Plaasbestuurder weer aanval af: ‘Ek was gereed en dit was my behoud’

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

ʼn Breukdeel van ʼn oomblik. Dít, sê ʼn plaasbestuurder van Rust de Winter in Gauteng, was wat tussen hom en die dood gestaan het toe twee plaasaanvallers hom Sondagmiddag by sy plaashuis ingewag het.

Asook die engele wat na hom gehelp omsien het, sê hy.

Die boer, wat gevra het om anoniem te bly, het gesê ván die werkers op die plaas het verlede Maandag vreemde spore opgemerk, maar gedink dit kon dalk dié van ʼn dier wees wat daar gespeel het. Dinsdag, by nadere ondersoek, het hulle nóg spore gevind, dié keer duidelike afdrukke naby die huis.

Die boer sê hy sou Sondag ná kerk eintlik later tuisgekom het, maar hy was moeg en het besluit om nie soos beplan by familie te gaan eet nie.

By die plaashek het hy sy pistool se holster losgemaak en behoorlik rondgekyk vir spore. ʼn Ent verder, by die huis, het hy op die oop grasperk stilgehou. “My selfoon het op die passasiersitplek gelê en ʼn engel het net vir my gesê ‘vat daai selfoon’,” het hy vertel.

Hy het die erf begin deurkyk en vlugtig deur ʼn gat in ʼn buitekamerdeur geloer om seker te maak niemand skuil daar nie. Die boer het ook die blombedding deurgesoek en skielik ʼn kraakgeluid gehoor van die buitedeur wat oopgaan.

“Dit was die oomblik dat ek besef het hier is moeilikheid en ek gaan moet skiet. Ek was voorbereid, en as ek nié was nie, sou ek myself nie vergewe het nie. Die wêreld is boos.

“Ek kan nie ʼn ander ou blameer vir wat hý doen nie, maar ek kan myself blameer vir wat ek nié doen nie,” het hy gesê.

Die aanvaller het ʼn rooi mussie opgehad, presies dieselfde as die mussies wat werkers op die plaas dra en hy het aanvanklik gedink dit is ʼn werker wat uit die gebou te voorskyn kom. “Dit het my verwar, want sy hand en wapen was voor sy gesig.”

Die rower het losgebrand, die man het teruggeskiet en inderhaas agter ʼn boom skuiling gevind van waar verskeie skote nog tussen hom en die aanvaller geklap het.

“Ek het nog ʼn skoot geskiet en toe skree hy ‘buya’ en kom sy maat by die buitekamer uitgehardloop.”

Die twee aanvallers het ʼn ent verder gaan stilstaan, daarna wéér aangestap en toe gaan hurk.

Die man het dié tyd gebruik om met sy foon ʼn noodboodskap na die omgewing se veiligheidsgroep te stuur. “Jy kan nie glo hoe sukkel ʼn mens om daai groepie te vind nie, jou oë wil eerder heeltyd om jou rondkyk.”

Die twee aanvallers het vermoedelik gesien hoe hy op die foon praat en het ten einde laas padgegee. Sowat 20 minute later het die eerste versterkings in die vorm van boere uit die omgewing opgedaag.

In sy huis was sy voertuig se spaarsleutel weg, sy skootrekenaar is rondgeskuif en die stel boeie wat hy in ʼn laai bêre, ook vermis. Die sleutel daarvan het op ʼn kas agtergebly.

Die rowers was vroeër in die huis, maar het klaarblyklik in die buitekamer gaan skuil tot die man terugkom, vermoedelik om hom gerus te stel. Twee rugsakke, twee baadjies, twee vars brode, ʼn blik chakalaka en twee koeldranke is daar agtergelaat.

Die man sê ʼn bakkie is ʼn ruk later by ʼn huis in dieselfde omgewing geroof en die rooi mussie, soos wat een van die aanvallers gedra het, is op daardie toneel gekry. Twee van die kapingslagoffers is aan mekaar vasgeboei, maar ʼn derde persoon kon tydens die rooftog ontsnap en die polisie ontbied.

