‘Plaasjapie’ (9) veg om lewe ná ongeluk met petrolkan

Arno Geldenhuys (9) het ernstige brandwonde in die fratsongeluk opgedoen. (Foto: Verskaf)

ʼn Negejarige seun van Krugersdorp veg om sy lewe nadat hy ernstige brandwonde oor byna sy hele lyf opgedoen het.

Arno Geldenhuys is ʼn regte plaasjapie met ʼn wil van sy eie, vertel sy ma, Bernadette.

Hy is gereeld in en uit hul huis op ʼn kleinhoewe tussen Krugersdorp en Magaliesburg besig om die wêreld te verken. Verlede Vrydag het hy ʼn verlate voëlnessie aan die brand gesteek. Klein Arno het egter geskrik toe die nessie vlamvat, het petrol oor homself gestort en ook aan die brand geraak.

Bernadette (33) sê hulle was almal tuis toe die fratsongeluk plaasgevind het.

“Ons kinders is regte plaaskinders. Arno het laatmiddag, omstreeks 16:00, nog buite rondgespeel en al die moeite gedoen om ʼn leer uit die stoor uit te gaan haal om ʼn verlate nessie uit ʼn boom uit te haal.”

Die stoor is ongeveer 500 m van die huis.

“Ons het ʼn vyfliterkan met petrol wat altyd daar vir ons grassnyer rondstaan. Ons weet nie of Arno van die petrol gebruik het om die nessie aan die brand te steek nie, maar die nessie het vlamgevat – en die petrolkan óók.

“Arno het toe geskrik en die brandende petrolkan opgetel om dit weg van hom af te gooi, maar al die petrol het op hom uitgemors, waarna hy ook aan die brand geslaan het.”

Geldenhuys sê haar man, Johan, het dadelik op hul brandende seuntjie afgestorm om sy klere van sy lyf af te ruk.

Die Geldenhuys-gesin (Foto: Verskaf)

“Dat my man nie ook brandwonde aan sy hande opgedoen het nie, is ʼn wonderwerk. Dit was meestal die materiaal van Arno se klere wat in vlamme was. Johan het die brandende klere van sy lyfie binne ʼn minuut afgeskeur.

“Ons was geskok om te hoor hoe ernstig die brandwonde is, omdat ons dadelik ingespring en gehelp het. Ons kan nie verstaan dat hy in so ʼn kort tydjie so ongelooflik seer kon kry nie,” sê die emosionele ma.

Geldenhuys vertel dat hulle dadelik met klein Arno na die Robinson-hospitaal in Randfontein gejaag het, maar dat dié hospitaal glo nie ʼn brand-eenheid het nie. Die seuntjie is na die Leratong-hospitaal se brand-eenheid oorgeplaas.

“Dit is toe dat ons uitvind hoe ernstig die brandwonde eintlik is. Sy hele lyf het voor en agter lelike brandwonde opgedoen. Daar is net ʼn klein plekkie agter aan sy kop wat nog hare het – waar hy nie gebrand het nie. Hy het ʼn paar brandwonde in sy gesig, maar dit is gelukkig nie te ernstig nie, en sy regterbeen het ook gebrand.

Arno Geldenhuys (9). (Foto: Verskaf)

“Dit is letterlik net sy linkerbeen wat nie brandwonde opgedoen het nie. Dit is die enigste deel van sy liggaam waarvan hulle vel sal kan gebruik om sy ander brandwonde gesond te maak,” vertel Geldenhuys.

Arno is later – nadat hy gestabiliseer is – na die Chris Hani Baragwanath Akademiese-hospitaal oorgeplaas waar hy steeds in die intensiewesorgeenheid behandel word.

“Arno het kort ná die voorval ontwater en die dokters moes ʼn pasaangeër vir sy hartjie insit. Hy het ook baie bloed verloor en moes op ventilators gesit word omdat hy nie meer op sy eie kon asemhaal nie.

“Die dokters sê ons moet elke dag vat soos dit kom. Die een dag kan dit dalk goed gaan en die dag daarna weer baie sleg…

“Hulle het vir ons gesê dat ons seuntjie nog lank nie uit gevaar is nie en dat – indien alles goedgaan – hy nog vir drie maande in die intensiewesorgeenheid sal wees.”

Geldenhuys sê Arno is ʼn sterk seun met hope energie. En hulle is trots dat die mannetjie verbete aanhou veg.

“Aan die begin het ons elke keer gehuil as ons hom in sy hospitaalbed sien, maar nou raak ons al opgewonde om net vir hom te gaan kuier.

“Ons kan hom net in die middae vir ʼn rukkie sien. Ons mis hom so, ons soek hom net terug by die huis.”

Arno moet drie keer per week teater toe gaan en het geweldige pyn. Maar, sê sy ma vasberade, hulle weier om op te hou hoop, bid en glo.

“Dit is vir ons die vreeslikste ding om ons seun in hierdie toestand te sien. Ons het vanoggend nog sy rapport by die skool gaan haal. Hy moet sterk bly, hy moet aanhou veg, hy mag nie ophou nie.”

Die gesin het ʼn skarefinansieringveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om vir Arno se mediese uitgawes en sy maande lange rehabilitasie wat nog voorlê te help betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Carin ·

Ek kan regtig gladnie GLADNIE verstaan WAAROM sekere hospitale nie toelaat dat een ouer ten minste by die kind kan bly nie. Dit help tog met herstel wanneer so klein lyfie weet sy ma is daar?? Of het dit te doen met intensiewe sorg reels? Enige dokters hier wat vir my kan verduidelik?

Billy ·

Weet dat die Vader n plan met elke lewe het…. weez rustig en vat dit dag vir dag in geloof…en hoop… Sterke

Koen ·

@micchael. Ek het sommer die hoekoms aangespreek siende dat jy te bang is. Hierdie maak my woedend.

Leon ·

Verstaan asb mooi wat ek se : geen beskuldigings teenoor niemand. Enige vlambare vloeistowwe, aanstekers en vuurhoutjies moet buite bereik van kinders gestoor word

vuurvliegie ·

My gebed is dat God Arno styf moet vashou in hierdie moeilike tyd. Maak hom gesond want net U is tot alles instaat. Amen

Karoo ·

Geldenhuys Familie, dis nou hoe dit is…. maar ons as ouers moet altyd die gevare vir kinders van vuur uitwys. Die jong seun klink soos ‘n klein rakker… die dat hy’ n plan beraam het, ‘n leer gaan haal het, geweet het waar brandstof en vuurhoutjies is ens. Sterkte aan die Familie en aan die jong seun.

Hendrik ·

Sterkte and die ouers, seuntjie en ander kinders. Ek bid dat die Here julle naby aan Him sal hou en troos en krag gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.