Plaasmoord: Lewenslank vir bekende suikerrietboer se dood

Anne Hampson, Micky se vrou Foto: Shan Pillay, IOL

Anne Hampson, Micky se vrou Foto: Shan Pillay, IOL

ʼn Man van KwaZulu-Natal is Vrydag lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy die bekende suikerboer Micky Hampson (69) vermoor het.

Jabulani Ngobese (28) het erken dat hy en sy voormalige medebeskuldigde, Sibonisa Mtolo (25), gewapen met messe, na Hampson se plaas is om ʼn voertuig helder oordag te steel.

Hampson is doodgeskiet nadat hy die twee mans aangesê het om sy plaas te verlaat, omdat hulle sy eiendom onregmatig betree het.

Die hof het gehoor dat die twee beskuldigdes geweier het om die plaas te verlaat en die Hampsons het hulle in Micky se bakkie laat klim saam met Micky se seun Murray (34), wat ʼn haelgeweer by hom gehad het. Die twee mans is aangesê dat hulle na die polisie toe geneem word, aangesien ʼn naburige plaas beroof is.

Die twee mans het Murray oorrompel en oor die haelgeweer baklei toe dit van die bakkie af geval het.

Ngobese het tydens die struweling twee keer probeer om Murray met die mes te steek.

Mtolo het uiteindelik die vuurwapen op Murray gerig en die sneller getrek. Hy het nie besef dat die veiligheidsknip nog aan is nie, en hy is verhoed om Murray te tref. Murray het vir sy lewe gevlug en in ʼn suikerrietplantasie ingehardloop. Hy het vir sy pa geskree om weg te ry.

Micky het weggery toe Mtolo agter hom aangehardloop het en op hom losgebrand het. Hy is agter die stuurwiel oorlede. Terwyl hy gesterf het, het Ngobese sy sakke deursoek en sy bril gesteel.

Mtolo het vroeër in die hooggeregshof in Pietermaritzburg skuldig gepleit op ʼn aanklag van moord. Hy het ook skuldig gepleit op aanklag van poging tot moord op Murray.

Ngobese het in daardie stadium skuld ontken en hul hofsake is geskei.

Regter Isaac Madondo het Mtolo op 14 Maart lewenslange tronkstraf opgelê. Ngobese het onskuldig gepleit voor waarnemende regter Louis Barnard.

Barnard het tydens sy uitspraak gesê Ngobese is net so skuldig soos Mtolo, aangesien hulle met ʼn gemene doel opgetree het, en messe saamgebring het indien hulle uitgedaag sou word.

Barnard sê lewenslange tronkstraf vir die moord, 15 jaar tronkstraf vir die diefstal en 10 jaar vir poging tot moord op Murray is nie buite verhouding met die misdade nie.

Die Hampson-gesin het die polisie en Magma Security gelukgewens met hul doeltreffende ondersoek en staatsaanklaer Candy Kander bedank vir die manier waarop sy die saak hanteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veronica Deacon ·

Dit bly hartseer. Dankbaar oor die vonnis.
Wat my nou bring by die volgende, buiten vir die moordwapen, waarom dit nodig ag om ‘n bril te steel?

piet paashaas ·

Valse gemoedsrus. Die uitwissing gaan voort. 2 gevang. Een miljoen kom weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.