Plaaslike sementprodusente wil invoere stuit

werkers-konstruksiebedryf-boubedryf

(Foto: Pixabay/Pexels.com)

Plaaslike sementprodusente gaan binnekort aan die parlement se deur klop om ʼn ingrypingstrategie in die sektor van stapel te stuur.

Die sementbedryf maan al maande lank dat dit nie teen die oorvloed goedkoop sementinvoere kan meeding nie en het al voorheen by die departement van handel en nywerheid én die Suid-Afrikaanse handelsadministrasiekommissie (Itac) aangeklop om die bedryf te ondersteun deur middel van tariewe.

Bryan Perrie, ʼn bedryfswoordvoerder en besturende direkteur by die Concrete Institute sal die week voorleggings aan die parlementêre komitee doen. “Ons wil nie mededinging stuit nie, maar vra slegs dat dit regverdig is. Om in Suid-Afrika ʼn onderneming te bestuur kos baie meer as wat dit in ander lande, wat sement hierheen uitvoer, kos.”

Volgens Industry Insight, ʼn konstruksie-intelligensieagentskap, het sementinvoere na Suid-Afrika met 293% gestyg tussen Julie verlede jaar en Julie vanjaar. Na verwagting sal die syfer vanjaar verder styg.

“ʼn Bestaanskrisis staar tans die bedryf in die gesig, wat dreig om die industriële kapasiteit van die land verder oor die afgrond te druk. Ons het dringende optrede nodig en het Itac gevra om ʼn beskermingsaksie in te stel teen goedkoper sementinvoere. Tans is invoere amper 45% goedkoper as plaaslike produsente se pryse. Dit versteur die mark se pryse,” sê Perrie.

Die plaaslike bedryf gaan al heelwat jare gebukkend onder ʼn swak ekonomie. Die sementvervaardiger PPC is een van talle Suid-Afrikaanse konstruksieondernemings wat sakereddingsplanne moes instel. Die onderneming bestaan al sedert 1892.

Hy voeg by dat die Suid-Afrikaanse sementbedryf aan soveel regulatoriese vereistes moet voldoen, waaronder die nuutingestelde koolstofbelasting en stygende energiekoste, waaraan oorsese produsente nie hoef te voldoen nie.

“Die plaaslike sementbedryf betaal enorme bedrae belasting wat bydra tot die staat se fiskus en nasionale ontwikkeling bevorder, iets wat die oorsese firmas ook nie doen nie,” sê hy.

Volgens die Construction Industry Development Board (CIDB) se konstruksie-moniteringsverslag vir die derde kwartaal van 2018 dra die bedryf by tot 8% van formele indiensneming in Suid-Afrika en tot 17% in die informele sektor. Tussen 2009 en 2017 het die bedryf 170 000 werksmoontlikhede in die formele sektor geskep, met 93 000 in die siviele sektor en 76 000 in die boubedryf.

“Die land se grootste uitdaging tans is werkloosheid, wat tot onrus lei en ekonomiese groei stuit.”

As die plaaslike infrastruktuurbedryf en vervaardigingskapasiteit gestimuleer word, kan die werkloosheidskrisis ook beter aangepak word. Geleenthede word ook vir jongmense en volwassenes geskep, sê Perrie. “Goedkoop sement gaan egter tot hierdie krisis bydra en sal tot verliese oor die hele waardeketting lei.”

Perrie wys verder uit dat die plaaslike sementbedryf die kapasiteit het om 20 miljoen ton sement per jaar te vervaardig, hoewel dit tans slegs 13 miljoen ton per jaar vervaardig. “Ons wil deel wees van die inklusiewe groei wat pres. Cyril Ramaphosa by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Kaapstad voorgestel het. Hy het gesê dit is nou Afrika se tyd, en Afrika se eeu, en ons wil dit op ons bedryf toepas.”

Perrie voer aan dat die bekragtiging van die plan vir die Afrika- kontinentale vryhandelsgebied (AKV) slegs sal werk as daar vir groei in infrastruktuur voorsiening gemaak word. “As ons dit nie kan verskaf nie, kan handel nie bewerkstellig word nie. Ons het paaie, brûe, hawens en lughawens nodig. Die AKV benodig die oorlewing van ʼn plaaslike, goed gereguleerde en doeltreffende sement- en betonbedryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ellisras ·

Die regering sal wakker skrik as dit klaar te laat is. Die vakbonde betrokke verstaan nie, en probeer nie verstaan nie. Daar kan maar miljoene werkloos wees. Solank die 100 of so wat werk het goed betaal word.

Arak ·

‘n Ander ding wat ek ook wonder, is hierdie ingevoerde sement op standaard. Daar word soveel gemors uit Sjina ingevoer, en dan is die goed so substandaard, dat jy dit na ‘n kort tyd weer moet vervang. In die verlede het die SABS ons beskerm, maar deesdae is daar geen beskerming meer nie en kan ons vir dieselfde gemors oor en oor en oor betaal.

Platjie ·

Arak – gaan kyk gerus op PPC Cement se webtuiste. Persverklaring gister gedoen, goedkoper sement definitief laer standaard wat baie slegte gevolge vir die verbruiker kan inhou.

Alida X ·

Hierdie goedkoper sement is ook vilgend my nie dieselfde kwaliteit as PPC selfs al dui die sak dit so aan.
Meer krake kom is vloere voor wat daarmee gegooi is.
My beskeie mening

marous ·

Wie se skuld is dit dat plaaslike produkte onbekostigbaar is ? As die verbruiker dit nie kan bekostig nie , moet die deure maar sluit .

Judge Dredd ·

Julle produktiwiteit is te laag. 7 ouens kyk mos hoe een ou werk.

Leon ·

Ons het aangebou toe die plaaslike sement produsente gestaak het en hulle begin het om Oosterse sement in te voer. Dit was net soos SASOL en motors totaal oorgeprys. Hoeploos te duur vir wat dit ingebring is. ‘n Jaar later het ons agtergekom wat die kwaliteit is. Die wind waai die sement uit tussen die bakstene. Die verhouding was reg, maar die kwalieit is pateties. Geen wonder die geboue in die Vêrre Ooste val om en inmekaar nie. Moenie bekommerd wees nie. Al die mooi winkelentrums en bruggies wat gebou is met die ingevoerde semant gaan een van die dae inmekaar stort. Die regering is so ingekruip in die Oosterse nasies, hulle gee niks om wat aangaan nie. Solank as die ANC lekker geld kry onder die tafel om hulle buitengewone leeftsyl te handhaaf, kan Rome om hulle brand.

Phil ·

Ek was verlede naweek by n baie bekende “warehouse”. Daar was n man wat woedend was toe een van die mense wat by “warehouse” werk sê hulle koop nie meer sement by PPC aan nie. Volgens die kliënt is PPC baie goeie gehalte en wou nie die goedkoop sement koop wat Builders aanhou nie.

Linda Merwe ·

Die ANC regering met ons land se ekonomie uitgelewer aan China, inruil vir ñ pot geld vir eie gewin…te kortsigtig en gierig om om te gee oor die langtermyn skade wat dit aanrig. En dan plunder hulle nog die laaste lewe uit die plaaslike vervaardiger met BEE, belasting en idiotiese vakbond regte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.