Plaasmoorde: Die motief agter die brutaliteit

plaashek-pexels

Foto: Pexels.

Kenners het dit eens, plaasaanvalle en -moorde is wreed en gewelddadig, maar hulle reken navorsing dui daarop dat die oorsake dalk om ander redes is wat wyd geglo word.

Daar bestaan reeds sedert die 1990’s bewerings en persepsies dat ʼn sinistere politieke motief agter die vlaag van plaasaanvalle en -moorde skuil. Daar is ook ʼn groeiende mening dat die soort aanvalle deel is van ʼn plan om boere van hulle plase af te dwing.

Maar is dit werklik die geval?

Dr. Johan Burger, ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het in 2013 ʼn omvattende artikel vir Africa Check saamgestel waarin daar onder meer 3 500 polisiedossiere, onderhoude met plaasaanvallers en -moordenaars agter die tralies van tronke en mondelinge en skriftelike voorleggings ontleed is.

Volgens die ontleding was ʼn politieke of rassemotief die dryfveer agter ʼn fraksie van die aanvalle. In die meeste gevalle (89,3%) was die primêre motief roof. Intimidasie was die dryfveer agter 7,1% van die aanvalle, ʼn politieke of rassemotief was glo vir 2% van die aanvalle die oorsaak en arbeidsverwantekwessies het in 1,6% van die gevalle aanleiding tot ʼn plaasaanval gegee.

Die navorsing het ook getoon dat plaasaanvalle baie eienskappe het wat ooreenstem met dié van huisrooftogte in stedelike gebiede. In die geval van ʼn huisroof én ʼn plaasaanval sal die rowers nie huiwer om hulle slagoffers te martel nie. Die groot verskil is dat plaasaanvallers meer tyd het om hulle misdryf te pleeg en veel minder kanse het om gevang of betrap te word.

Rudolph Zinn, professor verbonde aan Unisa se departement polisiepraktyk, het tien jaar gelede begin om navorsing te doen oor huisrowers se modus operandi. Hy het bevind die gemiddelde huisrower het ʼn lang geskiedenis van misdaad.

“Rowers is reeds sewe jaar by misdaad betrokke en het al minstens 103 ernstige misdrywe gepleeg voordat hulle vir die eerste keer gevang word.

“Baie van die huisrowers met wie ons onderhoude gevoer het, was ook al by plaasaanvalle betrokke. Rowers is gewelddadig van nature. Hulle het deurlopend aan ons erken dat hulle nie sal skroom om byvoorbeeld die manlike slagoffers te skiet nie, so verseker hulle die onmiddellike samewerking van die res van die mense,” het Zinn gesê.

Die rowers sien plase as maklike, sagte teikens. “Daar is baie minder onverwagte elemente en die aanvallers het beter beheer oor hulle omgewing. Daar is min tot geen kans dat hulle deur bure gesien kan word, of deur ʼn sekuriteitsfirma betrap gaan word, terwyl die reaksietyd ná ʼn noodgeval op ʼn plaas aansienlik stadiger is.

“Ons studies het dit duidelik getoon, hoe meer mense betrokke by die misdaad hoe groter is die kans vir aanranding. Die gemiddelde huisroof het vier aanvallers en ʼn plaasaanval het agt aanvallers. Die tydperk wat ʼn aanvaller binne ʼn huis deurbring, dra ook beduidend by tot die mate van hoe seer die slagoffers kry. ʼn Huisroof neem sowat tien minute en die kans vir sekondêre misdade is minder, maar op plase is die tyd veel langer en die kanse vir martelings en verkragtings raak dan groter.”

Hy sê daar word dikwels bespiegel dat plaasaanvalle gepleeg word uit weerwraak van ʼn voormalige werker, maar dit is in die minderheid van die gevalle so. “Ons navorsing het getoon dit is eintlik maar net in 5% van die gevalle die motief. By die meerderheid was die motief roof. Die aanvallers het binne-inligting oor kontant wat op die plaas gehou word of waardevolle items. Die aanvallers het ook inligting oor sekuriteit op die plaas, watter roetine gevolg word en waar waardevolle items in die huis is.

