Plaaslike verkiesing ‘onvoorspelbaar’ weens apatie, konflik

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Al hoe minder mense daag die afgelope twee dekades by die stembus op en kenners voorspel dat stemgetalle vanjaar selfs verder sal daal, veral aangesien net ʼn derde van stemgeregtigdes vanjaar geregistreer het.

Daarom, sê dié wat weet, is die uitslag van vanjaar se plaaslike verkiesing waarskynlik baie onvoorspelbaar.

“Afgesien daarvan dat ʼn plaaslike verkiesing tradisioneel onvoorspelbaar is – omdat verskillende plaaslike kwessies ʼn rol speel – gaan hierdie een selfs meer onvoorspelbaar wees,” sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Minder as 20 miljoen mense het in 2019 in die nasionale verkiesing gestem, die laagste getal sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Sowat 26,2 miljoen kiesers is geregistreer om in die komende plaaslike regeringsverkiesing te stem, terwyl meer as 40 miljoen stemgeregtig is. Dit beteken sowat ʼn derde van alle stemgeregtigde kiesers het besluit om nie eens te registreer vir die verkiesing nie en sal dus nie toegelaat word om hul kruisies te trek nie.

Groeiende apatie

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Duvenhage sê die stempersentasie het lankal afgeneem en apatie teenoor die kiesproses word met elke verkiesing groter. ʼn Wegbly-stem word bestempel as een van die maniere vir kiesers om ʼn party wat hulle vantevore ondersteun het, te straf.

“Die apatie is besonder hoog op plaaslike vlak en ek wil my nek uitsteek en sê dit gaan die hoogste voorkoms van apatie nóg wees,” sê hy.

Duvenhage sê hy verwag hoër vlakke van politieke deelname van minderheidsgroepe – wit, bruin en Indiërkiesers – en meen dat kleiner, sogenaamde nispartye wel ʼn impak kan hê: “Die IVP, die VF Plus, selfs die EFF wat ʼn swart identiteitsparty is. Ek dink die onafhanklike kandidate gaan ook beter vaar.”

Talle nuwe partye het hul name in die verkiesingshoed gegooi en verskeie onafhanklike kandidate se name verskyn vanjaar op stembriewe.

“Dit maak die uitslag van die verkiesing baie meer onvoorspelbaar,” sê Duvenhage.

Onafhanklike kandidate bedreig ANC

Talle nuwe partye het hul name in die verkiesingshoed gegooi en verskeie onafhanklike kandidate se name verskyn vanjaar op stembriewe. (Foto: DA/Facebook)

Duvenhage meen daar is ook toenemend twee politieke stelsels in Suid-Afrika: die formele politieke stelsel en ʼn parallelle stelsel of staat, waarby al hoe meer mense betrokke raak om kernfunksies van die staat oor te neem. Dit brei op verskeie vlakke uit, veral onder diegene wat ʼn alternatiewe toekoms probeer skep.

Duvenhage verwag dus ʼn beduidende wegblystem, ook onder ANC-ondersteuners wat ontnugter is met die regerende party se prestasie, maar nog nie ʼn ander politieke tuiste kon vind nie. In sommige gebiede, waar groot ontevredenheid op plaaslike regeringsvlak heers, kan onafhanklike kandidate stemme op hulle verenig wat vantevore na die ANC sou gaan.

Daar is ook aanduidings dat onafhanklike kandidate spesifiek geplaas word om ANC-kaders uit die kussings te lug.

Hy meen egter lojale ANC-kiesers sal moeilik vir ʼn ander party of kandidaat stem.

“As jy rasioneel stem, stem jy vir mense wat presteer, maar sommige kiesers werk met lojaliteit en daarom hou hulle by die ANC. Daardie argument weeg tans nog swaarder as byvoorbeeld infrastruktuur wat aan flarde is.

“Ons weet hier is 19 miljoen mense wat staatstoelae ontvang, maar in werklikheid is sowat 30 miljoen mense van die staat afhanklik. Dit sluit mense in die staatsdiens in, wat op die ANC se ticket daar is, en mense wat weens Covid-19 en die onluste toelae ontvang het. Want elke keer dat hier ʼn krisis in die land is, speel Cyril Ramaphosa Krismisvader.”

Duvenhage sê mense sal dus eerder ʼn stem weerhou, as om openlik teen die ANC te draai. “Hul argument is ‘wie is jy om aan die ANC te vat, dis ons huis hierdie’.

