Plaaslike verkiesing gaan voort

Die 2021- plaaslike regeringsverkiesing op 27 Oktober voort. (Foto: Maroela Media)

Die 2021- plaaslike regeringsverkiesing sal ondanks die Covid-19-pandemie op Woensdag 27 Oktober voortgaan.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Woensdag met die amptelike bewusmaking van dié verkiesing begin deur die bekendstelling van sy Every Voice Together-veldtog wat kiesers aanmoedig om aan vanjaar se stemmery deel te neem.

Maroela Media het onlangs berig dat die OVK ’n hersieningsproses onder leiding van oudregter Dikgang Moseneke van stapel gestuur het om te bepaal of die komende verkiesing te midde van die Covid-19-pandemie uitgestel moet word.

“Die OVK kan egter verseker dat doeltreffende, doelgerigte maatreëls geld om te sorg dat die komende verkiesing veilig geskied.

“Dié maatreëls is oor die afgelope sewe maande suksesvol by meer as 150 voorverkiesings beproef,” het die kommissie Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Benewens gesondheids- en virusverspreidingsrisiko’s was van die bekommernisse wat die OVK geopper het dat politieke partye daaroor verdeeld is of hulle vrylik en regverdig ingevolge die huidige rampregulasies stemme sal kan werf.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het daarop gesê dat die regte balans tussen die beskerming van die demokrasie en die beskerming van lewens gevind moet word.

Mashinini het Woensdag gesê dat die Covid-19-pandemie ’n vernietigende uitwerking op lewens, gesondheid, die ekonomie, werkloosheid, asook sosiale, kulturele en geloofsnorme gehad het.

“Ons kan egter nie toelaat dat die pandemie ons waardes, beginsels, oortuigings en die wil om ons mense en manier van lewe te beskerm, verander nie.

“Dit [die pandemie] mag nie ons swaargewonne demokrasie en die stemme van die land se mense wegvat nie.”

Volgens Mashinini is daar tans 25,75 miljoen kiesers geregistreer. Die OVK hoop om met sy nuwe veldtog nuwe kiesers onder veral jong mense te werf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.