“Die plan is egter altyd om die aanval vinnig uit te voer en die grootste moontlike buit te maak.”

Burger beaam die brutaliteit van die soort aanvalle: “Die plaasaanvalle is gewelddadig en wreed. Die aanvallers het meer tyd om te doen wat hulle doen. Die wreedheid en die goed wat hierdie aanvallers teenoor hulle slagoffers kwytraak, is in ooreenstemming met die politieke retoriek van die dag. Daar is nie bewyse daarvoor dat politieke uitsprake van partye en organisasies plaasaanvalle en -moorde veroorsaak nie, maar dit kan ʼn rol speel,” het Burger gesê.

“By my bestaan daar geen twyfel dat daar plaasaanvalle is wat suiwer rasgedrewe is nie, maar om te sê alle plaasaanvalle en -moorde is rasgedrewe, sal onverantwoordelik wees,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

“Van die rowers gebruik dikwels dwelms om hulle moed te gee vir die misdaad. Tydens ʼn aanval is hulle skielik in ʼn magsposisie en hulle weet daar gaan nie vinnig hulp kom nie. Een aanvaller is gewoonlik die aanhitser wat uiters gewelddadig raak en die res behoorlik aansteek omdat hulle sien met watter geweld hy kan wegkom. Daar is ʼn baie groot sielkundige element agter die soort aanvalle.”

Cameron beskou dit as ʼn uiters sensitiewe onderwerp, maar noem dit ook as nog ʼn rede waarom alle plaasaanvalle nie ʼn politieke motief as primêre oorsaak kan hê nie: “Die meeste aanvalle in van die provinsies word nie eens deur Suid-Afrikaners gepleeg nie. Watter motief het ʼn Zimbabwiër of Mosambieker om sulke gruweldade pleeg? Is dit omdat hierdie mense reeds niks het om te verloor nie of is dit omdat hulle nie wettig in die land is nie en weet hulle gaan nie maklik gevang word nie? Ons moet ook kyk na grensbeheer en watter invloed dit op plaasaanvalle het.

“ʼn Mens moet eenvoudig met behulp van intelligensie-inligting na elke individuele aanval kyk en die data ontleed voordat ʼn motief vir ʼn plaasaanval of -moord bepaal kan word.”

** Nota: Die menings wat in die artikel uitgespreek word, weerspieël nie noodwendig die mening van Maroela Media se redaksie nie. Die artikel is deel van ‘n reeks artikels oor plaasmoorde. Die artikels het ten doel om bewustheid te skep en verskillende opinies weer te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

140 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dane

Dit is natuurlik rasaanvalle aangevuur deur politici. Hoekom sal jy ‘n ou tannie in ‘n rolstoel verkrag en haar met ‘n stomp voorwerp doodslaan as jy net wou roof? Sy sou jou nie eers kon keer of uitken nie. Hoekom sal jy mense met messe steek en BRAND met ‘n brandvlam, hulle voetsole afsny, ‘n man wat Parkinsons het vasbind en in ‘n dam gooi? Watter gedeelte van ROOF verstaan ek nie? Dit is mense wat niks kan doen aan hulle nie .. soms word NIKS eers gevat nie ….hoe kan die navorsing dui op ROOF? Mense is in DENIAL… Lees meer »

Andre

TWAK!!!

Anoniem

Ek is jammer maar ek weier om dit te glo……roof ? Die studie was net tot 2013….baie het verander sedert 2013.

Lou

Uit die wreedheid van die aanvalle en die gebrek aan reaksie van die regering, kan mens aflei dat daar ander motiewe is. Mens kan ook wonder of die navorsers werklik onbevooroordeel is. En hoekom bied hulle navorsing geen oplossings aan nie? Dit is net verontskuldigend van die aanvallers en regering. Hulle lees duidelik nie daagliks Maroela nie!

Uvonka

Die enigste rede: WANT HULLE KAN!!