Plaaskuier ontaard in nagmerrie vir Vrystaat-gesin

Jaco Hancke jr. Foto: Facebook

Jaco Hancke jr. Foto: Aletta De Nysschen via Facebook

ʼn Hoërskoolseun van die Vrystaat se kuier by vriende op ʼn plaas het in ʼn nagmerrie ontaard toe ʼn bakkie waarin hy was op ʼn plaaspad gerol en hy ernstige kopbeserings opgedoen het.

Jaco Hancke (15), ʼn graad 9-leerder aan Hoërskool Kroonstad, word tans in die waakeenheid van Mediclinic Bloemfontein behandel waar hy al langer as ʼn week onder verdowing is.

Jaco sr., Jaco jr. se pa, het Saterdag aan Maroela Media gesê dat Jaco jr. verlede week Donderdag by vriende op ʼn plaas in die Koppies-distrik gekuier het toe die ongeluk gebeur het. Die bakkie waarin Jaco jr. was, het op ʼn plaaspad gerol en Jaco is uit die voertuig uit geslinger. “Hy het skedelfrakture aan sy voorkop en agter sy oog opgedoen en die klein beentjies in sy sinusholtes is heeltemal vergruis. Daar was ook bloeding op sy brein,” het Jaco sr. gesê.

ʼn Motoris wat oomblikke nadat die ongeluk gebeur het op die toneel afgekom het, het hulp ontbied en Jaco jr. is per ambulans na ʼn hospitaal in Kroonstad geneem. Nadat daar by die hospitaal x-strale geneem is, het dokters gesê Jaco moet dringend na ʼn hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas word. Hy is die volgende dag in die vroeë oggendure per helikopter na die Bloemfonteinse hospitaal geneem.

“Die neurochirurg wat hom behandel, het vir ons met sy aankoms by die hospitaal gesê nadat hy na Jaco se x-strale gekyk het, het hy gedink die kind wat hier gaan aankom, sal breindood wees,” het Jaco sr. gesê. “Ons het toe eers besef hoe ernstig sy beserings is. Dit is werklik ʼn wonderwerk dat hy nie erge breinskade opgedoen het nie. Ons weet dis net te danke aan die Here dat hy die ongeluk oorleef het.”

Volgens Jaco sr. is Jaco jr. steeds in die waakeenheid en word onder ligte verdowing gehou aangesien hy nog aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel is. “Hulle het gister [Vrydag] probeer om hom van die ventilator af te haal, maar weens swelling in sy lugweë moes hulle hom weer terugsit op die masjien. Hy is nog in die waakeenheid, so ek dink nie ons kan sê hy is al buite gevaar nie, maar dit gaan beslis elke dag ʼn bietjie beter,” het Jaco sr. gesê.

Dit is vir die hele familie ʼn uiters moeilike tyd, maar ondersteuning stroom vanuit alle oorde in. “Ons is heeltemal uit die veld geslaan oor al die ondersteuning wat ons van so baie mense kry. Dit is regtig ongelooflik, ek het nie woorde om dit te beskryf nie. Dit is wat ons hierdeur dra. Dit en gebede. Ons kan dit nie sonder die Here doen nie.”

Intussen het ouers van Jaco jr. se vriende ʼn fonds gestig om te help om Jaco jr. se mediese onkoste te dek. Hoewel die gesin ʼn mediese fonds het, word sekere uitgawes nie deur die fonds gedek nie, onder meer die helikopter wat Jaco van Kroonstad na Bloemfontein vervoer het. “Die dokter het vir ons gesê wanneer Jaco uit die hospitaal kom, sal daar nog maande lange rehabilitasie en doktersbesoeke voorlê, so ons weet nie watse mediese rekeninge nog vir ons wag nie,” het Jaco sr. gesê.

“Die fonds sal ons in staat stel om hierdie uitgawes te dek en enige ekstra geld wat oorbly, sal ons weer aan iemand anders wat hulp nodig het of ʼn liefdadigheidsorganisasie skenk,” het Jaco sr. gesê.