“In tradisioneel swart gemeenskappe verwag ek dus konflik en apatie,” sê hy.

Hy meen slegs diegene wat regtig woedend is, sal moontlik vir ʼn ander party as die ANC stem.

Jong stemme

Dit lyk boonop of jongmense nie juis veel belangstelling het om hul kruisies te gaan trek nie – en ook nie oortuig is dat ʼn kruisie op ʼn stembrief hul lot gaan verander nie.

Volgens die onafhanklike verkiesingskommissie se statistieke is slegs sowat 4,6 miljoen kiesers jonger as 30 geregistreer om te stem, terwyl nagenoeg 15 miljoen mense in dié ouderdomsgroep wel stemgeregtig is. Hierdie jong kiesers is maar ʼn skamele 17,5% van die algehele kiesersrol en is boonop ʼn kwart minder as in 2016, toe 6,3 miljoen mense op die kieserslys jonger as 30 was.

“Daar is ʼn klomp redes waarom jongmense nie stem nie, maar ek dink die groot rede is dat hulle sukkel om te sien hoe dit hulle raak. Jonger mense se leefwêreld het verander. Dit is ʼn virtuele leefwêreld, ʼn ander omgewing.”

So lyk die OVK se statistieke oor jong kiesers. (Grafika: OVK)

Hy sê veral jong, wit kiesers voel hulle het nie werklik meer ʼn belang by die politieke gevegte van die dag nie – en dit is ook hulle wat dikwels by parallelle strukture inskakel – en beskou dit tot sekere mate as ʼn verlore saak.

Hy sê jonger swart kiesers is veel meer aktivisties, maar identifiseer nie regtig meer met die struggletydperk van 1960 tot 1994 nie. “Die meeste van daardie kinders was óf baie klein, óf nog nie gebore nie. Hul generasie identifiseer nie meer met daardie stryd nie. Daar is vir hulle ander goed wat belangrik is, soos goeie onderwys, toegang tot tegnologie en ʼn gehaltelewe.”

Die EFF steun heelwat op werklose jongmense om die rooi barette se plek aan die plaaslike regeringstafel te help dek, maar Duvenhage sê selfs dié party sukkel om behoorlik te mobiliseer.

Boonop teister die spook van die VBS-skandaal die EFF steeds.

Hoewel die EFF dus na ʼn aanloklike politieke tuiste vir radikale jonges lyk, waarsku sommige kenners die party se retoriek kan veral ouer kiesers afsit en hom vervreem van ʼn groter gedeelte van die bevolking.

Só lyk die steun tans

Volgens ʼn Ipsos-opname wat verlede maand gedoen is, staan steun vir die ANC in hierdie stadium op 34,9%, ʼn beduidende daling van die 57,5% van stemme wat die ANC in 2019 op hom verenig het.

Steun vir die DA staan volgens die opname op 12,7% (van 20,8 in 2019), terwyl die EFF se steun op 10,3% (van 10,8% in 2019) staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Om te gaan stem tydens die matriekeksamen… ure in ‘n tou staan vir nog dienste ongelewer. Stembriefies is beslis nie hoog op die prioriteitslys vir leerders en studente na ‘n erg ontwrigte jaar nie en dan moet hul ook besluit oor die covid-ent (ook in ‘n lang tou wag), nou of later. Hoekom is op die datum besluit sonder konsultasie? Maar dit is ook waar dat die ANC nooit verder dink as wat… hulle dink nie.

Frank John

Op die eerste November 2021 sal vir ons wys hoe mense werklik dink en optree. Ons kan spekuleur en ons opienies lig maar proof is in the poedding.

Werner

Daar word nou al vir 27 jaar hard gestem in die nuwe SA.Die resultaat daarvan is dat dit net slegter gaan met ons ou volkie.Tyd dat ons wakker skrik en besef dat dit ons nie gaan help nie.Wag nou al 27 jaar vir ons kamstige volkstaat wat die FV ons belowe het.Vandat hulle die + bygevoeg het het hulle ook net praters geword.Wag maar vir die anargie dan sien ons wat broei daar uit.

Papsak

Ja nee wat almal groot monde maar daar word daadwerklik niks maar niks gedoen nie kyk hoe moetvjy sonder water en sonder krag sit en dit is maar vir hulle reg so om te lewe hulle hoort hulle te skaam goeie voor uit gang ne

marius

Apatie . Dis die waarheid .