Plaaslike toerisme herstel goed ondanks ellende in bedryf

Blue Bay Bungalow (Foto: LekkeSlaap)

Ondanks die toerismebedryf se voortslepende stryd is plaaslike toerisme op die herstelpad. Dít volgens Gerriline Fouché, bemarkingshoof by die plaaslike akkommodasie-besprekingswebtuiste, LekkeSlaap.co.za.

Fouché sê LekkeSlaap se bedrywighede het nie net na normaal teruggekeer nie, maar dat hulle selfs ’n toename in besprekings ervaar het in vergelyking met voor-Covid-19-tye.

“Vanjaar se Februarie, Maart en April was uitsonderlike maande, met besprekingsvolumes wat dié van die ooreenstemmende tydperk in 2019 oorskry het. Vergeleke met Maart verlede jaar se besprekings wat by nul gaan draai het, toon die geweldige toename in huidige besprekingsyfers baie duidelik dat plaaslike reis merkwaardig herstel het,” sê sy.

Statistieke Suid-Afrika se jongste syfers toon ’n afname van 72,9% in die toerismebedryf se algehele inkomste vir Januarie in vergelyking met dieselfde tyd laas jaar. Nietemin ervaar LekkeSlaap ’n toename in besprekingsvolumes.

“Alhoewel daar ’n afname in besprekings vir Desember verlede jaar was weens strande wat gesluit was en ander inperkingsmaatreëls, het ons weer ’n toename gesien toe daardie inperkings opgehef is.

“’n Effense laer inkomste was vir hierdie tyd geraam, maar die skerp toename in besprekings vanaf Februarie, en die volgehoue opwaartse kurwe wat daarop gevolg het, weerspieël nie Statistieke Suid-Afrika se droewige syfers nie. Ons is besig om voor te berei vir ’n besige 2021-feesseisoen en verskeie gewilde dorpe is reeds besig om vol te raak vir die Kerstyd.”

Fouché sê hulle ervaar tans ’n langer seisoenale opwaartse neiging in besprekingsgetalle as wat hulle normaalweg sou verwag ─ besprekingsgetalle wat algemeen van Paastyd is, duur vanjaar byvoorbeeld lank ná die rits langnaweke voort.

“Alhoewel die besprekingsbedryf steeds ’n seisoenale bedryf is, is dit duidelik dat die wêreldwye pandemie die seisoenale besprekingstendense waaraan ons gewoond is, verander. Dít, tesame met die veranderende skoolkalender, het veroorsaak dat die vakansiebedryf ’n langer spitsseisoen as normaalweg beleef.”

Fouché sê LekkeSlaap het glad nie die vinnige opwaartse kurwe verwag nie as gevolg van die rampspoedige verliese wat die bedryf net meer as ’n jaar tevore gely het.

Tydens ’n opname wat die maatskappy in Mei verlede jaar gedoen het, het die meeste (55,2%) akkommodasie-eienaars verwag dat besprekings eers teen die 2020-feesseisoen sou normaliseer. LekkeSlaap het wel reeds in September verlede jaar rekordbesprekingsdae gehad en het baie vroeër ’n herstel gesien as wat die syfers getoon het.

Statistieke Suid-Afrika se syfers toon wel baie duidelik dat die groter toerismesektor steeds in nood verkeer.

Fouché vermoed LekkeSlaap se terugkeer na normaal is grootliks te danke aan hul klem op plaaslike reis, terwyl die groter toerismesektor se gesukkel aan die tekort aan internasionale toeriste na Suid-Afrika toe te skryf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ovelia

Hul pryse ht beslis nog nie gesak dt ons Suid afrikaners kan vakansie hou ni

Jaco

So toerisme kan herstel sonder die anti-wit ANC-regering se 100% BEE-gebaseerde noodfonds. Waarom kla almal dan so?