Plaaslike liga vir sakelui op Parys eerste vir Sakeliga

(Foto: exploreparys.co.za)

Die organisasie Sakeliga het Vrydagaand die eerste selfstandige liga vir sakelui in Parys in die Vrystaat bekend gestel.

Sakeliga sê dit is een van die grootste gemeenskapsvergaderings wat nog in Parys gehou is en spreek tot die frustrasie wat die gemeenskap met die bedreiging van munisipale verval en staatsinmenging op die dorp beleef. Die instelling is ook amptelik geaffilieer met Sakeliga.

Die Parys Sakeliga is die eerste wat sal deel vorm van Sakeliga se uitbreiding van die organisasie se nasionale netwerk. Dit is ook die jongste toevoeging tot Sakeliga se plaaslike groep van geaffilieerde sakekamers en -organisasies wat as sakegemeenskapinstellings ten doel het om selfstandig ʼn gunstige en staatsbestande sakeomgewing te bevorder en ʼn dinamiese alternatief vir ʼn tradisionele sakekamer te bied.

Die plaaslike sakeliga word bestempel as ʼn selfstandige organisasie sonder winsoogmerk, wat vanuit sy affiliasie met Sakeliga, regsaksie en projekte strategies sal kan kies sodat dit vir die sakegemeenskap van Parys ʼn struktuur bied waarin hy kan organiseer. Die instelling wil ook vir die breër gemeenskap van Parys opstaan waar dienslewering en ander beleidsaspekte ter sprake is en leiding neem in die inisiatief om Parys as ʼn toeristeaantreklikheid en sakekern op te bou.

Gunstige sakeomgewing

Die bekendstelling van die Parys Sakeliga. (Foto: Sakeliga)

“Ons doel is om ʼn gunstige sakeomgewing te skep waarin sakelui in Parys welvaart kan skep tot voordeel van die hele gemeenskap. Indien ons die sakegemeenskap se hart weer sterk kan laat klop, kry die hele dorp weer lewe,” sê Suleen Peens, die voorsitter van die Parys Sakeliga en die eienaar van ʼn biokinetika-praktyk op die dorp.

Robert Thompson, ʼn plaaslike sakeman en bestuurslid, stem saam.

“Indien ons die kragprobleme vir die sakekern kan oplos, maak dit die oplossings vir al die woongebiede makliker. Dit is tyd dat ons ons sakelui organiseer om dit te bewerkstellig.”

Bernard Nel, plaaslike inwoner en sakeman, het ook uitgebrei oor die Parys Sakeliga se strategiese plan vir Parys in die vorm van die #MyParys-veldtog:

“Dit is ons dorp. Dit is tyd dat elkeen van ons sê dit is #MyParys. Ons is egter nie op ons eie nie. Ons het met Sakeliga geaffilieer sodat ons kan baat by sy nasionale regstrategie vir munisipale selfbestuur en sy kundigheid oor die aangeleenthede. Ons wil Parys bou, bind en beskerm en dit is die kern van die #MyParys-strategie.”

Bloudruk

(Foto: Sakeliga)

Piet le Roux, uitvoerende hoof, sê Sakeliga beoog om met dié strategie ʼn sogenaamde skaalbare bloudruk aan selfstandige sakegemeenskappe en selfs nywerhede te bied om hul sakeomgewings te verbeter, staatsinmenging te beperk deur selfstandigheid te bevorder en samewerking tussen verskillende plaaslike sakegemeenskappe te bewerkstellig.

i“Saam is sakelui meer invloedryk om sterker te staan teen staatsinmenging soos onteiening sonder vergoeding. Saam is sakelui se koopkrag groter, om afslag vir strategiese produkte en dienste te bekom. En saam kan sakelui private ekonomiese infrastruktuur skep en aanmoedig, daar waar die staat tekortskiet – van elektrisiteit tot private geskilbeslegting.

“Niks hiervan is maklik of vinnig nie, maar dit is alles voorbeelde van wat moontlik én nodig is. En dit is boonop, per slot van sake, in die openbare belang.”

“Helde in elke dorp”

Ernst Vorster, hoof van plaaslike sakeligas en affiliasies vir Sakeliga, het beklemtoon dat Parysenaars  self verantwoordelikheid vir die dorp wil en moet neem.

“Sakeliga bemagtig selfstandige sakegemeenskappe met kennis, struktuur en strategie na gelang van hul eie behoeftes. Die sakegemeenskap van Parys het reeds hierdie inisiatief hul eie gemaak en die sakelui se reaksie is vir ons uiters bemoedigend. Die feit dat bykans 200 gemeenskapslede hul ondersteuning by die stigting van die plaaslike sakeliga gevoeg het, toon dat Parys gereed is om sy eie probleme te pak.”

Vorster sê ʼn plaaslike sakeliga, soos die een op Parys, maak nie staat op ʼn instelling van buite die gemeenskap om held te kom speel nie.

“Daar is reeds helde in elke dorp. Sakeliga voorsien bloot ʼn getoetste model waarin gemeenskappe hulself kan organiseer, self besluite kan neem en hulself kan bestuur, maar met die voordeel dat hulle op ʼn nasionale kennispoel kan reken.

Vir meer inligting, besoek www.sakeplein.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Sakeliga/Solidariteit/AfriForum DOEN, die ANC dink net hulle doen! Wonder hoeveel minder pit toilette daar in die land sou gewees het as Sakeliga/Solidariteit/AfriForun toegelaat was om te DOEN? Afrikaans/Afrikaners vir altyd!

Karlahari ·

Die opskrif het my laat kopkrap…..
“Plaaslike liga op Parys ‘N eerste vir Sakeliga” sou reg lees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.