Die polisie het hulle blitsig voorgelê en opgespoor en in ʼn daaropvolgende skietery het die mans, toe altesame drie van hulle, die bosse ingevlug.

Die polisie het later die sleutel vir die boeie kom haal om die twee slagoffers te bevry.

“Jy kry ʼn fyn kans. Ek is gelukkig, want ek het klaar adrenalien in my are gehad – anders het ek my lam geskrik. Omdat ek klaar op ʼn gereedheidsgrondslag was, het alles ingeskop en gemaak dat ek vinnig reageer,” het die boer gesê. Hy wil met sy vertelling ánder inwoners van landelike gebiede maan om altyd paraat te wees.

“My pa het altyd gesê ʼn bok tel tot drie en as die bok by drie kom, spring hy weg. Jy moet jou dinge vinnig doen, want hulle gaan nie vir jou ʼn lang kans gee nie,” het die man gesê.

“Ek was gereed en dit was my behoud. Die engele het ook gesorg dat daar net twee van hulle was. Die belangrikste ding is: as die adrenalien inskop, moet jy reg wees. Dit help nie jou wapen lê in die kluis in die wolsakkie wat ouma gehekel het nie.

“Ek is hier om te bly, maar die realiteit is dat jy nie onkant betrap mag word nie. Ek het oorleef omdat ek paraat was. Ek dra my pistool dag en nag. Nou weet ek hoekom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

72 Kommentare

JS ·

Vat so jou skelm, knap gedaan boer, knap gedaan. Hoendervluis slaan my uit terwyl ek die berig lees. Mag dit n les vir al die boere daar buite wees. Pistool beteken niks in die kluis nie. Situational awareness het jou lewe gered asook jou pistool. Goed so. Sterkte om alles te verwerk.

Calvinia skaap ·

Wat sal die beste pistool wees om te koop ?
Ek vind die CZ of Glock te groot om heeltyd op my rond te dra.
Dalk n mini Glock ?
Gee raad asb.

Frank ·

Enige een van die CZ’s of Glocks. Hulle het verskeie modelle, kleiner en groter. Gaan na ‘n wapenhandelaar en hanteer hulle.

Frank ·

MM wat gaan met julle stelsel aan!!!!! Party goed herhaal julle en ander plaas julle nie, Ek het die man geantwoord op sy navraag oor CZ’s en Glocks!!! Nee man!!!

jan ·

Daar is seker baie goeie opsies om te kies van maar vind die Glock baie betroubaar. Die Smith & Wesson Bodyguard 380 is ook daar as jy nog kleiner wil gaan

Cherokee ·

Calvinia, my keuse is ‘n Bersa 7.65 vir selfverdediging want dit is nie lomp en groot nie en dra maklik ongesiens aan die lyf. Dit is n baie betroubare semi-outomatiese pistool. Daarmee saam het ek ook ‘n .22 Long Ruby Extra rewolwer want gelisensieer is vir sport skiet doeleindes. Dit is ook ‘n gemaklike grootte rewolwer vir saamdra.

henry ·

Ek stem saam wapen in kluis help niks nie hulle weet daar geld in kluis en wapens dishkm julle aan val knap gedaan ek bly engel jou gewaarsku en god jou beskerm het prys die here hy was daar en jou kop gebruik het dis waar wapen moet dag en nag saam jou wees weet nooit wanneet en waar slaan hulle toe nie en wens en bid god die vader al ons mense by staan en veral ons boere die duiwel mense verslaan en engel saam ons sit.

Lynette ·

Die boer kon NETSOWEL DOODGESKIET gewees het in die geskietery….dit was ook beslis nie ‘die engele’ wat oor hom gewaak het nie….die geluk was maar net DIE KEER aan sy kant..

