Plaaskombuis laat Nampo-monde water

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Van botterhoendersosaties en geroosterde platbrood met gepluiste beesvleis, tot smullekker lamsribbetjie op Vrystaat-mieliepap. Diegene wat vanjaar die 56ste Nampo Oesdag buite Bothaville in die Vrystaat bywoon, kan nou verskeie moderne tog nostalgiese boeregeregte by die nuwe Syngenta Boerekos Plaaskombuis geniet.

En gee jou beste … want dit gaan lekker moeilik wees om ʼn gunsteling tussen hierdie geregte te kies.

Christian Giesel, bemarkingsbestuurder van Syngenta Suid-Afrika, het Maandag die nuwe Syngenta Boerekos Plaaskombuis – en geurige kos-avontuur wat vanjaar op Nampo-besoekers wag – bekendgestel.

“Gesprekke oor insetkoste, gewasbeskerming, nuwe tegnologie, die weer, markpryse en allerhande elemente wat die landboubedryf uitdagend én bevredigend maak, neem dikwels die voortou by Nampo. Uiteindelik gaan dit alles oor die kos op ons tafels.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“En dít is die boodskap wat die Syngenta Boerekos Plaaskombuis vanjaar by Nampo wil tuisbring.”

Giesel sê dit is ʼn uiters besondere en unieke ervaring wat Syngenta in samewerking met Landbouweekblad nou aan Nampo-besoekers kan bied.

“Die doel van die Plaaskombuis is om die hele storie van die voedselwaardeketting, wat op plase begin, te vertel.

“Ons het meer as ʼn jaar gelede met die beplanning van die kombuis begin. Hier was niks nie, maar vandag het ons ʼn volledige kombuis met vyf toonbanke en vyf unieke boeregeregte om aan besoekers te bied. Ons is regtig trots op hierdie projek.”

Verskeie vennote, onder meer Food Lover’s Market, Sparta, Astral Foods, Malu Pork en Angus Beef het hand bygesit om die Syngenta Boerekos Plaaskombuis moontlik te maak.

Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad en Landbou.com, het  ʼn opmerking van die Amerikaanse skrywer en boer, Wendell Berry, herhaal en gesê, “as jy kos eet, is jy by landbou betrokke”.

“Die Plaaskombuis bied gesonde en nutriënt-ryke kos aan sy klante. Ons is ongelooflik opgewonde – ʼn bietjie senuweeagtig – maar ons glo dit gaan ʼn groot sukses en besondere bydrae tot Nampo se koservaring maak.

“Die kos is absoluut fantasties en ek is seker besoekers gaan ʼn wonderlike tyd by ons hê,” sê Burgess.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Arina du Plessis, redakteur van die gewilde kostydskrif Landbou Boerekos, was verantwoordelik vir die smullekker spyskaart en die restaurantgehalte etes word voorberei in samewerking met die Roots Academy-sjefskool in Potchefstroom.

“Ons het saam met ons wonderlike kosvennote besluit dat ons die disse so na moontlik aan die natuurlike produk en waar dit vandaan kom, wil hou. Alles word vars voorberei en geen verwerkte bestanddele word gebruik nie.

“Ons het vyf boeregeregte waaraan Nampo-besoekers kan smul. Diegene wat by Nampo uitstal, kan dus elke dag nuwe varsgemaakte boerekos geniet.”

Die Syngenta Boerekos Plaaskombuis open Dinsdag en is so reg soos ʼn roer om Nampo-besoekers met ʼn verskeidenheid heerlike disse te bederf, sê Du Plessis.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Besoekers kan sommer vroeg-vroeg al by die kombuis vir ’n koppie boeretroos en beskuit aanmeld, maar pasop om jou eetlus met peuselhappies te bederf; dié boeregeregte is ʼn absolute móét.

Die kombuis is aan die suidwestekant van die Nampo-terrein, naby die 4×4-baan.

Nampo Plaaskombuis

Van links: Chris Burgess, Tobias Doyer, Arina du Plessis en Christian Giesel (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Die Syngenta-stalletjie is net ʼn klipgooi verder en produsente kan hierdie jaar hul spuitstukke by ons laat toets. Ons bied hierdie gratis diens om produsente te help om die meeste waarde uit hul gewasbeskermingstoedienings te kry, sodat ons meer kos met minder hulpbronne op verbruikers se tafels kan sit.

“Die uitnodiging is hartlik en duidelik: kom eet en drink saam, laat jou spuitstukke toets en kuier ʼn hond uit ʼn bos saam met ons,” sê Giesel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Nee man! Dis nie “fair” nie!!!!!! Julle laat ons kwyl hier in die Wes-Kaap van lus!!!!

Wildemien ·

Ek is maar 1hr2m weg van Bothaville af. Dalk moet ek gou ry vir middagete!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.