by 063 701 2124 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Met skaaovleis wat nou amper duurder as koperdraad is, gaan die diefstal daarvan toeneem.
Boere sal ander planne moet maak met vervoer daarvan.

Harley Davidson ·

Die boerehet sag en bang geword en die vyand besef dit en trek nou voordeel daaruit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.