Lynette ·

Lyk my nie ďie lesers het mooi gelees nie…..ten spyte van die boer ‘wat so paraat’ was, het die oortreeer STEEDS EERSTE geskiet….die voer het STEEDS GEHUIWER om te skiet en kon as gevolg daarvan doodgeskiet gewees het – hy was ogelukkig steeds nie 100% paraat nie.

PietSkiet ·

Ek verstaan nie hoekom mense m.b.t tot pistole eerder gemaklik dra as hantering voorkeur nie. Kleiner wapen het meer recoil en hanteer moeiliker. Veral vroue wat oor die algemeen nie so sterk soos mans is nie, is dit nog erger recoil. Julle sal verbaas wees hoe vinnig raak jy daai extra gewig so gewoont dat jy dit nie eers meer voel nie. Kyk na bv. CZ – P07, P10, P01 of Glock 19. Kry dan eerder gemaklike holster soos Alien Gear. En soos Frank sê gaan skiet gereeld.

REGTIG?? ·

@Lynette
Ek gee nie om wat jou siening is nie, daardie boer is deur God en sy Engele van bewaring gedra en beskerm!!! Ek bid elke dag en aand vir beskerming en was al self deur ‘n wreedaardige groep mans aangeval. My gebede en geloof het my absoluut deur daardie aanval gedra en gehelp. Maar as jou siening jou rustiger laat slaap in die aande, so be it!!

honourable member ·

Hierdie gee my koue rillings. Jou paraatheid het jou lewe gered. Boere moet nou maar elke dag hulle wapens by hulle dra. Dis al wat julle gaan red. Gaan verduidelik maar later in die hof dat jy uit selfverdediging geskiet het.

Martie Ferreira Muller ·

Dankie HERE, Een Boer het wakker geword. Die res is nog half dood. Hulle wag om dood gemaak te word.

Awie Opperman ·

Daar is baie boere wat wakker is, ek ken nie een wat ongewapen rondloop nie. Dalk is dit hoekom hulle nog lewe.

Bubbles ·

Martie Ferreira Muller, daar is baie meer boere wat paraat is.
Vir ons is dit al ʼn lewensstyl nie ʼn werk nie. Ek “trek” my wapen aan elke oggend saam my klere. My man werk soms tot laatnag op die plaas en nie een van ons vat kanse nie. Ons dank Vader dat dit nog nooit nodig was om ons wapens te gebruik nie, en ek bid dat dit nooit nodig sal wees nie.
Maar wat ek net wil sê… moenie alle Boere oor dieselfde kam skeer nie. Meeste weet teen wat ons baklei en is almal paraat.
Geseënde dag vir julle almal. Wees veilig en wees paraat

Lielie ·

Jy was waaksaam en paraat, en dit is wat in jou guns getel het. Doen so voort!
Te veel mense het al met hul lewe geboet.

Skoolgeld ·

Dis eenvoudig hel om ñ Suid Afrikanse boer vandag te wees!

Anoniem ·

Ons soek nog sulke paraatheid GOED GEDOEN, die lafaards het eers weggekruip en toe kom hulle tevoorskyn
BANGBROEKE !

Johan Kruger ·

Si vis pacem parra bellum: as jy in vrede wil leef, wees voorbereid vir oorlog!

Hierdie man was voorbereid vir oorlog, alhoewel hy van die kerk af gekom het.

Is dit nie ironies nie?

En dan is daar mense wat sy besluit om gewapen te wees, sal veroordeel.

Almal moet sy voorbeeld nastreef en toepas in hulle lewens. Te min mense weet hoe om voorbereid op gevaar in ons land rond te gaan. Dit is selfs gevaarlik om kerk toe te gaan!

Geluk, Broer!

Zumie ·

Plaasbewoners word vele male voorgele na kerk …. wees dus versigtig ,,,,, ek weet persoonlik dit vir ‘n feit en wees dus gewaarsku.

