Plaasmoord: Advokaat tydens plaasaanval vermoor

misdaadtoneel

Argieffoto

Adv. Tom Sawyer (63) is Maandag op sy plaas Oudehoutdraai naby Greylingstad in Mpumalanga vermoor.

“Sy moord kom as ʼn groot skok vir ons. Die enigste misdade waaraan ons hier rond gewoond is, is goed soos kabeldiefstal,” het ʼn boer uit die omgewing, Wynand Ambrosius, gesê. Ambrosius het Maandagoggend op sy goeie vriend se bebloede liggaam afgekom.

Hy het Dinsdag aan Maroela Media gesê Sawyer se werkers het die oggend onraad vermoed toe hy nie soos oudergewoonte vir hulle die hek van sy plaas oopgemaak het nie. “Hulle het boonop deur die hek gesien sy slaapkamervenster is stukkend, en het my kom roep,” het Ambrosius bygevoeg.

Ambrosius self het nog ʼn buurman en die polisie ontbied. Hulle het saam gaan ondersoek instel.

“Ek het saam met die polisie in die huis ingegaan en gesien sy slaapkamer is geplunder. Die gordyne het ook op die grond gelê. Die kamer was baie deurmekaar. Ek het dadelik so ongemaklike gevoel gekry. Ons het Tom se liggaam onder die gordyne langs sy bed aangetref. Sy hande was agter sy rug vasgemaak.”

Sawyer was reeds dood toe Ambrosius en die polisie by die toneel opgedaag het. Hy is in sy bolyf geskiet. Hy is vermoedelik ook met ʼn plank aangerand. Sy vuurwapens, ʼn skootrekenaar en selfoon word vermis.

Sawyer bly al byna 20 jaar lank op sy plaas en het met beeste, skape en wildsbokke geboer. Hy laat sy vervreemde vrou, Estelle, en twee dogters agter.

Brig. Selvy Mohlala, ʼn polisiewoordvoerder van die Mpumalanga, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die polisie is besig om leidrade op te volg en hoop om binnekort ʼn deurbraak te maak,” het hy gesê. Volgens Mohlala is dit nie bekend hoeveel mense by die aanval betrokke was nie.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marlene ferreira ·

Jag self die moordenaars en stel hulle tereg. Plaasmoorde bestaan mos nie dan kan optrede daarteen ook nie bestaan nie, sterkte

Drieks ·

Nog ‘n familie wat die prys betaal vir ons onwillige regering. Ons smeek al van 1998 af, en van 2000 af het jul ons gesé dit nie so erg. En nou is die moordenaar in beheer. Slim ANC….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.