Plaasmoorde: DA trek ‘n duidelike streep in die sand

(Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Afgevaardigdes van die Demokratiese Alliansie se federale kongres het Sondag eenparig ‘n beleidsbesluit ondersteun dat plaasaanvalle en -moorde tot ‘n haatmisdaad en ‘n prioriteitsmisdaad verklaar moet word.

Dianne Kohler Barnard, die DA se skaduminister van staatsveiligheid, het gesê vir die parlementslede, lede van provinsiale wetgewers en raadslede wat deel is van die DA-werkgroep oor plaasaanvalle en landelike veiligheid, is dit verblydend dat die Federale Kongres hierdie resolusie aanvaar het. Die resolusie vra vir strawwer vonnisse wanneer aanklaers bewys dat die motief vir die misdaad haat of minagting was, op grond van die slagoffer se identiteit as boer of plaaswerker.

“Toe ons in 2006 vir die eerste keer oor plaasmoorde gepraat het, het die president, die regering en die ANC hierdie toenemend wrede aanvalle geïgnoreer. Tot en met die bekendstelling van die DA se 16-punt-veldtog 6 maande gelede, is plaasaanvalle en moorde grootliks deur die regering geïgnoreer,” het Kohler Barnard bygevoeg.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se planne om aanvalle en moorde op swart en wit boere, plaaswerkers, hul vrouens, kinders en ouers te bekamp het grootliks gefaal. Hulle het steeds ’n vier keer groter kans om vermoor te word as die gemiddelde Suid-Afrikaner.

“Die situasie op plase en landelike gemeenskappe was weer in die kollig toe die minister van polisie, Bheki Cele, alle plaaspatrollies tydens die aanvanklike Covid-19-grendeltydperk verbied het. Plaasaanvalle het onvermydelik die hoogte ingeskiet. Minister Cele voel ’n veer vir die lewens van landelike inwoners. Hy was onlangs weer nêrens te vinde toe drie van die land se provinsies deur brande verwoes is nie – en dit direk nadat die EFF ’n beroep op sy lede gedoen het om boere te verbrand. Dit was die DA wat sake in hierdie verband aanhangig gemaak het,” het Kohler Barnard gesê.

“Ons landelike gemeenskappe word konstant bedreig. In die afgelope tien jaar is ongeveer 612 boere en plaaswerkers vermoor, met minstens 2 818 aanvalle wat aangeteken is, wat baie slagoffers vermink, verkrag, verlam of verblind gelaat het. Landelike gemeenskappe is verskriklik kwesbaar vir die afskuwelikste aanvalle. As gevolg van die afsondering van landelike gemeenskappe, het aanvallers die tyd om hul bose planne te volbring, hul olie te kook, die strykysters te verhit en hul messe te slyp.

“In die lig van hierdie gruweldade bedank ons die DA-afgevaardigdes van die Federale Kongres vir hul absolute steun aan hierdie resolusie wat nie net poog om plaasaanvalle as haat- en prioriteitsmisdade te verklaar nie, maar om ook streekspesifieke landelike veiligheidsplanne op te stel vir elke landelike polisiedistrik in Suid-Afrika, en dat landelike gemeenskapspolisiëringseenhede ingestel word vir elke polisiekantoor op plaaslike stasievlak wat ten minste een landelike sektor bedien.”

Deur hierdie resolusie te steun het die DA gesê genoeg is genoeg. “Ons het ons onderneming om te verseker dat alle Suid-Afrikaners gelyke beskerming en veiligheid deur die regering en SAPD kry, soos bepaal in ons Grondwet, bevestig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Uitstekend DA. Sterkte. Julle gaan dit nodig hê.

Persheks Adri ·

Wragtag pragtig DA! Sterkte met die taak op julle hande. Die regering en Cele voel absoluut niks vir ons boere nie en hulle is net ‘n mislukking en stel almal terleur pffft. Iets moet gedoen word aan die petters met haat spraak en aan hits van geweld en moord! Sal kyk wat maak hulle as ons die kos onttrek van die mark af, want dan eers gaan hulle wakker skrik!