Frank ·

Voel altyd skuldig om met wapen op my heup onder my pak Sondae soggens in die erediens te sit. Maar jy kan hom nie buite in die motor los nie en beslis ook nie op die plaas nie. Jy moet hom aan jou hê wanneer jy daardie plaashekke oopsluit en terug by die opstal kom. Stem saam, groot persentasie aanvalle is dan.

Haan ·

Jou absolute kampioen! Begeester die ander boere om bietjie die wapens uit die kluis te haal en te gaan vir goeie opleiding.

Rowers ·

Hulle moes nie weggekom het nie. Kniee moes vlenters geskiet gewees het.

HPV ·

Mooi man! Pistool byderhand of in die kluis is die verskil tussen oorlewing en moordstastitiek punt! My pistool is deel van my daaglikse kleredrag.

Arno Scheepers ·

Welgedaan . Ek sê gereeld vir my mede boere om paraat te wees en ten alle tye gewapen. Ek word egter as negatief beskou. Eerder negatief as statistiek. Maak “hulle” deel van statistiek.

Veronica ·

Die storie kon n boer self vertel …. dankie HERE!
Soveel ander word namens hulle vertel.

Lana ·

Fantasties!! Dis ons verantwoordelikheid (NEE liewer plig) om paraat te wees.
Boer, ek is bly jy lewe!!

Koos de Meyer. ·

Glog 48 nuut op die mark is ‘n 9mil parabellem. Fantastiese pistool. Kyk op die internet kommentaar oor die pistool. My lisensie pas goed gekeer 10 uit 10 vir die boer.

Werner ·

Sou n tragiese einde gehaad het as hy nie gewapen was nie mooi so moet meer gebeur dan sal aanvalle afneem

Onnie ·

En dan is hulle so goed opgelei en voorbereid dat dit voorkom of daar iewers ‘n “plaasaanval handleiding” versprei word. Mooi voor die tyd die plek en mense dopgehou, genoeg kos en warm klere vir ingeval hulle lank moet wag vir die boer om te kom, kla die huis geplunder, kla die bakkie se spaarsleutel gevat as wegkom-motor, wat hulle net ‘n paar kilometer verder los, want hulle “korporaals” kom laai hulle ‘n entjie van die huis af en tel hulle weer agterna op. Baie bly die ou was wakker, dinge kon so anders uitgedraai het. Laat dit vir almal ‘n les wees. Wees wakker, expect the unexpected. Daar is ‘n duidelike patroon, mense kan hulle self voorberei en verdedig. Dan sal die skelms dalk 2 keer dink voor hulle ‘n plaasaanval uitvoer. Ons moet dit nie so maklik maak vir hulle nie. Time to fight back!!

$ ·

Daai ´voorbereidheid’ (warm klere, kos, koeldrank) wys duidelik dat dit nie net gaan oor diefstal nie – anders sou hulle te bly wees om te kon laat spaander voor die huiseienaars terugkom. Maar nee, hulle wag eerder – wil hê die mense moet terugkom …

Lynette ·

Chantie….jy GRAP seker? Het dit gewerk vir sie dersuisende boere wat reeds vemoor is??

hercu ·

boer met ‘n roer!! nie boer soek ‘n roer nie!!

uitstekend – ek *salueer* jou!!

dankie HeiligeGees vir jou stem in die man se oor sodat hy leef om die wonderwerk te vertel!!

Sirkus ·

Ek bly in die stad en is 67 en Ouma, maar ek is bewapen 24/7 en oefen gereeld. Dra julle wapens aan julle en sluit aan by GOSA wat vir julle advies oor moeilike besluite kan gee. As ons gereed is vir enige gebeurlikheid sal dit ‘n verskil maak in ons lewens en ook vir ons geliefdes. Ek is bly die BOER is veilig en ek bid vir al ons mense oral in Suid-Afrika

Arnold ·

Dank God dat Hy jou nog ‘n dag gegun en gespaar het. God gebruik jou storie dalk om die boere te laat besef dat alleen deur die knie voor God te buig jou behoid sal wees.