Al die besonderhede oor die Jaco Hancke Fonds is op Hoërskool Kroonstad se Facebook-blad beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

dr B ·

Niks oor wie die voertuig bestuur het en of hulle lisensies gehad het nie? Die 15-jarige kon tog nie alleen in die voertuig gewees het nie…

Nella de Ru ·

Hy was n passasier en ja die bestuurder HET n lisensie! Dis my kind se klasmaat

Tiger ·

Jaco se ouers,kontak so gou moontlik n’ prokureer in jul area wat spesialiseer in derdeparty eise van die Pad Ongelukke Fonds en kry die wiel aan die rol.Ons was ook in n’ ongeluk met soortgelyke beserings aan my EN die mediese fonds het klomp goed nie betaal nie so ons ken die storie. Alle sterkte vir julle en ons dra Jaco jr. in ons gebede.Sy rehabilitasie gaan lank neem maar gelukkig is hy nog jonk – dit tel in sy guns!Ek is nog besig met rehabilitasie na meer as 3 jaar.

ada ·

Baie sterkte aan julle met die pad vorentoe. Ek glo vas die kind sal ten voll herstel

Buitestander ·

Alle simpatie met die familie en vriiende.
Dit is net jammer dat passesies nie die BELANGRIKHEID van die dra van lewensgordels besef nie.
Kan enigge iemand my bewys dat met die dra van ‘n lewensgoldel jou uit ‘n voertuig slingger?
Spyt is ‘n goeie ding maar kom altyd te laat.
STERKTE ou maat en onthou van die Gordel dit bespaar besering!

Nella de Ru ·

Bid asb eerder vir my kind se klasmaat asb aangesien hy besig is om te herstel en sy ouers deur n baie moeilike tyd gaan. Ons is ALMAL soms skuldig aan om nie n gordel te dra nie.

Amanda ·

Nella. Dalk moet jy maar ophou om die kommentare te lees. Sterkte

Cherokee ·

Waarom Amanda? Wanneer ons sterk voel oor iets is ons almal geneig om meer aktief te wees in die forum. Gun Nella dit om wat op haar gemoed is uit te spreek.

Veilig ·

Nella, ek dra altyd my veiligheidsgordel, so ook amper alle verantwoordelike mense wie ek ken.

Kaufman ·

Moet nooit grondpaaie onderskat nie. Dra altyd veiligheidsgordels, en moet nooit vinniger as 60kmph ry daarop nie want grondpaaie is baie onvoorspelbaar.

Kaufman ·

Sterkte ja, maar ek wil net he mense moet hieruit leer want ek weet van baie sterftes omdat mense nie reg ry op grondpaaie nie. Ek ken baie mense wat iemand op grondpaaie verloor het, selfs op lae spoed.

Daleen ·

Kry dr de Villiers om na hom te gaan kyk. 5 jaar terug was ek ook so te se breindood in Steve Biko. Die Prof by Steve Biko het dr de Villiers gekontak wat van Bloemfontein na Pretoria gekom het, en vandag is ek ‘n doodnormale gesonde vrou.
Dankie dr. de Villiers. Sterkte aan die familie. Gebede is met julle ons die n Almagtige God.

Nella de Ru ·

Sterkte Jaco…ons dien n Groot God en ons kids kan nie wag dat jy weer langs hul in die klaskamers sit nie. Ons hou al die updates dop en is bly die Here het jou vir ons gespaar.
Van al die Graad 9’s en die Hele Blouskool Kroonstad EN ons as ouers xx

Net ek ·

Ons bid dat die kind in ʼn halwe tyd sal genees. Staan sterk.

