Plaasmoord: Nare hoofstuk amper afgesluit

Deon de Bruyn.

Deon de Bruyn (25) van Komatipoort in Mpumalanga se familie is nou een stap nader om dié nare hoofstuk af te sluit, nadat sy moordenaars onlangs skuldig bevind is.

“Ons is dankbaar die saak is amper afgehandel, sodat ons die toutjies van ons lewe weer bymekaar kan trek. Die werklikheid is egter dat selfs nie eens ʼn skuldigbevinding berusting vir my sal bring nie. Ek dink ook nie die vonnis sal nie. My seun is weg, niks sal hom terugbring nie. Ons lewe sal nooit weer normaal wees nie,” sê Deon se ma, Susan de Bruyn.

“My gevoel teenoor die verdagtes het nie verander nie. Ek sal hulle nooit kan vergewe en net vergeet nie.”

Deon is op 17 Junie 2018 op ʼn plaas naby Komatipoort, Mpumalanga, doodgeskiet. Estelle Jansen, wat vir hom soos ʼn “tweede ma” was, is drie keer geskiet, maar het die voorval oorleef.

Die De Bruyns woon steeds op dié plaas.

Die sewe verdagtes, Derrick Makamo, Rawul Mhlanga, Sifiso Madonsela, Solomon Msimango, Oscar Chauke, Hendry Manonga en Fanie Mkhabela, is op 23 September in die hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, skuldig bevind op aanklagte van moord en poging tot moord.

Die hofsaak is nie net emosioneel stremmend op Deon se familie nie, maar raak hulle ook finansieel.

Deon se ouers, Deon sr. en Susan.

“Elke keer moet ons iemand kry om ons onderneming te beman, my seun moet verlof insit en ons moet kilometers na die hof toe ry.”

Susan en haar man, Deon, hul seun en dogter, Dirk de Bruyn en Amerelda Pohl, en Susan se ma, Alida Coetsee, het die verdagtes se skuldigbevinding bygewoon. Johan Kloppers, berader by AfriForum se traumaeenheid, het die familie die dag bygestaan.

“Ek het moordgedagtes gekry toe ek my kind se moordenaars voor my sien staan. Die ergste was wanneer hulle in die beskuldigdebank omdraai en vir ons kyk, met ʼn glimlag op hul gesigte. Dis so asof hulle ons wil uitlok.”

Volgens Susan het van die verdagtes tot aan die einde nog vas geglo dat hulle nog vrygelaat gaan word en blyk dit dat die skuldigbevinding vir hulle ʼn groot skok was.

“Hulle verstaan nie dat die deler so goed soos die steler is nie. Hoewel hulle nie die sneller getrek het nie, was hulle by toe Deon vermoor is. Almal van hulle het daardie dag na sy huis toe gegaan met ʼn gemeenskaplike doel.”

Volgens Kloppers was die familielede tydens die hofsaak baie emosioneel en elkeen het anders op die uitspraak gereageer.

“Daar was ʼn mate van verligting, maar ook die besef dat niks eintlik verander het nie, aangesien niks Deon gaan terugbring nie,” sê Kloppers.

“Die emosionele mallemeule waardeur elkeen gaan ten tye van só ʼn hofsaak krap die ou wonde oop en die skok om die mense te sien wat jou geliefde vermoor het, is ook baie traumaties.”

As berader dien Kloppers as ʼn buffer en sit gewoonlik agter die familie in die hof, sodat hulle weet hy is daar, maar ook dat hy nie sal inmeng of hulle persoonlike ruimte betree nie.

“Met elke verposing in die saak, of as een van hulle tydens die uitspraak sou uitstap, het ek hulle vergesel, net sodat hulle weet ek is daar vir hulle.”

Kloppers sê wanneer iemand met ʼn hofsaak gekonfronteer word, is die afhandeling daarvan net nog ʼn hoofstuk wat klaargeskryf is en is dit nodig om te verstaan dat die pad na herstel vir party langer as ander neem.

Susan het vroeër vanjaar aan Maroela Media gesê die mans het haar lewe ook op die dag van Deon se dood geneem, sonder om haar asem uit te haal.

“Ons familie se lewe het handomkeer verander. Ons het sedert Deon se dood nooit meer as gesin saam gebraai of eens Kersfees saam gehou nie. Elkeen doen sy of haar eie ding. Dit is net te moeilik om saam iets te doen, want dan kom al die herinneringe weer terug. Dit voel ook nie reg sonder Deon nie.”

Deon sou op 12 Desember vanjaar 30 jaar oud geword het.

“Dit is onregverdig dat hy so jonk weggeneem is. Dat hy dit nooit sal ervaar om ʼn vrou of kinders te hê of om oud te word nie.”

Deon het saam met Jansen op die plaas Simonsvlei met suikerriet, mango’s en groente geboer. Deon is tydens die aanval net bo die hart geskiet. Hy is op die toneel dood.

Die moordenaars sal na verwagting 7 en 8 Desember gevonnis word.

Die familie hoop vir die swaarste vonnis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Diets ·

Ai mense….ek voel vir elkeen van julle wat agterbly en die stukkies moet optel. Sterkte vir julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.