Klaradyn ·

Sirkus en Arnold ek stem saam met julle.

Ons woon in ‘n “rustige” woonbuurt vol sekuriteitskomplekse. En tog vang hulle gister ‘n halwe blok van ons kompleks af 5 swaar gewapende mans met al wat ‘n “tool” is by hulle om in te breek. So: Hulle sien kans vir sekuriteitskomplekse met elektriese omheinings????

Hanlie ·

10 uit10 Boer!!!! Laat ons almal nou ‘n les hieruit leer; wees paraat – te alle tye!!!! Dankie VADER vir U beskerming oor hierdie boer, dat U hom die insig gegee het en gered het.

Jeandre ·

Ek het n Ruger SR9C, ek weet nie eers van hom langs my sy nie. Baie lekker pistool en baie akkuraat. Jeandre

George in Bloem. ·

Goeie werk. Dankbaar jy is veilig en nie vandag deel van hierdie piesangrepubliek se treurige en skandalige moord statistieke nie. Hier is ‘n paar lesse vir ander in dit wat met jou gebeur het. Sterkte voorentoe!

Johann Erwee ·

Calvinia Skaap, die National Rifle Association (NRA) het n baie goeie spreekwoord. ” The best weapon for self defence is the one you carry”

Grysburger ·

Bly die persoon het oorleef. Kommentaar by ‘n wapentoets in die “Wildland” van Augustus 2019 som op wat nodig is vir oorlewing: die 24/7 dra van ‘n vuurwapen asook soos toetser dit stel:
“he/she should practice with it until he/she can draw and fire that firearm from a concealed carry position in, at the very least in 1 and a half seconds, preferably in less than one second”

Dit kan gedoen word, en elke opvolgskoot daarna behoort binne 0,25 van ‘n sekonde te volg. Oefen en sluit by GOSA aan om jou wapen te behou: die Regering begin agterkom mense word beter met selfverdediging en hulle hou nie daarvan nie. Die bestuur van die polisie, saam met hul handlangers Gun Free South Africa gaan alle pogings aanwend om jou te ontwapen.

$ ·

Boer, ek is so bly jy herken en erken God se engele se teenwoordigheid en betrokkenheid in jou lewe; nie baie mense is ingestel daarop dat hulle (in opdrag van God) ons tot hulp is nie … maar ons moet BID, ons gebede versterk hulle in hulle krag om ons te help.

Christa ·

Die Here is ons bewaarder. Hy is altyd by die wat Hom ken en eer. Loof die Here vir Sy beskerming. Ons Moet Altyd gereed wees om Jesus te ontmoet as Satan en Sy trawante toeslaan.

Chantal ·

DANKIE VADER ???? … SAAM JOU DANKBAAR VIR JOU VEILIGHEID EN OOK JOU PARAATHEID.

WELL DONE …

DIS NIE MAKLIK OM TERUG TE BAKLEI WANNEER MENS IN SKOK IS VERAL NIE WANNEER SKOTE AF GEVUUR WORD NIE. MENS FRIES IN DAAI TYE ( EK WEET WAARVAN EK PRAAT DAAR)

DANKBAAR DANKBAAR DANKBAAR SO BLY JY VAL NIE ONDER DIE STATISTIEKE NIE. JYS N ROL MODEL VIR VELE VAN ONS.

Frm ·

Die belangrikste deel van hierdie geval is dat die plaaswerkers paraat was en dit die boer die voordeel gegee het.

Wynand ·

Mooi gese. Wees reg, dit is nog vroeg en met sekere politici wat hulle aanhits gaan daar nog baie gesiet word.

martin ·

Dit is al wat ons mense gaan red op die einde – om gereed en paraat te wees. Vergeet van “dit sal nie met my gebeur nie”. Dis die realiteit van ons samelewing. My hart bokspring sommer toe ek die berig lees.

