Plaaslike ingryping, nié afsondering nodig om virus te stuit – Winde

(Foto: Alex Motoc/Unsplash)

Ten spyte van ʼn kwaai toename in Covid-19-gevalle die afgelope paar weke, steun die Wes-Kaapse provinsiale regering steeds nie ʼn tweede afsonderingstyd nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Woensdag saam met al die ander premiers met pres. Cyril Ramaphosa vergader nadat Ramaphosa ʼn dag tevore ook met die koronavirusbevelsraad oor die styging in gevalle beraadslaag het.

Winde sê die toename in gevalle moet noukeurig dopgehou en bestuur word, maar dat afsondering nie die oplossing is nie. “Ons glo plaaslike, geteikende ingrypings gegrond op wetenskap en gesonde verstand gaan nie net die kurwe van infeksies help afplat nie, maar gaan ook sakeondernemings en die ekonomie teen die negatiewe uitwerking van ʼn afsondering beskerm,” het hy gesê.

Die Wes-Kaap is een van die plekke wat onlangs ʼn skerp styging in gevalle begin ondervind het. Nog een van die brandpunte is die Oos-Kaap.

Talle Suid-Afrikaners is op hete kole oor verwagte aanpassings aan die afsonderingsregulasies. Daar was reeds bespiegeling dat die aandklokreël verskerp kan word en drankverkope in sekere gebiede opnuut beperk kan word.

“Ons wag vir verdere aankondigings van die president rakende moontlike ingrypings op nasionale vlak en ingevolge die Rampbestuurswet,” het Winde gesê.

Winde sê die Wes-Kaap werk intussen aan spesifieke en plaaslike ingrypings om infeksies in die provinsie te stuit. Die provinsie sal na verwagting later vandag spesifieke ingrypings bekend maak wat veral sal fokus op gedragsverandering en strenger wetstoepassing.

Die Wes-Kaap het in hierdie stadium 10 442 aktiewe Covid-19-gevalle. Altesaam 132 642 gevalle is bevestig en 117 501 mense het reeds van die virus herstel. Die sterftesyfer in die provinsie weens Covid-19 staan op 4 699.

Altesaam 1 253 mense word tans in hospitale in die provinsie vir Covid-19 behandel, 209 van hulle in hoësorgeenhede.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het intussen gesê hoewel daar kommer is oor die toename in infeksies en die onvermoë van talle provinsies om ʼn tweede vlaag te hanteer, is sommige van die maatreëls wat reeds voorgestel word ʼn stomp instrument wat lewens en werksgeleenthede gaan kos.

“Die sluit van groot gebiede is nie lewensvatbaar nie en die verbod op die verkoop van alkohol en die sluiting van ondernemings wat dié tyd van die jaar floreer, gaan ons net dieper in ʼn ekonomiese krisis indompel,” het sy gesê.

Gwarube sê die regering het oënskynlik ook geen plan gereed om ʼn entstof aan Suid-Afrikaners beskikbaar te stel nie. “Ons het die verwoestende uitwerking gesien wat ʼn verlengde afsonderingstyd op Suid-Afrikaners, die ekonomie en ons gesondheidstelsel gehad het. ʼn Tweede vlaag was altyd ʼn gevaar terwyl die land aangaan met sake.

“Dit is hoekom ons ʼn plan nodig het om die pandemie permanent en vinnig te hanteer. Ons kan nie vir ewig daarvan weghol terwyl miljoene mense in hul huise van honger vergaan nie. Die president en die minister van gesondheid moet die land op hoogte bring van die proses om entstof te bekom.”

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, stem saam dat ʼn hernieude beperking op restaurante en drankverkope in brandpunte die ekonomie net verdere skade gaan berokken. Hy sê restaurante kom nou eers weer op hul voete en kan nie hul deure sluit elke keer wat daar ʼn styging in infeksies is nie.

“Suid-Afrikaners begin binnekort met hul vakansies en broodnodige geld gaan in plaaslike ekonomieë gepomp word. Dít is nou as mense die versekering het dat hulle toegelaat gaan word om hulle te geniet.

“As hulle gedwing word om ʼn restaurant teen 21:00 te verlaat of aangesê word dat hulle teen 22:00 in die bed moet wees, mag hulle dalk net twee keer dink voor hulle hul swaarverdiende geld spandeer – en dit sal verwoestend wees,” het Macpherson gesê.

Hy sê as die regering in die eerste plek die gesondheidstelsel se vermoë verbeter het – die rede wat die regering vir die aanvanklike afsondering voorgehou het – was dié debat nou nie eens nodig nie.

“Dit is weereens die hardwerkende Suid-Afrikaners in die drank- en restaurantbedryf wat met hul werksgeleenthede gaan boet vir die regering se mislukkings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rentia ·

Nou toe DA, laat ons hoor… al die mense wat nie hou van die heilige rein waarheid nie.. hoeveel hiervan is veroorsaak deur die laaste paar weke se optogte wat toegestaan is en die DA het niks gedoen nie?

Anton ·

Nee wat, indien daar enige impak was, was dit minimaal. Kyk eerder na die idiotiese maatreels soos maskers om die ken en so aan. Mense steur hulle nie aan die nonsens nie.

Hendrik ·

Ek sien die ANC en die DA gaan koppe stamp in die Wes-Kaap. Staan vas op julle beginsels en moenie soos die meeste mense (skape) na die slagpale gelei word nie.

Dup ·

Optogte,dienslewering betogings,oorlaaide taxis,massa kader ondersteuningsgroepe voor hofpersele en taverne partytjies……..die virus versprei soos n veldbrand as sommiges hulle nie steur aan inperking regulasies nie.Wat gaan met strenger regulasies bereik word?

Riaana ·

En as die ‘DA’ die ICU opgerrig het by Pretoria SKOUGRONDE nadat 47 mense Retrench was want ‘DA’ het ons Maatskapy toegemaak want hulle moet dringend n ICU daar oprig, WAT tot vandag toe nie gebeur het nie, ‘DA’ Hou op om julle self so heilig en onskuldig te Hou as daar een party is WAT net so skuldig is soos die res van die regering is dit die ‘DA’ ek se weer julle het 47 gesinne se kos uit hul monde gevat en 47 se gesinne se kinders tot vandag toe laat honger bed toegaan, men’s mag nie haat nie, maar ‘DA’ Suid-Afrika is verseker nie after julle nie, julle is net so skuldig soos ANC, niks better miskien slegter…

Jannie van Niekerk ·

Ek neem hierdie kastige “ernstige styging” in die Wes en Ooskaap met ‘n knippie sout op. Iemand wat peper oor sy kos gooi en nies, het ewe skielik Covid. Of mnr Winde dit nou wil erken of nie, strenger maatreels GAAN die ekonomie skade aandoen. Ek persoonlik sal eerder die ekonomie wil oophou en werkloosheid voorkom. Die getal mense wat aan Covid gesterf het is nie eers ‘n persentasie teen die nadeligheid van werkoosheid wat dit teweeg gebring het nie. En elke werklose het ten mInste drie afhanklikes. maak maar die sommetjie. Ja ek glo aan die samesweringsteorie en nee, ek het ook vriende wat postief getoets het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.