Plaasdorpie-moord: Vrou beskryf aanvaller voor sy sterf

Ansie Steyn. Foto: Verskaf

Ansie Steyn. Foto: Verskaf

Ansie Steyn (46), die jongste slagoffer van ʼn vlaag moorde in die plaasdorpie Sundra in Mpumalanga in die afgelope tyd, kon Saterdagoggend haar aanvaller aan die polisie beskryf kort voordat sy dood is.

Kapt. Salomé van der Westhuysen, bevelvoerder en woordvoerder van die Sundra-polisiestasie, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn polisiebeampte wat besig was met roetinepatrollie het omstreeks 00:45 op Steyn afgekom waar sy op ʼn sypaadjie op die grond rondgerol het.

Die polisie het dadelik stilgehou en hulp ontbied. “Die slagoffer was nog lewend en het aan die beampte vertel wat gebeur het. Sy het gesê ʼn swart man het haar aangeval voordat hy weggehardloop het,” het Van der Westhuysen gesê.

Die man het in die rigting van die treinspoor gevlug. Daar is aanvanklik berig dat Steyn se handsak tydens die rooftog gesteel is, maar Van der Westhuysen het bevestig dat slegs Steyn se tabletrekenaar vermis word.

“Ons vermoed sy het daarmee in haar hand gestap. Haar handsak en waardevolle besittings wat daarin is was, is nie gevat nie, wat die vermoede laat bestaan dat dit ʼn vinnige gryppoging was omdat ons so ʼn aktiewe buurtwag het.”

Maroela Media het vroeër berig Steyn, ʼn kredietkontroleerder en ma van vier van Eloff, die plaasdorpie aangrensend aan Sundra, is Vrydag omstreeks middernag buite ʼn plaaslike kuierplek, waar sy saam met vriende was, in die dorpie aangeval. Steyn het haarself glo verset toe die man haar handsak wou gryp en is in die proses met ʼn mes in haar hart gesteek.

Daar was aanvanklik nie sekerheid hoeveel verdagtes by die voorval betrokke was nie, maar Van der Westhuysen het bevestig net een verdagte word gesoek en die vermoede bestaan dat hy ʼn plaaslike man is.

Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, was kort ná die polisiebeampte op die toneel en het dadelik noodhulp op die vrou begin toepas totdat paramedici by hom oorgeneem het. “Hulle het alles in hul vermoë gedoen om haar lewe te probeer red,” het hy aan Maroela Media gesê.

Haar broer, Danie Steyn (41), was kort ná die aanval ook op die toneel en Steyn is in sy arms dood.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort en ons is op die man se spoor,” het Van der Westhuysen bygevoeg.

Steyn was ʼn enkellopende ma wat saam met haar dogter Monique Cronjé, en dié se verloofde en hul eenjarige seuntjie, en twee seuns, Leon (19) en Stephan Steyn (14), op Eloff gewoon het. Steyn se ouers is albei oorlede. Buiten haar kinders laat sy haar broers Danie, Corne Steyn (43) en Dirk Steyn (36) agter.

As alles volgens plan verloop, sal sy moontlik Maandag te ruste gelê word.

Van der Westhuysen het gesê Steyn se moord word nie verbind met die twee onlangse aanvalle op kleinhoewes in die omgewing nie.

Maroela Media het vroeër berig twee gewapende mans het Cathy van Coppenhagen en haar man op die aand van 11 November op hul kleinhoewe oorval en aangehou. Die aanvallers het die egpaar buite die huis ingewag toe hulle hul honde wou gaan uitlaat. Van Coppenhagen is in die tuin in die bolyf geskiet en daar gelaat, waarna die rowers haar man by die huis ingedwing en op waardevolle items aangedring het.

Van Coppenhagen het daarna ʼn paar meter ver in die modder gekruip om skuiling te soek. Haar man is aangerand voordat die verdagtes op die vlug geslaan het. Toe die buurtwag en die polisie omstreeks middernag na die kleinhoewe ontbied is, het hulle haar in ʼn ernstige toestand in die hondehok aangetref waar sy geskuil het. Sy het op 16 November in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Dié aanval is voorafgegaan deur die aanval en moord op Johan van Rensburg (62) in Augustus. Met sy laaste asem het Van Rensburg (62) verbete teen ʼn groep aanvallers geveg om sy verloofde, Dina, op sy kleinhoewe, naby die plek waar die Van Coppenhagen-egpaar aangeval is, te beskerm. Een verdagte is intussen in verband met sy moord in hegtenis geneem.

In ʼn afsonderlike voorval is Rina Pringle (57), ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en haar kollega, Joseph Coombe, in September tydens ʼn transitorooftog in die dorp met AK47-aanvalsgewere aangeval. Coombe het die aanval oorleef, maar Pringle is dood.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Margaret ·

Ek wil net weet hoekom het die polisie nie die sakrekenaar se omslag gevat vir vingerafdrukke nie. Die sakrekenaar is uit die omslag verwyder en is dit aan die familie teruggegee

Marinda ·

As gevolg van swak ondersoeke, loop baie moordenaars buite rond. En moor net weer en weer. Vat die omslag vir die polisie. Hulle kan mos ander mense se vingerafdrukke uitfasseer.

Speedguard ·

Margaret en Marinda, ongelukkig kan ‘n ondersoek beampte net fingerafdrukke neem van sekere materiaal, jy sal hoegenaamd geen afdrukke kan lig van so sak nie!

Jean ·

Dankie Maroela dat julle ook die ander MOORDE noem, dit is regtig noodsaaklik dat die publiek die hele tyd herinner word aan hierdie sinnelose moorde wat in geen ander koerant of tydskrif die nodige aandag kry nie. Mense moet almal daarvan kennis neem, hoop dit bereik die Suid Afrikaners in die buiteland ook.

CHRISTA ·

Ek hoop Checkpoint van ENCA gaan ook soveel moeite doen om al hierdie sake te ondersoek en uit te saai soos wat hulle met die “doodskis”-saak gedoen het!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.