Bubbles ·

Martie Ferreira Muller, daar is baie meer boere wat paraat is.
Vir ons is dit al ʼn lewensstyl nie ʼn werk nie. Ek “trek” my wapen aan elke oggend saam my klere. My man werk soms tot laatnag op die plaas en nie een van ons vat kanse nie. Ons dank Vader dat dit nog nooit nodig was om ons wapens te gebruik nie, en ek bid dat dit nooit nodig sal wees nie.
Maar wat ek net wil sê… moenie alle Boere oor dieselfde kam skeer nie. Meeste weet teen wat ons baklei en is almal paraat.
Geseënde dag vir julle almal. Wees veilig en wees paraat

#misdaadmoeg ·

Calvinia, prober die glog 26. Regtig nie so groot nie.
Wel gedaan boer! Jy gee ons hoop!

chrisjan ·

Dis nou ‘n boer om op trots te wees.Uit meer as 30 boere in ons GPF area loop net 4 of 5 gewapen en paraat rond.Dis ‘n tragedie wat wag om te gebeur.
Ek wonder net waarom die boer NIE ‘n midband radio het nie.Dis maklik om net die knoppie te druk en die wereld om jou te laat weet jy het ‘n probleem.Whatsapp werk nie vir my in sulke situasies nie.My midband hand radiotjie ry oorals saam in my bakkie en as ek uitklim kan ek hom saam neem afhangend van omstandighede.Deur die antenna op die bakkie se dak is sy reikafstand drasties beter – 25 km maklik – teenoor sy eie kort antennatjie wat mens sowat 3 – 5km gee.Radios is BAIE nuttig.

Cindy ·

Dit raak rof… Om die belangrike groepe makliker kry baar te kry, gaan in whatsapp en druk lank op groep tot hy gekies is druk dan op drie kolletjie opsie regs bo en kies opsie ad chat shortcut….

Chris Ws ·

En teen daai tyd is jy ‘n ‘n plaasmoord statistiek.Radios werk onmiddelik met net een knop wat jy druk as jy praat en vertel presies waar en wie jy is en wat gaan aan en almal met radios hoor jou gelyktydig.Baie mense lees hul whatsapps eers ure later.

Gustav Venter ·

Tydens my agtien jaar op die plaas, het ek altyd ‘n draadhaarterriër gehad wat orals saam met my gery het. Wanneer ek tuis kom, het ek hom laat uitspring en hy het die werf gevee. Niemand kon my verras nie, en ek het pistool in die hand gewag tot hy sy werk gedoen het. Bloudraadt en Star is ‘n gedugte kombinasie.

Adri ·

Elke boer moet ‘n motorhek gebruik en nie n hek waar hy moet stilhou nie. Boere moet genoeg honde heom hulle gedrag te kan beoordeel wanneer hy tuis kom en elke boer moet gewapend rondloop, dag en nag.

Chris Ws ·

En teen daai tyd is jy ‘n ‘n plaasmoord statistiek.Radios werk onmiddelik met net een knop wat jy druk as jy praat en vertel presies waar en wie jy is en wat gaan aan en almal met radios hoor jou gelyktydig.Baie mense lees hul whatsapps eers ure later.

Elsa ·

Ek dank die Here dat hierdie aanval op ‘n boer nie nog ‘n plaasmoord was nie en is dankbaar dat hierdie man paraat was en homself kon verdedig. Kyk net hoe astrant was hierdie aanvallers deur sommer ‘n rukkie later in dieselfde omgewing ‘n ander voertuig te gaan kaap en nogal die mense met die vorige plaasboer se boeie vasgeboei het.

Wilmien ·

Wees asseblief op jou hoede….hulle makkers mag dalk terugkom !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.