Plaasmoorde: DA, VF Plus vaar uit; ANC, EFF sê daar is geen wit volksmoord

Foto: AfriForum

Al veertien politieke partye in die parlement het Dinsdag tydens ’n debat plaasmoorde en -aanvalle veroordeel, hoewel die invalshoeke waaruit hulle dit gedoen het, drasties verskil het.

Die DA se Dianne Kohler Barnard het die debat aangevra en ingelei met besonderhede oor die brutaliteit van plaasaanvalle, die groot aantal aanvalle wat plaasvind en die regering se gebrek aan optrede om dit te bekamp.

Die DA hou boek van elke stuk haatspraak op sosiale media rakende ’n plaasaanval en het ’n paar maande gelede begin om kriminele klagte van haatspraak teen elkeen daarvan in te dien, ook wat hierdie naweek se moorde op die Rafferty-egpaar buite Normandien naby Newcastle, en die doodskiet van hul hond, betref.

“Op sosiale media het mense die volgende geskryf: ‘Goed so’. ’n Ander het geskryf ‘Goed so, maar ek voel jammer vir die hond’ en ’n derde ‘Gronddiewe se verdiende loon’.

“So, Commissar Ngubane, P. Phoenix en Lungisani Simayile, ek het jul haatgevulde boodskappe omgesit in kriminele aanklagte. Julle is aangekla. Maak solank gereed om gearresteer te word,” het Kohler Barnard gesê.

Haar DA-kollega, Okkie Terblanche, het gesê die regering se landelike veiligheidsplan is gedoem tot mislukking solank as wat landelike polisiestasies ’n gebrek aan werkende voertuie en speurders het. Buitendien is die prioriteite van die polisie eerder by die oordadig baie bestuurslede in kantore as by voete op die grond.

Terblanche het gevra dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word, en dat die polisie meer doen om gemeenskapsvertroue terug te wen. Die derde DA-spreker, Thandeka Mbabama, het in Xhosa die EFF uitgetrap soos in die ou dae en gesê hulle behoort hulle te skaam oor hul rassisme. Sy het hulle daaraan herinner dat dit ’n sonde is om enigiemand dood te maak.

Vir die ANC het hul LP, Mandla Mandela, gesê alle moorde moet veroordeel word, want alle lewens maak saak. Hy het gesê die polisie moet alle skuldiges aan die man bring, en dat die ANC elke plaasaanval ten sterkste veroordeel.

Volgens Mandela moet ongelykhede ook hanteer word en is dit betreurenswaardig dat soveel plaaswerkers van grond afgesit word. Mandela se stellings is beklemtoon en grootliks herbevestig deur die ANC-LP Tina Joemat-Pettersson en die adjunkminister van landbou, Mcebisi Skwatsha, wat bygevoeg het dat “onverantwoordelike en onwaar bewerings van ’n wit volksmoord” gerus kan ophou.

Ook Constance Mkhonto (EFF) het gesê gerugte van ’n wit volksmoord is ’n mite wat versprei word deur mense wat wit lewens belangriker as swart lewens ag. Sy sê die EFF veroordeel alle misdaad en alle landelike misdaad, insluitend die tans toenemende misdaad van veediefstal.

“ʼn Mens sal nooit weet hoeveel die verhouding tussen boere en plaaswerkers, en die behandeling van plaaswerkers, tot plaasmoorde bydra nie, maar nietemin sê ons in die EFF elke moord is ’n tragedie,” het Mkhonto opgemerk.

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het sy toespraak opgedra aan die oorlewendes van plaasmoorde, veral die vroue en kinders.

Hy het gesê in die verlede het alle politieke partye hulle ook al teen plaasmoorde uitgespreek, maar dit gaan voort – soos die verkragting van ’n ma voor haar 12-jarige dogter, en die gebruik van bore en strykysters om slagoffers van plaasaanvalle te martel.

“Dit brand nie net die slagoffer nie. Dit brand in die geheue van die kind,” het Groenewald uitgewys, en gevra vir ’n omvattende nuwe ondersoek na die redes vir plaasaanvalle en die metodes van plaasaanvallers, sodat plaasaanvalle voorkom kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Die skuldiges aan die man bring. Ongelukkig staan die regering nie eintlik daarvoor bekend dat hulle skuldiges vasvat nie maar eerder om geheime vergaderings te hou wat uitloop op vae voornemens om daadwerklik …. en …. te doen omtrent die dreigende en skokkende kwessie.

katerinadiekat

To the ANC and EFF: A slow motion genocide has the same effect as a quick Rwanda- style genocide. Literally the Only difference is that the first takes longer. To Constance Mkhonto: No. Talking about white genocide does not mean white lives are seen as the only important ones. And nothing is stopping you and all black citizens from holding the ANC government accountable for murders of black people. To the ANC: If you really condemn farm murders, Do something about it. At least let the rural communities bring back the commando system. And begin to understand this simple concept:… Lees meer »

Schalk

As mense mekaar se koppe al vir eeue inslaan dan is daar seker nie volksmoord nie. Dis seker normaal om dit aan almal te doen. Solank dit net nie ‘n caucasian is wat dit aan hulle doen nie dan spring blm op die karretjie.

Theo

Die EFF het werklik genoem dat dit die boere se skuld is dat hulle vermoor word… hierdie klomp mense is waarlik dwase! Hulle wil nie punt insien nie en kan nie verder as hulle neuse dink nie, maar wat kan ons verwag van klomp graad eens! oh ja ANC so julle sê alle lewens maak saak, dalk dit oordra aan julle minister van sport… klomp hipokriete! Dinge maak net saak vir hulle solank dit hulle naratief bevestig.

Cornelius

Dis die toepassing van die ANC se beleid van grond onteiening sonder vergoeding.