Hannelie ·

Ai hy is nog so verskriklik jonk. Maak nie saak WAT daar gebeur het nie…ons moet bid vir hom en sy ouers. Dat hy volkome sal herstel want ons God is ‘n God van Genesing. Sterkte seun xx

Koekie ·

Baie sterkte en n spoedige herstel vir jou jongman. Aan die wat so gal braak oor sitplek gordels. My suster was in n baie erenstige motor ongeluk en die reddings personeel het vir ons gesê as sy n veiligheidsgordel aangehad het was sy vandag dood omdat sy dan nie sou kon skuif na die ander kant van die agter sitplek met die inpak nie. Hou op modder gooi wat gebeur het is gedaan soos die ou spreekwoord sê dis nie hoe jy val nie maar dit gaan eerder hoe jy opstaan. Staan gou op Jaco, Kroonstad staan agter jou en jou familie!

Peet ·

Dit was net toevallig. Sitplekgordels verhoog kanse op oorlewing beslis, sonder enige tryfel.

anoniem ·

Koekie ek stem saam jou. Almal is gou genoeg om te kritiseer, maar as dit iemand was wat hulle geken het, sou hulle stil gebly het. ek het ook al my kar gerol, daar was ook vir my gese as ek my veiligheids gordel gedra het, sou ek nie oporleef het nie!

Kroonstadter ·

Nie nou tyd om te verwyt en redeneer oor gordels en bestuurders ni Ons bid dat Jaco gou volkome herstel En sterkte ook aan die persoon wat bestuur het Bid vir jou ook Dit moet vir jou baie erg wees Wees sterk en moenie jouself verwyt ni of aan ander mense steur nieDit was n ONGELUK

Anoniem ·

Baie sterkte bid ek julle toe en vir 100% herstel. Die Here sal vir Jaco en julle hierdeur dra. Glo my julle sal nog getuig van nog ‘n wonderwerk wat die Here oor jul pad gebring het.

Tish ·

laat mens net wonder, die voertuig het gerol. as hy nie bestuur het nie hoe seer het die bestuurder gekry????
niks daarvan nie.
laat mens wonder.
Grondpaaie is geen speelplek nie, statistiek het al bewys dat 75% van boere/familie sterf op die plaaspaie net buite hul plase.
as die kind bestuur het moet die ouers geblameer word, maar die publiek sal nooit weet……….

Lukie ·

Ek wou nie kommentaar gaan lees ni maar nou het ek. Wil net sê dit was drie vriende wat na ‘n dam toe gery het waar ‘n flot op is. Hulle ry al van vroeë ouderdom, die pad is lelik ja en die drywer het geskrik vir vlakvarke wat voor hom ingehardloop het. My kind is die enigste een wat beseer is en ja ons stap ‘n harde pad maar ons stap hom saam die Here dag vir dag. My kind gaan genees op die Here se tyd. Die drywer vat dit bitter swaar maar ons bly bitter lief vir hom. Ons sal hom ondersteun waar ons kan en ja my kind kon bestuur het en dit kon gebeur het. Dit was ‘n ongeluk en het wel gebeur ons kan nie tyd terug draai dit het gebeur. Ons is die Here innig dankbaar ons kind leef. Ek as plaaskind het self ook op paaie gery en dit was lekker en ek wou nie die lekker van hom af weghou. Dit het gebeur ons aanvaar dit en die Here sal ons help.

Louise ·

Hierdie berig gaan nie oor wie of wat verantwoordelik gehou moet word nie.
Dit gaan oor n kind wat seer gekry het, n ongeluk wat gebeur het. Moet my nie se niemand het al OOIT hull “Safety Belt afgehaal op n grondpad vir die een of ander rede nie. Hierdie kind het nou die nodige hulp en geloof nodig vir sy herstel.
So kom ons bid eerder en glo, inplaas van om spietkop te speel. Almal tree van tyd tot tyd op die een of ander manier nalatig op. mens maak foute. dis menslik, maar sterkte aan die familie ons bid vir Jaco n spoedige herstel toe.

Kroonstad ·

Kan mense net hul neuse uit ander se sake hou en eerder op hulle eie lewens fokus , hierdie gesinne en slagoffers gaan deur ‘n stresvolle en moeilike tyd en het glad nie tyd vir negatiwiteit nie. Gebede en positiewe komentaar word waardeer , maar slegte komentaar is glad nie aanvaarbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.