Plaaslike animasierolprent vir Emmy benoem

‘n Skermgreep uit die animasierolprent (Foto: Verskaf)

Zog is die ywerigste, maar lompste draak in sy klas. Hy droom daarvan om ʼn goue ster te wen terwyl hy leer om te vlieg, te brul en vuur in te asem. Zog ontmoet ’n vriendelike jong meisie wat nie nét sy stampe en kneusplekke versorg nie, maar hom ook help om sy moeilikste skoolopdrag uit te voer, wat behels dat hy ʼn prinses moet vang.

Dié kort animasierolprent wat deur Triggerfish,  ʼn animasieateljee in Kaapstad, is in samewerking met Magic Light vervaardig. Dit is vroeër vanjaar vir ʼn Emmy-toekenning in die afdeling vir beste kinderanimasie benoem.

“Ons is verheug,” het Stuart Forrest, uitvoerende hoof van Triggerfish, oor die nuus gesê. “Ons hoop dat dié benoeming meer Suid-Afrikaners sal aanmoedig om na animasierolprente op ons gratis digitale leerplatform te kyk.”

“Zog het reeds twee toekennings ontvang,” het Forrest bygevoeg. Dit is onder andere as beste animasierolprent by die internasionale televisiefees in Sjanghai aangewys en het die gehoortoekenning vir ouderdomme drie tot ses by die internasionale kinderrolprentfees in New York ontvang.

‘n Skermgreep uit die animasierolprent (Foto: Verskaf)

Die kortfilm is gebaseer op Julia Donaldson en Axel Scheffler se gewilde en gelyknamige prenteboek, wat meer as 1,5 miljoen eksemplare verkoop het. Dit het die Galaxy-toekenning, ʼn Britse geleentheid wat literêre publikasies vereer, se kinderboek van die jaar gewen.

Die regie is deur Max Lang en Daniel Snaddon behartig. Lang is voorheen vir ʼn Oscar benoem en is bekend vir die regie van The Gruffalo en Room on the broom, en Snaddon was verantwoordelik vir die regie van Stick Man.

Zog het verlede Kersfees sy debuut met groot sukses op die Britse televisiekanaal BBC gemaak. Dit het vyfsterresensies ontvang, ongeveer 8,8 miljoen kykers gelok en ongeveer 37 persent van alle kykergetalle gehad, wat die grootste persentasie vir die Kersweek in Brittanje was vir programme op die kanaal.

Die kortfilm het in Maart vanjaar sy plaaslike debuut by die Internasionale Animasiefees in Kaapstad gemaak.

Die agtste internasionale Emmy Kids-toekenningsgeleentheid vind op 31 Maart 2020 in Cannes, Frankryk, plaas. Zog ding mee teen Grizzy and the Lemmings van Frankryk, Jorel’s Brother van Brasilië en Lamput van Indië.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.