Sarel ·

Is dit dalk ” Verkiesingsfoeffie” Hulle steun sreeds BEE

Androclus ·

Hou op negatief wees,en as hulle suksesvol is wat dan??

Pieter ·

Jammerlik dat slegs die DA klagte aanhangig gemaak het teen die EFF rakende die onlangse brande. Die res stel my diep teleur en word nie vertrou nie.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis goed, maar gaan hulle hul beloftes hou?

Magda ·

Dankie DA – As dit nie vir julle was nie het Staats kaping NOOIT uit gekom nie, so ek het volle vertroue dat julle die Plaas moorde ook as Haatmisdaad gekwalifiseer al kry. Sterkte en Dankie DA

annie ·

Nou eers… noudat die wit stemme begin taan en die verkiesing volgende jaar wink. Die probleme van grondgrype word nou ook in die Kaap gevoel, die hartland van die DA. Voorheen was die boere daaar ver bo in die nooorde op hulself aangewese. Net die Kaaplandse damme moet ook vol bly. Niks word gedoen om landwyd hand by te sit nie. Miskien kan die DA ‘n slag daar ver nooord ook met die VFPlus en AfriForum saamwerk en nie andersom nie.

Deon ·

Maak nie saak hoe lank die vonnisse is nie, maak nie saak hoe baie dit veroordeel word nie, maak nie saak hoeveel lyne in die sand getrek word nie, n lewe wat geneem is, is geneem. n Verkragde is verkrag, n verminkte is vermink!!!! Reaktiewe planne is net nie goed genoeg nie.. Los die boere saam met hul plaaslike landelike polisie eenhede uit sodat hulle self hierdie strooi kan stopsit. Skool die populasie van die land sodat hulle kan verstaan wat aangaan, sodat die aanvaller kan verstaan PRESIES, wat hy besig is om te doen. Maak n plan met die werkloosheid, nie n lekker ou praat, kom ons word gou almal miljoenere nie, maar n plan wat werk skep. Die politikuste maak mens se stert lam met al hulle groot pratery en geen resultate. Aasvoels wat wag dat die prooi gevrek het voordat hulle kom “score” wat oorgebly het…. Eintlik moet die hele lot wat so lekker planne maak wat niks van kom nie, hulself skaam. Ek bedank elke burger van ons land wat nog ten minste probeer op die lyne loop

Werner ·

Kan Sien daar is nou weer n verkiesing om die draai.Wat kan die DA doen wat die ander organisasies wat nou al lig jare voor die DA is nie kon doen nie.Lyk vir my net na n stemwerwery vang maar die goedgelowiges wat in elkgeval nie weet wat om hul aangaan nie

Oom Hennie Pennie ·

Dankie, dit is hoog tyd dat die DA begin tande wys

Nic ·

al wat ek kan sê is bring die kommandos terug. ek was 15jaar n lid en was trots om ons boere te kon help beskerm in limpopo

Erika ·

Mooi so Nou Beweeg ons in regte rigting….Kom ons kyk of dit manifisteer..

Fedup ·

Don’t get me wrong.
And if you do, tough.
Anyhoo it will be awesome if the da can achieve their goal about farm murders with this turn of events during the circus’s lockdown. I honestly wish you the best of luck and will stand behind you in this case.
But; DO NOT only know me when voting time is around the corner.
Each one of us who vote for a circus, have to get something out of the deal.
We get nothing, till the voting frenzie start.
Now where is my little troll.

Mrs H ·

Kan EFF nie aangevat word in hof, dat hulle alle onkostes van skade moet dek van brande nie? Daar is mos bewyse dat lede instruksie gekry het van hul leier om dit te doen.

PieterP ·

Ek sien, ek verstaan maar ek is nie beïndruk nie… Niks het gebeur nie en steeds sal dit so aangaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.